Die aantal boere wat ek persoonlik ken, is net-net meer as wat ek op my een hand kan tel.
Die aantal boere wat ek persoonlik ken, is net-net meer as wat ek op my een hand kan tel. Daar’s drie pêlle op wynplase in die Boland, my kamermaat van universiteitsdae se wortels is op ’n sagtevrugteplaas in die Paarl, nog ’n vriendin kom van ’n plaas in die Sandveld en dan’s daar my vriendin van ’n lap grond uit die Overberg. Om dus ’n uitspraak oor boerdery in Suid-Afrika te gee, sou aanmatigend wees – ek weet te min.
Tog kan ek nie help om ’n benoude gevoel in my hart te kry as ek Louise Posthuma se artikel van dié week lees nie. Ek verlaat my op die feite wat sy nagevors het en dit skilder nie ’n rooskleurige prentjie nie. Die gerugte en dreigemente van politici en kwasi-politici oor grondonteiening, stel my gewis ook nie gerus nie. En die nare werklikheid is dat boere op plase inderdaad doodgemaak word. Dit lees ’n mens bykans daagliks in koerante.
Hoewel ek nie ’n boer in murg en been is nie, of opgewonde raak oor die reuk van grond wat geslagte lank reeds deel van my familie se bestaan is nie, kan ek nie ’n apatiese houding oor die kwessie inneem nie. My gesonde verstand sê vir my dat die kos wat gesaai, geplant, gekweek, gepluk, geoes, vertroetel, verpak, vervoer en op winkelrakke uitgestal word, gaan gewoon opraak as boere nie meer daar is om te doen wat boere doen nie. En ek weet om te boer, beteken nie jy druk, soos ek, ’n paar kruieplantjies in ’n pot en hoop dit hou die seisoen nie. Daar’s ’n wetenskap en jare se ondervinding wat agter suksesvolle boerdery lê. Trouens, jy kan ’n vierjaargraad aan ’n universiteit loop om ’n boer se skoene te kan vol staan. Jy moet dus weet wat jy doen.
Soos wat dit egter vir my lyk, is daar ’n paar mense in posisies wat nie weet wat hulle doen nie en van hulle dink dis ’n slim plan om plase aan mense te gee wat, soos ek, nie weet hoe om te boer nie. Dít maak my bang, want dit lyk vir my asof daar nie beplan word nie. Dis soos om ’n kredietkaart onverantwoordelik te gebruik. Glo my – dit haal jou in!
Net soos dit my bang en ook woedend maak as my vriendin uit die Overberg aan my vertel hoe haar ouers onlangs op hul plaas oorval, vasgebind en met die dood gedreig is, voor die vier rampokkers met haar broer, wat op die lande gewerk het, se bakkie die hasepad gekies het. Net om later die einste bakkie te rol en al bloeiend tronk toe te gaan. Nou’s dié vier se lewens in elk geval een groot gemors. Dis ’n rare gebeurtenis in dié kontrei, maar uiters ontstellend as jy statistiek van die toenemende getal boere en hul geliefdes wat koelbloedig op plase vermoor word, onder oë kry.
Dan is daar sowaar diegene in die mooie land van ons, wat dink dis gepas om ’n liedjie te sing wat onder dié omstandighede gewoon onaanvaarbaar is. Dit gee nie aanleiding tot harmonie en ’n gevoel van samehorigheid nie; inteendeel, dit polariseer net meer. Eenheid is juis wat ons in dié land nodig het. Van polarisasie het ons genoeg, dankie – daarvoor het ’n apartheidsera gesorg.
Beter as Abraham H de Vries kon ek dit nie gestel het nie. So ’n tyd gelede het hy in ’n koerant die kwessie omtrent die sogenaamde “skiet die boer”-liedjie op ’n nugter en intelligente manier uiteengesit. Die sleutelwoord vir hom is taalhandeling. Taal gee nie net inligting nie, taal reflekteer nie net nie – taal “doen”. Daarom is dit nutteloos om na die intensie of semantiese ontleding van die liedjie se woorde te soek. Taal handel binne ’n bepaalde konteks en die konteks waarin ons ons bevind, moet in ag geneem word. Regsgeleerdes moenie vra wat die intensie is nie – dít kan jy nie bepaal nie. Ons moet vra wat doen daai sinnetjie in ’n konteks waar geweld en doodslag ’n samelewing só geïnfiltreer het dat ’n lewe niks meer werd is nie – oor
ras-, kultuur-, geslags- en ouderdomsgrense heen.
In só ’n konteks is dié uitlating onverantwoordelik en gewoon dom. Ek wil wyse leiers hê. Dié soort wat weet dat mense wat nie kos het nie, tot uiterstes sal gaan om te oorleef. My pa sê altyd: Jou geld kan opraak, jou planne moet net nie opraak nie.
Ek is bevrees, as ons boere “opraak”, gaan ons kos opraak en as dít gebeur, gaan dit baie moeilik wees om ’n plan te maak. Dan is almal honger.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.