Ek het dit al vantevore gesê: Ek is mal oor my werk en as ek ’n groep mense moes kies, kon ek nie ’n beter keuse gemaak het as die span by Vrouekeur waarby ek Julie verlede jaar aangesluit het nie. Dis alombekend onder kollegas in die maatskappy dat die Vrouekeur-span in harmonie met mekaar saamwerk. En dÃt wil gedoen wees, want om ’n tydskrif die lig te laat sien, veral ’n weeklikse een, gaan met groot werksdruk gepaard.
Ek het dit al vantevore gesê: Ek is mal oor my werk en as ek ’n groep mense moes kies, kon ek nie ’n beter keuse gemaak het as die span by Vrouekeur waarby ek Julie verlede jaar aangesluit het nie. Dis alombekend onder kollegas in die maatskappy dat die Vrouekeur-span in harmonie met mekaar saamwerk. En dít wil gedoen wees, want om ’n tydskrif die lig te laat sien, veral ’n weeklikse een, gaan met groot werksdruk gepaard.
Daar is ’n paar geheime vir hierdie wenresep. Geld is nie die dryfveer nie – daarvan kan die meeste van ons in die mediabedryf getuig. Boaan die lysie is ’n sin vir humor, wedersydse begrip en respek vir mekaar se unieke persoonlikhede en die feit dat almal hul werk met trots en verantwoordelikheid doen om ’n gehalteproduk te lewer. Dit is dinge wat myns insiens bydra tot ’n werksomgewing wat met positiewe energie gelaai is en terselfdertyd moeilike situasies ontlont, want hoe meer stres in ’n situasie, hoe groter is die kanse vir konflik. Dis dan wanneer klein dingetjies aanleiding tot vulkaniese uitbarstings of sluimerende woede in die vorm van stilstuipe kan gee en woorde, of die gebrek daaraan, wapens word. Nes in ’n verhouding tussen twee mense wat onder een dak woon, soos Kristel Loots in haar artikel, Stry of stilbly? skryf.
Wat my uitbring by dit wat ons weekliks in die tydskrif met lesers deel. Of dit nou is om sin aan mense se lewens op persoonlike vlak in verhoudings te gee en of dit omstrede kwessies is wat bespreek word, die hele span werk saam om die tydskrif sonder uitsondering elke week op die rak te kry. En hierdie spanpoging stel my nie een week teleur nie – daar is elke keer artikels wat uitstekende joernaliste met ywer skryf wat my laat dink en introspeksie laat doen.
Twee van die artikels in dié week se uitgawe het vir my ’n gemene deler as tema. In Moenie my los nie! sowel as Wat makeer die weer? deur Tanya de Vente-Bijker en Lize Maritz onderskeidelik, speel vrees ’n rol. Sommige van ons is bang ons geliefde vat die pad en wag omtrent net vir die oomblik wat dit gaan gebeur (al is ons vrees ongegrond) en ander leef weer in angs dat die einde van die wêreld in sig is met ekstreme weerstoestande wat aan die toeneem is.
Dis duidelik dat daar winde van verandering in die weerstoestande is. Daar is selfs diegene wat glo die einde is in sig – weliswaar oor twee maande, glo sommiges. Ek deel nie hul vrees nie, versamel nie blikkieskos nie en beplan nie om ’n grot te gaan uitsoek waarin ek saam met my dierbares ná ’n apokaliptiese katastrofe op aarde gaan skuil nie. Ek deel wel die kundiges se mening dat ons ons lewenstyl moet aanpas om aardverwarming hok te slaan.
Die goeie nuus is, ons kan nog iets daaraan doen. Om te erken iets is ’n probleem, is reeds die eerste stap na die moontlike oplossing daarvan, maar daar lê die geheim – ’n mens moet iets daaraan doen.
Tydens my verblyf in Duitsland jare gelede het ek vinnig agtergekom dat jy nie sommer alle vullis summier in jou asblik gooi nie. Jou bure speel die rol van herwinningspolisie en bewaar jou as jy plastiek, glas, papier, blik, batterye, gloeilampe of enigiets wat herwin kan word in een asblik gooi. As verantwoordelike lands- en wêreldburgers is daar herwinningshouers vir bykans alles. Eweneens gaan jy vuil kyke van die mense agter, voor en langs jou kry as jy jou koolstofvoetspoor onnodig verhoog in ’n verkeersopeenhoping en jy nie met Duitse presisie jou kar tussen ry en stop afskakel nie. Dié nasie, soos vele ander Eerstewêreldnasies, respekteer nie net mekaar en die omgewing nie, maar begryp dat hulle self iets aan die situasie kan en moet doen.
Dis duidelik ons leef tegelykertyd in ’n verskeidenheid wêrelde wat ons self skep en wat ons met ons omgewings in daardie wêrelde doen – van die een waarin ons werk om te oorleef tot die een waar oorlewing saam met die elemente se onvoorspelbaarheid ’n rol speel. Maar in almal lê die verantwoordelikheid by ons om die harmonie en gehalte van ons daaglikse bestaan vir onsself, maar ook vir dié wat om en ná ons leef, te bepaal.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.