Daar’s by my min twyfel dat dié week se artikel, “Reg of weg met die lat?†reaksie sal uitlok.
Daar’s by my min twyfel dat dié week se artikel, “Reg of weg met die lat?” reaksie sal uitlok. Noem die woord “lyfstraf” aan ’n tafel waar mense met uiteenlopende menings saamkuier en die partytjie is so te sê verby. Die meeste Suid-Afrikaners sukkel myns insiens in elk geval om ’n sinvolle argument te voer en oor dié tema is dit vir ons feitlik onmoontlik om te redeneer. Laat ons nou maar eerlik wees, van ’n debat is daar oor dié gelaaide onderwerp min sprake, daar’s net twee kampe: diegene wat daarteen is en diegene wat daarvoor is.
Ek onthou 33 jaar gelede se wiskundeklas in matriek soos gister. Die onderwyser, skaars sewe jaar ouer as ons, het ’n rooi rottang gehad waarmee hy hardebaardseuns in die klas “op hul plek gehou het” deur hulle uit te vat en voor die klasdeur “ses van die bestes” te gee. O, daar was baie redes daarvoor: swak toetspunte, ongedane huiswerk, hande in die broeksakke, of een van die doodsondes: hare wat aan ore geraak het! Die “belhamels” wat pouse skelm agter die fietsloods gerook het, is veral uitgesonder. Snaaks genoeg het dit hulle nie gehelp om beter in ’n toets te doen nie, hulle hare was altyd “te lank” en as hulle dit uit rebelsheid afgeskeer het, is hulle daaroor ook geslaan. Van gesprekke oor die gesondheidsrisiko’s van rook was daar nooit sprake nie, hulle is bloot gemoker om van dié sondige gewoonte ontslae te raak.
’n Paar maande gelede is ons in die wildtuin vir ’n wegbreek. In dié omgewing is dit selfs moontlik om onder die illusie te leef dat daar nie soveel geweld in ons land is nie. Op pad uit stop ons by ’n ruskamp om vir oulaas iets te drink voor ons huiswaarts keer. So met die uitklim is daar ’n gesin neffens ons wat ook uitklim en die jongste toevoeging van ’n paar maande oud in sy stootwaentjie sit. Sussie, ek skat haar so nege, irriteer vir Ma, wat nie ’n haartjie uit plek het nie, grensloos. Dié haak summier (en impulsief) af en looi vir Sussie, ook uitgevat met handsakkie en al, reg voor ons met die plathand op haar agterstewe. Sy’t nou wragtig genoeg van die kind se gekerm gehad. Met dieselfde hand waarmee sy haar oomblikke tevore verneder het, gryp sy die jong meisie se hand in hare en saam stap die gesin met manlief aan die stuur van Boeta se peperduur stootwaentjie restaurant toe.
Die ontluikende jong meisiekind byt op haar lip en probeer haar waardigheid van die parkeerterrein se oppervlak afskraap toe ek en sy oogkontak maak.
Dis sulke tye wat ek op my tong moet byt om die ma nie trompop te vertel wat ek van haar optrede dink nie. Dis nou as my ewe vurige dogter dit nie voor my sou doen nie. En my geliefde, wat weliswaar ’n beredeneerde argument kan voer, se nekhare sien ek letterlik rys van woede.
Dit laat my terugdink aan ’n voorval jare gelede by ’n verjaardagpartytjie van een van my kinders se maatjies. Een knapie, so ’n stewige klein bulletjie, wou nie sy gunstelingkarretjie met die res deel nie en ’n tengerige seuntjie wou opsluit met dié karretjie speel. Nodeloos om te sê, vierjarige seuntjies redeneer nie onder dié omstandighede nie, veral nie as hul 30-jarige mammas dit nie eers kan doen nie. Toe Bulletjie die tenger een op die kop bydam in reaksie op sy opponent wat die karretjie rats opgeraap het, het Bulletjie se ma blitsig tussenbeide getree om haar kind maniere te leer. Sy’t hom sommer net daar ’n goeie pak slae gegee en haar teregwysing met elke hou op sy boude beklemtoon: “A-nee-a-ons-slaan-nie-aan-maat-jies-nie!” En toe’t sy die woedende, skreeuende mannetjie probeer vertel “ons deel ons goed, my skat, hy sal jou karretjie weer teruggee”.
Nou vra ek jou: Het Bulletjie hoegenaamd iets van mededeelsaamheid geleer? Ek twyfel. Daarvoor het hy te hard geskree en was hy te verward, want hoekom mag hy nie as die “sterker” een met geweld aan die “swakker” een wys wie die mag in die hand het nie? Dis tog die voorbeeld wat hy kry en nou gee daardie voorbeeld vir hom ’n verwarrende boodskap en noem dit opvoeding. Terloops, hy’t bly weier om die karretjie te deel, maar die partytjie was eintlik vir almal verby, want daar was diegene wat gedink het Mamma was reg en diegene wat net so verward soos Bulletjie was.
Dit laat my net met vrae: Hoekom dink mense lyfstraf (op sigself ’n wrede woord) werk? As dit so suksesvol sou wees, moet dit mos ná die eerste pak slae die gewenste uitwerking hê en nooit weer gebeur nie? Hoekom is daar steeds ’n debat oor dié kwessie 33 jaar nadat ’n rooi rottang in ’n wiskundeklas nie respek kon afdwing nie, maar vrees ingeboesem het as gevolg van ’n onderwyser se sogenaamde posisie van mag? Hoekom vra ’n ouer aan ’n kind: “Wil jy ’n pak slae hê?” want ek moet nog die kind ontmoet wat “ja” op daardie simpel vraag antwoord.
Maar gelukkig het kinders nou die wet aan hul kant.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.