Verlede week het ek na dinge verwys wat met ’n mens gebeur wat eintlik nietighede is en wat op ’n skaal van een tot tien blitsvinnig op nommer 10 registreer.
Maar ek het ook duidelik gesê ek praat nie van werklik ingrypende gebeure in die lewe waarmee ’n mens leer saamleef, maar waaroor jy nooit werklik kom nie.
Dis met afgryse wat ons vyf en ’n half jaar gelede gelees het hoe Kim Mc- Cusker etlike meters ver onder ’n taxi gesleep is. Kim het nou ’n boek geskryf oor hierdie verskriklike ding wat met haar gebeur het en hoe dit haar lewe en haar geliefdes se lewens handomkeer verander het. Maryke Roberts gesels in hierdie week se uitgawe met haar.
Daar is talle gesegdes oor teëspoed. Van hulle mag dalk iets beteken met verloop van tyd ná iets afgrysliks met jou gebeur het. Maar ek sou sowaar onderstebo teen die plafon geklopdans het as enigiemand vir my gesê het dat teëspoed ’n mens laat groei nadat ek bykans deur ’n taxibestuurder se minagting vir mense se lewens vernietig is. Die verkeerde boodskap op die verkeerde tyd. Dan groei ek liewer nie, dankie! Daar is egter nog ’n gesegde: “Die lewe is wat gebeur terwyl jy ander planne maak”, wat waarskynlik die lewe in ’n neutedop saamvat. Niemand se lewe verloop sonder teëspoed nie.
Ek wens dit het, maar helaas is dit nie die geval nie. Slegte goed gebeur met ons almal en swaarkry is net so deel van die lewe as wat voorspoed is. Die ding is net dit: Party mense kry wraggies groter teëspoed as ander. Dis hul swaarkry wat die skaal breek en in die honderde registreer. Dis mense soos Kim wat my laat besef dat wanneer teëspoed jou platslaan, jou keuses gewis nie legio is nie. Jy kan basies bly lê of jy kan opstaan. Dis dit.
Om te lees hoe Kim geleer het om met haar teëspoed saam te leef, is vir my bewonderenswaardig en ek wonder hoe ek sou reageer het as dit ek was. Dalk is haar storie net weer vir my bevestiging dat ’n mens sowaar elke oomblik van die lewe moet leef, want jy weet gewoon nie wat op jou pad gaan gebeur nie. Gelukkig is daar nie net teëspoed op ons paaie nie – daar is ook hope voorspoed. Dit laat my dink aan my pa se wense aan my met die aanbreek van 2017. Wense wat ek ons almal in voorspoed, maar ook in teëspoed toewens: “Mag jy heeljaar uit jou piering drink omdat jou beker oorloop.”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.