Teen dié tyd weet diegene wat hierdie blad lees, dat my pa 81 is en steeds werk. Dit inspireer my, want dit beteken ek kan nog minstens 25 jaar werk as ek gesond en sterk genoeg is. Maar kan ek?
Wel, ja, as ek iets vind wat ek kan doen ná 65, want volgens ons samelewing is dit die tydstip wanneer ek moet aftree. Dis ou nuus dat 50 die nuwe 30, 60 die nuwe 40 en 70 die nuwe 50 is. Die realiteit is gewoon dat mense nou ouer word as 100 jaar gelede. Tog is die neiging in my bedryf (en ander) om van “ou hout” ontslae te raak en jong mense vinnig in senior poste aan te stel. Dié mense is klaarblyklik beter bekend met die nuwe mediaplatforms.
Volgens mediamagnate is digitale media die antwoord vir die toekoms. Van hierdie mening verskil ek, maar dis ’n debat op sigself. Die punt van my argument is dat waardevolle kennis en ervaring saam met mense wat as “te oud vir die werk” beskou word, verlore gaan. Daardeur sê ek nie dat ouderdom en wysheid noodwendig sinoniem is nie, maar hoe langer ’n mens lewe, hoe meer ervaring het jy. As ek byvoorbeeld die werk wat ek nou doen, op 30 moes doen, sou ek dit gewis nie kon regkry soos nou nie.
Ek het op 30 nog nie besef dat ek nie al die antwoorde het nie. Hoe ouer jy raak, hoe minder antwoorde het jy, want jy het uit ervaring geleer dat daar nie net een antwoord is nie en dat die lewe grys en nie swart en wit is nie. Dit is vir my verblydend om op bl 14 te lees van mense wat op 80, 90 en 100 nog werk én dit geniet én dit goed doen! ’n Paar weke gelede kuier my geliefde se oudste dogter uit Engeland by ons en oor ’n glasie wyn gesels ek en sy oor dinge hier op eie bodem en daar op die nat eiland. Groot is my verbasing toe sy my vertel dat 65 in Engeland ook die aftree-ouderdom is, maar die staat kan jou nie verplig om dan af te tree nie. As jy nog wil aanhou werk, staan dit jou vry.
Ek leer op die koop toe (’n mens is nooit te oud om te leer nie) ’n nuwe begrip, naamlik: “ageist”. Soos wat mense homofobies, rassisties en xenofobies kan wees, is dit eweneens nie aanvaarbaar in Engeland om “ageist” te wees nie. Met ander woorde, ouer mense mag nie uitgeskuif en as randfigure beskou word nie. Nie alles wat die Engelse doen, stem ek mee saam nie – die koning-koningin-storie steek my onder meer dwars in die krop – maar duidelik het die “penny” daar “gedrop” en besef dié samelewing dat mense in die 21ste eeu ouer word as in die 19de eeu en dat jy op 65 allermins oor die muur is en op die stoep wil sit.
Ek het geen twyfel dat alle mense nie soos ek dink nie en dat daar ’n menigte is wat nie ’n dag langer as 65 wil werk nie. Dis hul goeie reg. My argument is dat dit die individu se keuse moet wees en nie deur wetgewing afgedwing moet word nie. Ouer mense se ervaring en kennis kan nie in monetêre terme gemeet word nie en die waarde daarvan moet nooit onderskat word nie. Jonk en oud kan by mekaar leer. Net soos wat die senior generasie by die jongeres meer oor tegnologie, wat hulle bykans met moedersmelk ingekry het, kan leer, kan die opkomende jong talent by dié wat al deur die meule is, leer. Dis dus nie die een of die ander nie – of jy nou oud of jonk is, as jy ’n bydrae tot die samelewing kan en wil lewer, moet jy die kans kry. Of hoe?
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.