Die meeste mense wat ek ken, is trots op hul uniekheid. Tog kan ons nie ontken dat ons, ten spyte van ons eiesoortigheid, nie in isolasie kan leef nie.
Die meeste mense wat ek ken, is trots op hul uniekheid. Tog kan ons nie ontken dat ons, ten spyte van ons eiesoortigheid, nie in isolasie kan leef nie. Ons is net regtig mens in ons interaksie met ander, of dit nou in ’n werks-, gesins-, familie- of vriendskapsverband is. Dis vir my opvallend dat ’n paar van dié week se artikels menswees binne kleiner en groter sosiale kringe aanraak.
Dalk brand jy om jou kind se dagboek te lees om uit te vind wat in haar of sy kop aangaan (of dalk wroeg jy juis omdat jy dit gelees het!). Of die reuk van gesigpoeier vat jou ook summier terug na jou ouers se kamer waar jy as vyfjarige in jou ma se spykerhakkies rondtrippel terwyl sy regmaak om saam met jou pa na ’n werksgeleentheid te gaan. Miskien voel jy as gevolg van jou seksuele oriëntasie geostraseer, veroordeel en verontreg of voel ’n dierbare vriend of familielid van jou só.
Die punt is, ons wil almal geliefd voel, aanvaar word en deel van ’n gesin, familie, vriendekring of groter gemeenskap wees, ongeag ons eiesoortigheid. En dis nie altyd so maklik nie, want mense se persoonlikhede bots, omstandighede maak dit moeilik of ander se ideologieë en waardestelsels strook nie met ons s’n nie. Soms kan dit voel die lewe is meer van ’n gesukkel as ’n genot en die struikelblokke net te veel en te groot om te oorkom.
Die interessante is, dit was van die begin van ons ontstaan die geval. Dit het ek net weer eens besef toe ek onlangs na ’n briljante dokumentêre DVD van die BBC gekyk het. Inside the Human Body vat jou presies daarheen – binne-in ons lywe. Dis dan wanneer jy verstaan dat jy inderdaad uniek en spesiaal is – eintlik ’n jolly wonderwerk. Maar moenie dink dit
was of is ’n proses sonder struikelblokke nie – aikona!
wys die kyker presies hoe ingewikkeld elkeen van ons se menswording was. Van ’n gemiddelde 250 miljoen spermselle is dit net enetjie wat die reis, met menige struikelblok in die pad, suksesvol afgelê het om uiteindelik met fenomenale presisie een spesifieke eiersel te bereik. Die manjifieke proses wat plaasvind om te verseker dat ander spermselle nie ook deel van die bevrugtingsproses word nie, is, om die minste te sê, verbysterend. Die daaropvolgende selverdeling en verdere ontwikkeling van die unieke jy laat jou gewoon sprakeloos van verwondering.
Inside the Human Body
Nog ’n interessantheid: Ons weet dat elke vrou met al die eierselle wat sy in haar leeftyd sal hê, gebore word. In effek beteken dit die eiersel wat jou gemaak het, was reeds aanwesig toe jou ouma met jou ma swanger was. Dit beteken ’n deel van my was reeds voor my ma se geboorte rustig besig om vir ’n groot dag baie jare later te wag. Ek is dus nie net 51 jaar oud nie, maar ’n deel van my is reeds amper 76 jaar oud!
Dit laat my dink dat ons almal tot soveel meer in staat is as wat ons dink. Ons was immers elkeen ’n wennerspermsel wat ’n moeilike reis suksesvol afgelê het tot by daardie een spesiaal voorbereide eiersel. Dit het perfekte tydsberekening geverg, ons moes ’n hengse klomp struikelblokke oorwin en belangrikste van alles: Was dit twee ander selle of selfs net ’n ander sperm- of eiersel, was jy nie jy nie en ek nie ek nie.
Maar dit beteken ons moet geduldig wees en die regte oomblik afwag. En as die oomblik aanbreek, moet ons nie weifel of vir struikelblokke skrik nie, want doen ons dit, mis ons die geleentheid om ons eie wonderlike reis tot unieke menswees te ervaar en vervul.
As ’n mens verder nadink oor wat die wonderwerk van menswording en menswees regtig behels, gaan ons straks ook nie ons medemens so maklik veroordeel nie, maar hulle eerder in verwondering as uniek en spesiaal aanvaar.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.