Daar het die afgelope 100 jaar baie goeie dinge gebeur, maar vir my is daar veral drie dinge wat my bly maak.
Daar het die afgelope 100 jaar baie goeie dinge gebeur, maar vir my is daar veral drie dinge wat my bly maak. Twee daarvan hou met mekaar verband: dit is die oorskryding van tradisionele rolle wat mans en vroue vervul.
’n Eeu gelede sou jy ver moes soek om ’n pa te kry wat sy kinders se doeke omruil, vandag is dit nie meer vreemd nie en dit tas gewis nie ’n pa se manlikheid aan as hy by sy kinders se lewe betrokke is nie, trouens dit is ’n uiters sjarmante eienskap.
Ek was so ’n tyd gelede by ’n sake-ete toe die kollega langs my ’n telefoonoproep kry en summier antwoord toe hy sien dit is sy een dogtertjie wat bel. Dit was mooi om te hoor hoe hy so ’n ent van die tafel af met haar praat en geduldig luister na ’n probleem wat sy nóú met hom moet bespreek. Wat vir my net so verblydend was, is die feit dat sy die vrymoedigheid gehad het om haar pa te bel in die wete dat hy omgee.
Enkelpa’s neem hul verantwoordelikhede as ouer net so ernstig as hul vroulike eweknieë op en dis goed om te lees met watter openlikheid en opregtheid drie enkelpa’s met Rilette Meyer gesels het. Pawees is nie vir hulle ’n onderhandelbare kwessie nie en hulle deins nie weg van dit wat daarmee gepaardgaan nie. Dat al drie met respek na hul ekse verwys, is nie alleen volwasse nie, dis besonder belangrik vir die gesonde grootword van kinders dat hulle ten spyte van hul ouers se verskille weet dat Ma en Pa mekaar as ouers en as mense respekteer.
Ek dink nie die gemiddelde man sou toentertyd maklik gesluk het aan die feit dat vroue tot die politiek toetree nie – genugtig, wit vroue in Suid-Afrika het dan eers in 1930 stemreg gekry en ons almal weet dat die stryd vir mans en vroue in ander kulturele groepe in ons land baie langer en pynliker was om dié menswaardigheid te verkry.
En kyk wie pryk dié week op ons voorblad? Drie formidabele vroue wat die leisels van die opposisieparty stewig in hul hande het! Sonder om hul vroulikheid prys te gee, staan al drie hul “vrou” en wat meer is, die mans in hul lewens voel vir geen oomblik bedreig nie en hul ego’s is intak.
Daar is nog iets wat die afgelope
100 jaar verander het – die feit dat mense openlik kan praat (of begin praat) oor dinge wat vir lank taboe was of waaraan ’n stigma gekleef het. Ek dink aan enkeles soos, egskeiding (ons weet dit gebeur), seks (mense doen dit inderdaad), kanker (daai woord wat die ouer garde eerder gespel as uitgespreek het) en depressie (iets wat sommige mense dink noodwendig weggedink of weggebid kan word). Dis mense soos die joernalis en skrywer Jeanne Els wat ander help om te verstaan dat depressie soos sy dit ervaar, nie ’n “swakheid” is nie en wat nie skroom om dit in die openbaar met ander te deel nie. Dit help nie net diegene wat ook daarmee stoei nie, maar dit kweek begrip en empatie by mense wat nie daarmee sukkel nie en help hulle om te verstaan wat dit behels. Haar derde boek, As die stroom jou vat: Die raaisel van selfmoord, raak nog ’n kwessie aan waaroor mense nie maklik wil praat nie, maar wat gewis net so ’n realiteit is en wat dikwels hand aan hand met depressie gaan.
Die lewe is nie aldag maklik nie, maar dit is goed dat ons oor dinge kan praat wat ons plesier verskaf, bang maak, siek maak, hartseer maak, bly maak, kwaad maak, gelukkig maak en verward maak. Ons het almal ons eiesoortige talente, geite, skete, kwale, onsekerhede en twyfel – dit is wat ons mens maak, of ons nou manlik of vroulik is.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.