Dit klink dalk oordrewe, maar ek is oortuig dat ’n bedreiging van enige vroue se regte ’n bedreiging van alle vroue se regte oraloor is
Vrouedag in 2019 behoort ’n dag te wees wat ons eintlik nie meer hoef te vier nie. In die 21ste eeu behoort alle mense mos ewe waardig te wees. Nieteenstaande die spronge wat die afgelope 2 000 jaar gemaak is, lyk dit vir my ons gaan dié dag inderdaad nog lank onder sekere mense se aandag moet bring. Soms voel dit vir my dié mense het in die Middeleeue of nog vroeër vasgehaak as hulle hul denke verwoord.
Ek klink al soos ’n plaat wat vashaak wanneer ek weer eens verwys na die mense in die Skandinawiese lande wat ander lande (soos Amerika) ligjare vooruit is. Met ’n vrou soos Jacinda Ardern aan die spits van sake in Nieu-Seeland, is dié wêrelddeel ook ’n plek waar ek dink mens sou wou woon. Die nuus wat ek van dié lande en Ysland kry, klink soos gebeure in ’n moderne wêreld wat uit die verlede geleer het en inderdaad vooruitgang gemaak het. Sommige vroue doen ander vroue geen guns met dit wat hulle kwytraak nie. Selfs dié wat hulle in ’n tradisioneel “manswêreld” bevind.
Ek en my dogter ontmoet mekaar vroeër dié week ná werk vir ’n G&T in Melville. Sy was die hele dag by ’n internasionale konferensie in die finansiële veld en verstik bykans van ontsteltenis aan haar drankie toe sy my vertel wat een van die sprekers (’n vrou) sowaar op die podium as ’n “grappie” kwytraak: “… all women like gold …” Nee! Jy help nie, mevrou die direkteur van die een of ander groot maatskappy. Met daai vier woorde dra jy eiehandig by om in twee sekondes ongedaan te maak wat ander vroue oor die afgelope eeue, soms tot groot persoonlike ontbering, vir vroue gedoen het.
Iewers het ek as ma iets reg gedoen dat my dogter só reageer. Maar as ek langer daaroor nadink, besef ek dié ingesteldheid kom ’n langer pad … My ma sal en haar ma sou ook in hul G&T vir dié vrou se stupid opmerking stik. Dit klink dalk oordrewe, maar ek is oortuig dat ’n bedreiging van enige vroue se regte ’n bedreiging van alle vroue se regte oraloor is. Ek is die vroue voor my wat vir my regte geveg het ewig dankbaar – bekendes en onbekendes. Gelukkig is daar vroue (en mans) wat slimmer was en is en wat hulle te sê het, is sinvol.
Menseregte is vroueregte en vroueregte is menseregte – Hillary Clinton
Ons behoort nie vir die woord “ feminis” bang te wees nie. Mans en vroue behoort dit te gebruik om hulself te beskryf – Justin Trudeau
Ek is ’n voorstander van geslagsgelykheid, want dit moes nooit anders gewees het nie – Hugh Jackman
Ek praat nie vir myself nie, maar sodat diegene sonder ’n stem gehoor kan word. Diegene wat vir hul regte geveg het. Die reg om in vrede te leef. Die reg om met waardigheid behandel te word. Die reg tot gelyke geleenthede. Die reg tot onderrig – Malala Yousafzai
In die toekoms gaan daar nie vroueleiers wees nie. Daar gaan net leiers wees – Sheryl Sandberg
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.