Vergaderings kan vir my soms ’n groot mors van tyd wees en myns insiens is dit te dikwels ’n platform vir mense om hul sogenaamde mag te vertoon.
Vergaderings kan vir my soms ’n groot mors van tyd wees en myns insiens is dit te dikwels ’n platform vir mense om hul sogenaamde mag te vertoon. Dis weliswaar ’n kuns om ’n vergadering sinvol te lei, veral in ’n werksomgewing waar korporatiewe jargon deesdae so maklik rondgegooi word.
In die lig van hierdie gevoel wat ek het, is ek dus uiters skepties oor sekere foefies wat in duur werkswinkels en bosberade gebruik word. In plaas van om ’n middel tot ’n doel te wees, word dit dikwels die doel. Ek is nou eenmaal nie een van die mense wat daarvan hou om met so ’n byeenkoms van kollegas byvoorbeeld ’n verskeidenheid hoedjies op my kop te sit en rolle te speel ten einde ons “swak” en “sterk” punte agter te kom nie. Ek hou gewoon nie van sulke simpel speletjies nie. Dit laat my dink aan kerkdienste waar daar by die aanvangs van die diens gesê word jy moet die mense langs, agter en voor jou hartlik groet – mense wat ek van geen Adamskant af ken nie en wat ek glad nie wíl groet nie. Vir my is dit eenvoudig pretensieus en aangeplak en laat my ongemaklik voel.
Maar ’n mens moenie altyd die kind met die badwater uitgooi nie, kom ek onlangs weer agter toe ek saam met ’n groepie kollegas in ’n vergadering sit. Die voorsitter is genadiglik ’n intelligente vrou vir wie ek baie tyd het en wat ook nie sin in ’n nuttelose vergadering sien nie en dit altyd kort en kragtig lei. Toe sy dus vir ons vra om ’n vraelys te voltooi, wil-wil ek begin benoud raak, want die doel daarvan is om te probeer vasstel watter soort persoonlikheid jy in ’n werksituasie openbaar. In die vraelys moet jy telkens kies tussen twee antwoorde waarmee jy die meeste identifiseer en aan die einde daarvan tel jy die verskillende kategorieë se simbole bymekaar om die resultaat van jou profiel te kry.
Ek moet sê ek was aangenaam verras met die oefening, want dit predik nie ’n absolute waarheid nie, dis bloot ’n riglyn om te probeer vasstel hoe mense in ’n werksituasie ten beste aangewend kan word en is ’n nuttige meganisme om te verstaan hoekom ons nie almal noodwendig dieselfde dink en optree nie. Jy voel ook nie asof jy deel van ’n Amerikaanse groepsessie by ’n sielkundige is en jou binnegoed voor vreemdelinge moet uitryg nie. Soos ons die resultate die een na die ander om die tafel met mekaar gedeel het, was dit vir my interessant om te besef dat my antwoorde nie noodwendig dié antwoord is nie. Nie twee van ons resultate het presies ooreengestem nie. Uiteraard was daar oorvleuelings, maar die uitkoms het ons individualiteit duidelik onderstreep. Dit het my ook weereens laat besef dat ’n mens versigtig moet wees om te dink dat jou manier van dink en doen in ’n werk- of persoonlike omgewing noodwendig die “regte” of enigste manier is. Ons is almal verskillend aanmekaargesit en geslyp en het almal op ons eie unieke manier ’n bydrae om te lewer.
Wat my uitbring by een van dié week se artikels “Ek gesels, daarom is ek”, wat handel oor dit wat vroue met mekaar deel as ons met mekaar gesels. Uit dit wat ek van mans weet (en ek kom al meer agter dis eintlik baie min), kry ek nie die idee dat hulle, soos ons, mekaar se wel en wee so gemaklik deel nie. Kristel Loots skryf in dié artikel: “Vroue lag en huil maklik saam en só word emosionele bande gesmee en vriendskappe gesluit wat soms lewenslank duur.” Die vroue saam met wie ek die grootste gedeelte van my dag deurbring, werk saam met my en glo my, ons weet van mekaar se geite, kwale, slapelose nagte, koorsige kinders en onderonsies met geliefdes. Ons ruil van resepte, hoofpynpille en boeke tot menings, raad, simpatie en drukkies uit. Ons luister na mekaar en leer mekaar ken en op persoonlike en professionele vlak verstaan. Kortom, ons gesprekke doen eintlik wat ’n vraelys doen: Dit gee binne ’n bepaalde groep begrip en waardering vir mekaar en onderstreep dat ons almal op ons unieke manier ’n bydrae het om te lewer. En dis wat ’n span ’n sukses maak: samewerking, met verskille.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.