So ’n week of wat gelede beland daar ’n boek op my lessenaar: The Twinkling of an Eye – A mother’s Journey deur Sue Brown. Sue se boek vertel van haar reis saam met haar seun, Craig – ’n reis wat geen ouer wil meemaak nie …
Die 12-jarige Craig Brown is op Oujaarsaand 2010 met ’n breingewas gediagnoseer. Tensy jy ’n soortgelyke pad geloop het, kan ’n mens jou slegs probeer indink in die situasie. Dis ouers se grootste vrees – dat iets só verskrikliks met hul kinders gebeur. Dikwels word dié soort boeke deur ’n spookskrywer geskryf, omdat nie almal skrywers is nie. Hoewel Sue ’n fisioterapeut en nie ’n skrywer is nie, het sy die gebeure en haar gevoelens deur die hele proses neergeskryf – as deel van haar poging om dit te verwerk.
Hierdie skrywes is die basis van die boek. Sy mag maar skryf. Dis eenvoudig lieflik gedoen en dit voel asof jy haar en Craig (en haar man, Neil, en hul dogter, Meg) persoonlik ken as jy die laaste woord gelees het. Ek het die boek een aand begin lees en halfpad opgehou omdat dit toe al twee-uur die oggend was en terstond die volgende middag ná werk die laaste helfte gelees. Ek het kliphard gehuil – van daai snikhuile wat jou keel seermaak. In haar nota voor in die boek, skryf Sue:
“In relating those events that left me hurting more than I already was, I have found myself recalling times in my personal life – and career as a physiotherapist – of which I am not proud. Times when, immature and insensitive, I was not the person another needed me to be. I could easlily be the villain in their story. In the words of Irish writer CS Lewis, ‘Experience: that most brutal teachers. But you learn, my God you learn.’”
Sy skryf ook onder meer: “I found myself, in the devastating emotional aftermath of Craig’s death, reading any and every book I could find in which others had chronicled their losses. In each I would find some words, some vein of commonality, that explained to me what I was feeling. My own loss began to find a context within the underworld of suffering that I realised lies beneath the surface of so many people as they go about seemingly everday lives.
“In time I began to find my own words, plumbing with them the depths of my own experience, and thereby repatterning my brain to the altered reality of my life. In this sense, the writing of this book has been profoundly healing.” Op die laaste bladsy van haar skrywe sê sy: “Craig’s life and death have deepened me as a human being – and with that my capacity to accept what I cannot see, control or understand. I am content with the glimmers of wonder that I see in creation, and the truths that resonate across the ages in great, inspired writings and poetry.”
Hierdie boek gaan vir ouers wie se kinders terminaal siek is, of dié wie se kinders reeds gesterf het, gewis in hul onvoorstelbare smart help. Maar dis nie net dié ouers wat die boek moet lees nie. Elke ouer behoort dit te lees. Dis pynlik, teer, rou, menslik, snaaks, hartseer en eerlik geskryf, maar as jy die boek neersit en klaar gehuil het, het jy nie ’n gevoel van wanhoop nie en op ’n manier maak dit jou minder bang vir wat sou kon gebeur.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.