Eendag lank, lank gelede, was daar ‘n klein prinsie wat in ’n groot kasteel gewoon het.
Eendag lank, lank gelede, was daar ’n klein prinsie wat in ’n groot kasteel gewoon het. Die prinsie het ure lank in die kasteel se tuine gespeel en maats gemaak met van die onderdane in die koninkryk se kinders. Hulle het baie van die prins gehou, want sy ma het hom geleer dat hy nooit moes vergeet dat hy net ’n mens is en nie sy skatte en status moes misbruik nie. Die prinsie was gelukkig en tevrede. Toe skielik, op ’n dag, sterf sy ma. Sy hart was baie seer, want hy was baie lief vir haar en het gewens dat hy al sy skatte kon weggee om haar terug te bring.
Mettertyd het die prinsie geleer om sonder haar te leef, maar het haar nooit vergeet nie. Hy het haar in sy herinneringe met hom saamgedra, want dit kon niks of niemand van hom wegneem nie. Sy pa het later weer getrou en sy stiefma het in die kasteel kom woon. Dit was nie aldag vir hom maklik om iemand in sy ma se plek te sien nie, maar hy was ook lief vir sy pa en wou hom weer sien lag en gelukkig was sy nie ’n nare stiefma nie.
Só het die jare aangestap en op ’n dag het hy ’n pragtige jongmeisie raakgeloop. Sy was nie ’n prinses nie, maar hy het onthou dat sy ma altyd gesê het daar is dinge in die lewe wat belangriker as skatte en titels is. Hy en die meisie het verlief geraak en ná ’n lang tyd het hy haar gevra om met hom te trou. Hy wou sy lewe met iemand deel wat vir hom lief is. Sy het hom op goeie en slegte dae verstaan. Die hele koninkryk was in rep en roer en almal het na die groot dag uitgesien. Mense het van heinde en ver gekom om die troue by te woon. Dit was pragtig. Die klokke het gelui en almal het uitgehang om dit ’n luisterryke geleentheid te maak. Daar is tot laatnag feesgevier. Die prins was gelukkig en tevrede en toe hy en sy bruid die aand by die kasteel se venster na die sterre opkyk, het hy geweet, sy ma sou ook van sy prinses gehou het.
“Was dit nie mooi nie?” wou ek van almal in die kantoor weet toe ons ná die langnaweek terug op kantoor was. “Ek het sowaar nie gedink jy sou voor die TV vasgenael sit en na die troue kyk nie,” sê ’n verbaasde kollega. Ek neem haar nie kwalik nie, want sy ken eintlik net die ander sy van my. Tog moet ek erken, ek’s mal oor sprokies en het nie ’n oomblik my oë van prins William en Kate afgehaal toe hulle net minder as ’n maand gelede getrou het nie. Ek kon ook nie wag vir daai soen nie!
Al het ek my mond dikwels vol oor die sin van royalty en die onregverdige gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie, wil ek sê, soos ’n vriend van my geliefde op ’n keer kwytgeraak het: “Die lewe is te kort om konsekwent te wees.” Vir ’n paar uur kon ek van oorlog, armoede en korrupsie vergeet en net terugsit en ’n sprokie dophou. Man, selfs die queen het ’n traan weggepink en behalwe vir ’n hoed of twee wat soos groot pretzels gelyk het, was als vir my so mooi.
Ek het weliswaar gewens ons kon hier dieselfde orde hê, dat ons skares ook so opgevoed in die strate kon versamel en dat ons as ’n nasie saam oor iets opgewonde kon raak. Tog wonder ek of dit moontlik is, want die nuus dat ons president nog ’n keer voor die kansel gaan staan, hou net nie vir my dieselfde bekoring in as die sprokie van die prins en sy prinses nie. Nou verstaan jy waarskynlik hoekom my kollega so verbaas was dat ek van sprokies hou.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.