Ek het lankal reeds besluit om nie meer al die lesersbriewe in ’n bekende Afrikaanse koerant te lees nie. Die trant waarin sommige mense hul menings op dié gespreksforum lug, is gewoon vir my net te veel op my nugter maag
Ek het lankal reeds besluit om nie meer al die lesersbriewe in ’n bekende Afrikaanse koerant te lees nie. Die trant waarin sommige mense hul menings op dié gespreksforum lug, is gewoon vir my net te veel op my nugter maag.
Moet my nie verkeerd verstaan nie; ek ondersteun debat en het geen probleem daarmee dat mense van mekaar verskil en uiteenlopende menings oor aangeleenthede het nie. Dit, dink ek, is gesond en kan ’n mens oor jou eie siening van dinge laat nadink. Dit is egter die manier waarop dit gedoen word wat my teen die plafon wil laat klopdans! Afgesien daarvan dat die meeste van dié briewe “sweeping statements” sonder grondige en deurdagte argumente bevat, matig die skrywers van sodanige briewe hulle aan om diegene van wie hulle verskil te verneder, aan te val en te dreig. Die trant van dié briewe getuig beslis nie van emosionele volwassenheid nie.
Ek was dus nie verbaas nie (wel teleurgesteld) toe ek so paar weke gelede lesers van ’n ander Afrikaanse koerant se aanlyn-reaksies op Ruda Landman se uitspraak by die afgelope Clover Aardklop-fees lees. Ruda het dit gewaag om in die openbaar te sê dat sy nou keelvol is daarvoor dat sommige mense aanneem dat sy, net omdat sy wit is, deel van ’n groep mense met ’n rassistiese ingesteldheid uitmaak. Die manier waarop mense hul verskil van mening op dié webwerf uitgespreek het, was, om die minste te sê, skokkend en het bloot haar punt bevestig.
’n Paar maande gelede blaai ek deur ’n bekende Afrikaanse tydskrif en my oog val op die redakteur se brief. In sowat 300 woorde laat blyk sy dat sommige van hul lesers se reaksie op die plasing van ’n foto van ’n bekende persoon die vorige week haar ontstel het. Dis duidelik dat ook sy nie ’n probleem het met hul siening van die foto nie, maar wel met hoe hulle hul misnoeë te kenne gegee het. En interessant genoeg, merk sy op, is dit opvallend dat die meerderheid briewe, e-posse of telefoonoproepe van lesers kom wat ontevrede is. Die tevredenes laat min van hulle hoor.
So gesels ek en ’n paar vriende wat ook in die Afrikaanse media werksaam is, ’n tyd gelede oor dieselfde onderwerp: ontevrede lesers se reaksie. Elkeen om die tafel kan gevalle oproep van ongeskikte lesers wat hulle per e-pos, telefoonoproep of per brief aangeval en uitgeskel het. En elkeen deel my siening – die probleem lê nie daarin dat hulle ’n fout wat ingesluip het, ontken nie, dis ook nie dat hulle ’n ander sy of haar mening misgun nie – dit gaan oor die manier waarop dit gedoen word.
Ek het geen twyfel dat lesers Vrouekeur koop omdat hulle hou van dit wat hulle in ruil vir hul geld kry nie. Daarom neem ons ons werk, en lesers, ernstig op en verwelkom ek en my kollegas kommunikasie met lesers, want dit is ’n bewys dat hulle met die tydskrif identifiseer en boonop leer ons lesers só ken en verstaan, wat kardinaal is vir die saamstel van ’n tydskrif. Daarom poog ek om so ver as moontlik elke oproep, e-pos of brief persoonlik te beantwoord, ook dié enkeles uit die 75 000 lesers per week, wat ’n ander siening van kwessies het of ontevrede is. Maar ek het ook al onder die skerp tong van ontevrede lesers deurgeloop.
Ná een so telefoonoproep ’n week of wat gelede oor die verandering aan die blokraaie in Vrouekeur, was my gemoedstoestand nie getuienis van opgewondenheid nie. Met die lui van my telefoon kort daarna, het my moed in my skoene gesak toe ek hoor dis weer ’n leser. Haar vriendelike stem het my egter gou laat besef dat ek met ’n goedgemanierde mens te make het met wie ek ’n sinvolle gesprek kon voer. Ek kon dus aan haar verduidelik dat die verandering in die blokraaie nie ’n ondeurdagte besluit was nie.
Om aan die Wet op Verbruikersregte te voldoen (wat terloops ’n poging is om verbruikers te beskerm) en as gevolg van die logistiek daaraan verbonde, kan ons ongelukkig nie meer posinskrywings vir kompetisies (insluitende blokraaie) aanvaar nie. Dit is ’n besluit wat in oorleg met die regsafdeling en ander betrokkenes in Caxton-tydskrifte geneem is en is nie ’n besluit wat net Vrouekeur raak nie. Ons besef dat dit vir sommige lesers ’n aanpassing is, omdat nie almal van SMS’e gebruik wil maak nie en omdat die instelling van die geheime woord ’n klein verandering aan die blokraai bring. Die enigste alternatief sou egter wees om alle prysgeld en pryse uit die blokraaie te verwyder sodat dit bloot breinoefening en pret verskaf, maar ons bied graag aan lesers die geleentheid om ’n meevaller in die proses te kry.
My trant van die gesprek met laasgenoemde leser het my net weereens laat besef dat die manier waarop jy met ander mense in gesprek tree, getuienis is van goeie maniere of die gebrek daaraan. En goeie maniere is vir my sinoniem met beskaafdheid oor alle grense heen.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.