Natuurrampe is gelykmakers. Of jy ryk of arm, mooi of minder mooi, in ‘n groot of ‘n klein huis woon, in ‘n duur Duitse motor of op ‘n fiets ry, almal is gelyk. Niemand het iets aards oor nie, dit maak nie saak wie of wat jy is nie. Almal is dan gestroop van dit wat ons as onmisbaar in ons alledaagse bestaan beskou en skielik is daar nie meer verbygaande en niksbeduidende reëls oor wat mag en wat mag nie.
Natuurrampe is gelykmakers. Of jy ryk of arm, mooi of minder mooi, in ’n groot of ’n klein huis woon, in ’n duur Duitse motor of op ’n fiets ry, almal is gelyk. Niemand het iets aards oor nie, dit maak nie saak wie of wat jy is nie. Almal is dan gestroop van dit wat ons as onmisbaar in ons alledaagse bestaan beskou en skielik is daar nie meer verbygaande en niksbeduidende reëls oor wat mag en wat mag nie. Dan gee jy nie om dat jou kind toe wel daai anker, vlinder of antieke skrif op sy arm laat tatoeëer het nie. En jou dogter se naeltjiering is die laaste ding waaroor jy jou bekommer. Die reëls wat die subkulture in ’n gemeenskap maak om reg van verkeerd te onderskei geld nie meer nie. En ’n mens wonder hoe belangrik dit nou eintlik was? Dat jy en jou geliefdes leef, is wat saak maak.
Geen mens kon onaangeraak gebly het met die kyk na beeldmateriaal en foto’s van die onlangse tsoenami in Japan nie. Om te sien hoe gemeenskappe voor jou oë deur ’n massa water doodeenvoudig platgevee word, is bykans surrealisties en iets wat jy in ’n grillerige rolprent sou verwag. Ek dink nie ’n mens kan jou eers begin indink hoe dit moet voel om midde-in so ’n totale katastrofe te wees nie.
Maar laat ons nou maar eerlik wees, terwyl ons met skok en afgryse gekyk het na dit wat daar gebeur het, het sommige van ons terselfdertyd in ons binneste en vir mekaar gesê dat dít ten minste nie sommer maklik hier aan die suidpunt van Afrika gaan gebeur nie – ons lê immers nie op ’n foutlyn in die aardkors nie. “Dan maar eerder ons eie probleme – ten minste kan ons nog hier van gevaar probeer weghardloop,” sê ons.
Dis nie in tye van oorvloed nie, maar eerder in tye van vloede en dergelike rampe waar ’n gemeenskap se ware kleur wys en as jy weer na die beeldmateriaal van die mense in Japan kyk, is daar iets van die mense in hierdie samelewing wat jou opval.
Tussen dood en rommel, pyn en chaos, is hulle nederige en respekvolle kopbuigings steeds deel van hul interaksie met mekaar, al lê die trane vlak in geskokte oë. Midde-in die chaos is daar steeds orde en dissipline. Nêrens sien jy tonele van mense wat die ramp oorleef het en nou onbeskaamd en onbeskaafd dit wat oorgebly het, plunder nie. Te midde van die onmenslike trauma, die verlies aan alle aardse besittings en die dood van geliefdes – in kort die uitwissing van alles wat deel van ’n alledaagse bestaan was – is daar iets wat die tsoenami nie kon wegspoel nie: hul integriteit en beskaafdheid.
En, vertel my pa my, dit is die fondamente waarmee dié land se mense, wat hy goed ken, binne drie jaar hul verwoeste aarde weer gaan opbou. Ek glo hom.
Maar ek wonder ook hoe sou die beeld van ons as Suid-Afrikaners vir die res van die wêreld lyk as ons samelewing deur ’n tsoenami getref en gelykgemaak is. Sou dit soos nou lyk? Nou, waar ons steier en weghardloop van ons eie tsoenami van geweld, misdaad en korrupsie? Waar verlies aan integriteit en dit wat ’n samelewing beskaafd maak, ’n golf van verwoesting in ons samelewing saai? Is ons in staat om binne drie jaar die effek van vernietiging om te swaai en iets daaruit op te bou?
Ek dink ons kan, maar soos in Japan, sal ons die probleem in die oë moet kyk en weet hoe ons gaan maak om die rommel wat die tsoenami met hom saamspoel, op te ruim. Ons kan begin deur die onderwys- en gesondheidstelsels reg te ruk, korrupsie in munisipaliteite uit te roei en slaggate in paaie reg te maak. Dan kan ons verder kyk en bou aan ’n land wat dalk nie op ’n foutlyn lê nie, maar te dikwels rampe oor homself bring.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.