Dit is welbekend dat mense wat vir Richard Branson se Virgin-maatskappye en vir Google werk, kreatief en produktief, maar bowenal gelukkig is. Die vraag is: Hoekom?
Deur Eldaleen Hugo
Ek het geen twyfel dat hul werksomgewing daartoe bydra nie. Hulle word behoorlik betaal en kry genoegsame vakansie, maar die eienaars en bestuurders van sulke suksesvolle maatskappye lei deur hul voorbeeld van motivering, waardering, erkenning, menslikheid, integriteit, begrip, wysheid, volwassenheid en leiding. Dit is geen geheim dat ek die woord “baas” verpes nie. Ek is niemand se baas nie en niemand is my baas nie. Daar is ’n groot verskil tussen ’n “baas” en ’n leier van ’n span mense. ’n Baas gebruik sy of haar magsposisie om op die wa te sit terwyl die “onderdane” die einste wa deur die drif moet trek.
’n Leier is dié een wat voor lei en die wa saam met die span deur die drif trek. Wat my uitbring by die artikel “As jy by die werk wroeg” op bl 24. As jy depressief is, help dit nie as jou werksomgewing ongesond, negatief of onderdrukkend is nie. En ’n onderdrukkende en gespanne werksomgewing hou dikwels verband met die feit dat sommige bestuurders nie besef daar is ’n verskil tussen ’n baas en ’n leier nie en hul mag misbruik. Wat die “onderdane” nie besef nie, is dat sulke mense net mag het as ons hulle toelaat om mag te hê. Dit is hoekom die status quo dikwels gehandhaaf word en mense wroeg, depressief raak, moed verloor en bedank. Daar is ’n paar aanhalings teen my prikbord, juis oor dié kwessie, om my te herinner aan my verantwoordelikheid as leier van ’n span.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.