Dis weer die maand van die liefde en dis dié week Valentynsdag. Ek is nie ’n groot aanhanger van hierdie herdenking nie, maar oor die liefde is ek gaande.
In my lewe is daar liefdes aan die blom. My dogter en haar geliefde is druk besig met troureëlings en die opgewondenheid is groot. My seun, in ’n verre land, bel my sowat ’n maand gelede met die nuus dat hy sy geliefde gaan vra om saam met hom sy storie verder te skryf. Mooi is sy woorde aan my toe hy sê: “Sy is so ’n belangrike deel van my menswees, ek wil met ’n ring (al is dit net ’n ding) vir haar en die res van die wêreld sê: Met haar wil ek oud word.” Bykans 13 jaar gelede het ’n baie spesiale man in my lewe ingestap en niks was ooit weer dieselfde nie. Dit klink waarskynlik soetsappig, maar elke dag groei ons nader aan mekaar. Ewe mooi is my dogter se woorde aan my met die aanhoor van haar broer se nuus, toe sy sê sy hoop dat haar en haar broer se verhoudings met hul lewensmaats soos ons s’n net beter en dieper raak, want dit gebeur nie sommer nie.
Die beste verwoording wat ek nog oor die liefde tussen twee lewensmaats raakgelees het, kom uit Louis de Bernières se wonderlike storie, Captain Corelli’s Mandolin, waar dr Iannis met sy dogter, Pelagia, oor die liefde praat. Hy sê: “When you fall in love, it is a temporary madness. It erupts like an earthquake, and then it subsides. And when it subsides, you have to make a decision. You have to work out whether your roots are become so entwined together that it is inconceivable that you should ever part. Because this is what love is. Love is not breathlessness, it is not excitement, it is not the desire to mate every second of the day. It is not lying awake at night imagining that he is kissing every part of your body. No… don’t blush. I am telling you some truths. For that is just being in love; which any of us can convince ourselves we are. Love itself is what is left over, when being in love has burned away. Doesn’t sound very exciting, does it? But it is!”
Dis hoekom ek nie veel waarde aan Valentynsdag heg nie – vir my is elke dag Valentynsdag en ek wens dit my kinders toe. Want vir my is liefde nie eiendom, diamante of geskenke nie, dit is om myself te deel met die een in my lewe wat ek liefhet soos Pablo Neruda skryf: “I love you without knowing how, or when, or from where. I love you simply, without problems or pride: I love you in this way because I do not know any other way of loving but this, in which there is no I or you, so intimate that your hand upon my chest is my hand, so intimate that when I fall asleep your eyes close.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.