Ek lees onlangs die volgende raak: “Daar is net 940 Saterdae tussen jou kinders se geboorte en die dag wanneer hulle klaar is met skool.”
Dit beteken as jou kind vanjaar vir die eerste keer skool toe gaan, is daar net sowat 630 Saterdae tot dan oor. Doen ek dié som, besef ek net weer eens hoe kort die lewe is en hoe kosbaaar elke oomblik is – veral as ek terugdink aan my eerste skooldag 51 jaar gelede en besef dis net sowat 2 650 Saterdae gelede.
Hester van der Merwe Ek onthou die eerste dag in Valhalla-laerskool. My oorlede moeder was saam met my. Wat ek goed kan onthou, is dat ek haar gevra het wanneer sy nou loop. Ek is mos nou in die skool. Dit was heerlike dae.
Elmarie Gerber Ek onthou tannie Daleen het vir my en Marielize skool toe gevat. My ma kon my nie vat nie. Ek onthou ek was by juffrou Kriek en sy het ons baie welkom laat voel. Dit was in 1975. Loer op bl 16 na wat bekendes onthou Ons lesers dink terug
Emmie Moolman Dis amper 70 jaar gelede, al wat ek ontdou, is my rooi-en-wit geruite rokkie en dat ek aan my ousus vasgeklou het!
Rita van den Berg Ek het vir die hele eerste week by my broer in sy standerdvyfklas gaan sit. My onderwyseres moes my daar gaan haal.
Alta Walter Ek onthou die mooi juffrou Visser.
Madelain Uys In 1977 het my oorlede pa my op die eerste dag skool toe gevat. Ek onthou dit was ’n reënerige dag en ons het almal in Laerskool Danie Malan se skoolsaal op stoele gesit, met my sakdoekie met die blou blommetjie wat ek en my oorlede ma net die vorige dag gekoop het. Ek dink dit was die eerste en laaste keer wat my pa by die skool was.
Hester van Wyk O ja, dit was in 1958 en ek het my groot glaspot gom stukkend laat val!
Monique Janse van Vuuren My skoolrok het te groot gelyk; ek het nie gehuil nie, maar my ma het.
Annette Herselman Dit was 61 jaar terug en ek het vreeslik gehuil.
Mary Bailey Barsby Ek was maar vyf en my pa het die skool oortuig ek is slim genoeg. Ek het daardie Oktober eers ses geword. Ek was al die jare die baba in die klas. Dit was 69 jaar gelede.
Anna-Marie Venter Ek sal dit nooit vergeet nie! Dit was 1967 en ek het so gehuil en aan my ma vasgeklou, want ek was oortuig sy gaan my daar los tot ek in standerd ses is! Die volgende dag was ek op die voorblad van die plaaslike koerant in Tzaneen met ’n foto waar ek aan my ma vasklou en glimlag met die byskrif: “Wie sou kon dink dat klein Anna-Marie ná al die trane ooit weer sou glimlag!”
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.