Niksdoen – dit is goed vir jou!”, is ’n artikel wat Donnay Torr vir mense soos ek nagevors en geskryf het
Niksdoen is vir my moeilik. Hoe is dit dat sommige mense makliker as ander niks kan doen nie? Is dit persoonlikheid, ’n ouer se voorbeeld, of Calvyn se stem in jou agterkop wat jou laat skuldig voel as jy nie besig is nie? Dis waarskynlik ’n kombinasie van ’n klomp faktore wat veroorsaak dat ek deurentyd die een of ander takie het wat ek wil doen.
Die probleem met mense soos ek is dat ons nie net ander mense moeg maak nie, maar ons put onsself uit. Mense is gewoontediere, hoe meer jy iets herhaaldelik doen, hoe meer outomaties raak dit deel van jou lyf sodat jy later nie meer daarsonder kan nie. Jy kry ontrekkingsimptome by gebrek daaraan. G’n wonder kenners verwys daarna as ’n verslawing nie. Ek-moet-besig-bly-verslawing kan wissel van ek moet elke dag oefen en daar mag nie ’n stoffie in die huis sigbaar wees nie, tot ek kan nie ’n naweek weggaan nie, want daar is te veel takies wat afgehandel moet word en as ek nie oortyd werk nie, is ek lui.
Verslawing koppel ons gewoonlik aan iets soos drank of dwelms. Ons weet dat dié verslawings uiters ongesond is. Tog sien ons “werkverslawing” maklik as ’n goeie eienskap en as jy self ’n verslaafde is, besef jy dalk nie hoe dit ook ’n negatiewe uitwerking op jou gesondheid kan hê nie. Mense wat byvoorbeeld ’n geliefde lewensmaat, familielid, vriend of kind het wat aan drank verslaaf is, sal jou uit ondervinding vertel dat praat nie help nie, die verslaafde moet self tot die besef kom. En om van so ’n verslawing los te kom, is nie maklik nie en dis iets waaraan jy konstant moet aandag gee.
So ’n ruk gelede sit ek by die kombuistafel saam met my geliefde en my dogter, wat vinnig ’n glas wyn by ons kom drink het. Ek luister na hulle, lewer insette, drink my wyn, maar is op en af van die tafel, besig om allerlei goetertjies te doen. Tot so ’n mate dat my dogter by my wil weet (effens geïrriteerd) of ek dan nooit kan stilsit nie. As ek dié vraag eerlik moet antwoord, sou ek moet sê: Nee. Donnay se artikel eggo my dogter se vraag aan my. En om eerlik te wees, dit maak my effens ongemaklik, want ek herken myself in dié artikel.
Gelukkig lees ek ook daarin dat niksdoen nie beteken jy sit en doen letterlik niks nie, maar blaai na bl 26 en lees hoe mense soos ek (dalk is jy ook een) kan oefen om net te wees. Tom Hodgkinson (google hom gerus) het die volgende wysheid oor hierdie onderwerp te sê: Being lazy does not mean that you do not create. In fact, lying around doing nothing is an important, nay crucial, part of the creative process. It is meaningless bustle that actually gets in the way of productivity. All we are really saying is give peace a chance.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.