Dié tyd van die jaar speel Jingle Bells in alle winkelsentrums, flikker liggies waar jy kyk en koop mense geskenke vir ’n vale. Nie alle mense in die wêreld voel dieselfde oor hierdie tyd van die jaar nie, daarvoor is die mensdom te divers.
Deur Eldaleen Hugo
So vier sommige mense Kersfees, ander gedenk dié dag, ander is bloot deel van die feestelike atmosfeer en heg nie ’n bepaalde waarde of sentiment daaraan nie, en vir ander is dit net nog ’n datum op die kalender. Wat meer is, mense bring dié dag oral verskillend deur en nie oral op dieselfde dag nie. Kersfees val nie in alle wêrelddele op dieselfde dag nie. Die Juliaanse kalender is in 45 vC (of 45 VHE soos deesdae gebruik word) deur Julius Ceasar in gebruik gestel.
Dié kalender is in 1582 met die Gregoriaanse kalender deur Pous Gregorius XIII vervang en staan as die Westerse kalender bekend. Ortodokse kerke gedenk Kersdag op of ná aan 7 Januarie en nié op 25 Desember nie, aangesien hulle dié dag volgens die Juliaanse kalender bepaal. Of ’n mense nou Kersfees gedenk al dan nie en op watter datum jy dit ook al sou vier en hoe jy dit doen, ons kan nie ontken dat die wêreld so ’n klein bietjie stilstaan in hierdie tydperk nie. Dis asof mense hul verskille, vetes en gevegte op ys plaas.
Dit laat my dink aan die gebeure aan die begin van die Eerste Wêreldoorlog, wat vandag as die Kersfeeswapenstilstand bekend staan. In die week net voor Kersfees en op die aand van 24 Desember en die dag van 25 Desember 1914 het ’n groot gros soldate aan die Westerse front nie-amptelik die wapens tydelik neergelê. Franse, Britse en Duitse soldate het uit hul loopgrawe geklouter en oor en weer gevangenes, gesneuwelde kamerade, goeie wense, kos en klein geskenkies uitgeruil en gesprekke met mekaar gevoer.
In die koue winterweer en onmenslike omstandighede het mense na mekaar uitgereik ten spyte van verskillende kulture, gelowe en oortuigings. Van die mooiste oomblikke in hierdie tyd is vyandige soldate wat saam in spanne sokker speel. Hierdie gebeure word gesien as ’n simboliese oomblik van vrede en menslikheid in ’n uiters gewelddadige hoofstuk van die mensdom. ’n Mens sou hoop ons leer lesse uit ons foute en ervaring, maar helaas, ons doen dit nie.
Hoe anders verklaar ’n mens dit dat ons 102 jaar ná hierdie gebeure van Kersfees 1914 steeds oorlog maak? Daar is ’n bekende liedjie, wat begin met: All I want for Christmas is … En ons almal het al gesien hoe finaliste in skoonheidskompetisies of in flieks oor dié kompetisies, die vraag: “What is your biggest wish?” beantwoord met: “World peace”. Dan giggel ons so effens verleë vir hul part en rol ons oë. Hierdie jaar sê ek egter skaamteloos: My grootste wens en al wat ek hierdie Kersfees wil hê, is: vrede op hierdie aarde vir alle mense, oor alle mensgemaakte grense heen.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.