In ons 15 Augustus-uitgawe het ons ’n artikel geplaas oor inkleurboeke vir volwassenes. Dit is iets wat ek gedink het ver in my verlede lê, maar ek’s lus en kry vir my só ’n inkleurboek. Ek was hoeka mal oor inkleur.
Eldaleen Hugo
Ons besef te min die terapeutiese waarde van sulke aktiwiteite. Ons word mos groot en doen wat grootmense veronderstel is om te doen. Dié week is dit ’n storie van grootmense wat sandkastele bou – jip, in ’n sandput (bl 24).
Dit laat my dink aan ’n kunsvorm, mandala-sandverf, wat baie bekend in die Boeddhisme is. Die Tibettaanse lamas is veral hiervoor bekend. Ek verwys na dié gebruik, omdat ek dink die simboliek van dié ritueel iets is waarby enige mens, ongeag sy of haar geloof, iets kan leer.
Kortliks kom dit daarop neer dat miljoene korreltjies sand met presisie en geduld op ’n platform geplaas word om die buitelyne van ’n patroon te vorm. Lae verskillende kleure sand word dan met dieselfde presisie en geduld oor dae, selfs weke, in ’n metaaltregter gegooi, wat met ’n metaalstafie getik word om letterlik met die sand te “verf”. Die sand stroom soos ’n vloeistof uit die tregtertuit en wonderskone kunswerke kry só gestalte. En hier is die punt van my storie: Die tradisionele gebruik is om hierdie werke kort ná voltooiing te vernietig. Dit word gedoen as ’n metafoor van die verganklikheid en kortstondigheid van die lewe.
Hoe dikwels bly ons nie aan goeters en besittings vasklou nie? Ons maak bymekaar, spaar om nog te koop en reis meestal baie swaar deur die lewe. Om ligter te reis, is dalk die antwoord op baie van ons kwellings, probleme, ontnugterings, spanning en teleurstellings. Want niks van dit wat ons bagasie so swaar maak, is permanent nie.
’n Vriend het eendag iets kwytgeraak waaraan ek telkens dink, veral as ek iets moois koop wat maklik breekbaar is. Hy’t gesê as jy iets koop “… consider it broken.” Wyse woorde. Ons raak ontsteld as iets kosbaars breek, maar as jy van meet af aan weet dat dit kan breek, is dit nie so dramaties nie. Dit plaas dinge in perspektief. Dalk is dit een van vele dinge wat ons by die Tibettaanse lamas kan leer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.