My eie verjaardag is nie vir my ’n okkasie nie. Dis nie asof ek die oggend wakker word en ’n jaar ouer voel nie
Die ouerwordproses gebeur in elk geval langsaam – dit bekruip jou mos skelm en as jy op ’n dag in die spieël kyk met jou leesbril op, skrik jy vir die vreemde vrou wat vir jou kyk, want sy het plooie.
As ’n mens vir die 58ste keer aan jou geboortedag herinner word in die jaar 2018, is die tyd van verjaardagkaartjies lankal verby. Sosiale media maak dit moontlik vir vele mense om ’n wens van geluk aan jou te stuur. Só lui een van die mooi boodskappe op my Facebook Messenger: “Voordat die vloed van verjaardagwense jou tref, wil ek net gou hier inloer en vertel wat ek jou toewens: Mag geen hoogte of diepte, geen sukses of swaarkry wat vanjaar op jou mag wag, jou van die liefde skei nie. Mag jy verras word deur vele vars, nuutskeppende idees – dis my seënwens vir jou vanjaar.”
Dis ’n wonderlike wens wat ek graag saam met my gaan dra. Want die liefde kan jou deur die klim van berge en dale dra. As ’n mens liefhet en liefgehê word, maak dit swaarkry en lekkerkry soeter. Sonder liefde kan ’n mens se moeilike omstandighede jou oorweldig en jou mooi momente minder wees. Niemand van ons leef in ’n vakuum nie – ons kry sin uit die saamleef met ander mense. So, of dit nou liefde tussen jou en jou beminde, jou kinders, jou ouers, jou sibbe, jou vriende, jou kollegas is – liefde gee betekenis aan ons lewens – wel aan myne gewis.
So, hoewel ek nie my verjaardag met koek en kersies vier nie, maak dit tog ’n verskil aan die alledaagse as mense liefde betoon en vir jou laat weet hulle dink aan jou en wens jou goeie dinge toe vir jou nuwe lewensjaar. By implikasie is hulle bly jy is gebore. En dít is ’n gawe gevoel. Dalk jok ek as ek sê ek steur my nie aan my verjaardag nie. 57 24
Thomas Merton (1915–1968) het vele wyse woorde in sy leeftyd kwytgeraak, waarby ek aanklank vind. Hier is drie oor die liefde wat ek doelbewus in Engels aanhaal.
Love is our true destiny. We do not find the meaning of life by ourselves alone – we find it with another.
The beginning of love is the will to let those we love be perfectly themselves, the resolution not to twist them to fit our own image. If in loving them we do not love what they are, but only their potential likeness to ourselves, then we do not love them: we only love the reflection of ourselves we find in them. Uit No Man Is an Island
Love seeks one thing only: the good of the one loved. It leaves all the other secondary effects to take care of themselves. Love, therefore, is its own reward.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.