Die liefde en band tussen ‘n ouer en ‘n kind is vir my een van die mees fassinerende emosies en manifesteer dikwels in besondere mooi oomblikke.
Die liefde en band tussen ’n ouer en ’n kind is vir my een van die mees fassinerende emosies en manifesteer dikwels in besondere mooi oomblikke.
So staan ek ’n tyd gelede op die Sandton-stasie en wag vir die trein na OR Tambo-lughawe. Voor my staan twee pragtige kindertjies saam met hul ouers. Albei kinders het hul pa se bos swart krulhare geërf. Hulle is uiters spraaksaam en hul klein handjies is styf in hul pa en ma se hande toegevou. Die vrae hou nie op nie. Dit wissel van: “Hoekom mag ons nie nader aan die spoor staan nie?” tot “Hoekom is daar sulke groot skilderye op die muur?” as hulle die reuse-advertensieborde beskou. Met groot geduld word elke vraag beantwoord, maar dis duidelik dat die ouers daarop bedag is om nie die kinders se hande ’n oomblik te los nie, want uit ervaring weet hulle dat kinders soos blits iets impulsiefs kan doen en om langs ’n treinspoor op ’n aankomende trein te wag moet jy van die gevare bewus wees. Skielik sien die kleinste een van die twee hoe donker dit is as sy ver in die tonnel inkyk. Sy verbaliseer haar vrees aan haar pa, knyp haar oë summier styf toe en net om seker te maak dit wat haar bangmaak verdwyn heeltemal, druk sy haar een handjie voor haar oë. Haar pa sien die gebaar, tel haar beskermend op en stel haar gerus.
Die band wat kinders met hul ouers het, bly ’n onverstaanbare fenomeen en kan nie gebreek word nie. Nie eers die dood van ’n ouer kan dit regkry nie. Francois Henning, oftewel Snotkop, praat in die artikel “Rebel met ’n doel” met verlange van sy pa wat onlangs oorlede is. Hy sê: “Ek en my pa was baie close … [N]iks is belangriker as die liefde nie … Ons is hier om vir mekaar te sorg en mekaar te ondersteun … My ma is ’n ongelooflike vrou – oopkop, sterk, ’n inspirasie en ’n voorbeeld van onvoorwaardelike liefde.” Dis duidelik dat die jongman veilig is sy ouerhuis was en dat hul ondersteuning vir hom baie beteken het en steeds beteken.
Maar ek lees ook in “Agter die satyngordyn” van ’n vrou wat as 16-jarige jongmeisie van die huis weggeloop het, omdat sy bang was. Die tonnel in haar wêreld was so donker dat sy nie lig gesien het nie en moes vlug. Sy’t gevlug van ’n omgewing waar sy geborge moes voel, maar haar ma was as gevolg van moeilike omstandighede nie in staat om haar hand vas te hou en te beskerm nie. Tog het die jongmeisie in die nuwe donker tonnel waar sy haar bevind het, dag en nag gebid … vir haar ma, want dis ’n band wat nie gebreek kan word nie, maak nie saak wat gebeur nie. En ek lees verder hoe daar in die wêreld van prostitusie vroue is wat dié werk doen om hul kinders of ’n sieklike ma te versorg, want “[H]ul lief en leed is soos enige ander mens s’n …”
Dit laat my met ’n kwelvraag oor die artikel “Babas, vroeg of later?”. Is die kardinale vraag voor ’n mens die besluit neem nie eerder: “Is jy opgewasse vir die taak van ouerskap?” nie. Dit is nie maklik om kinders groot te maak nie en dis die grootste verantwoordelikheid wat jy ooit sal hê. Jou optrede gaan jou kind se lewe beïnvloed en jy moet seker maak dat jy jou kind se hand in ’n donker tonnel sal kan vashou en hom of haar sal beskerm. Die lewe het baie donker tonnels en soms maak dit selfs ouers so bang dat dit hulle verlam en hulle nie in staat is om hul kinders se hande toe te vou nie.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.