Die eerste keer wat ek prof Jonathan Jansen hoor praat het, was ses jaar gelede tydens my dogter se prysuitdelingseremonie aan die einde van haar matriekjaar.
Die eerste keer wat ek prof Jonathan Jansen hoor praat het, was ses jaar gelede tydens my dogter se prysuitdelingseremonie aan die einde van haar matriekjaar. Nie almal was ewe beïndruk met dit wat hy gesê het nie, want prof Jansen draai nie doekies om as hy ernstig oor iets voel nie en soms raak hy ’n teer punt aan, wat mense liefs wil ignoreer. Die man het my wel beïndruk en sedertdien het ek sy doen en late in die openbare oog met belangstelling gevolg.
Toe hy onlangs in Johannesburg optree, was ek voor in die gehoor om te luister wat hy oor die toestand van ons onderwysstelsel te sê het, want onderwys lê hom na aan die hart. Hy weet dat dit ’n grondslag vir die vorming van jongmense is en hy’s bekommerd oor die toestand daarvan.
Weereens was nie almal in die gehoor ewe beïndruk met dit wat hulle gehoor het nie, want soos gewoonlik het hy prontuit gepraat. Hy het my nie teleurgestel nie en nogmaals beïndruk. In so ’n mate, dat ek die hele toespraak afgeskryf en die aand vir my geliefde herhaal het. Prof Jansen is vir my ’n voorbeeld van ’n onderwyser van onskatbare waarde. En soos dit mos nou maar in die lewe gaan, kry jy in elke beroep mense wat dit goed kan doen en diegene wat dit liewer nie moet doen nie.
Wat my by ’n kuier kort daarna om ’n lang tafel bring. Laataand draai die gesprek om ons skooljare en die indrukke wat onderwysers op ons gelaat het. Behalwe vir my geliefde, is almal om die tafel op die een of ander manier by die media betrokke en sommige is meer bekend as ander. Wiskunde, vind ons uit, was nie een van ons gunstelingvakke nie, behalwe natuurlik vir my geliefde. Almal het die een of ander staaltjie te vertel oor hul dae in die wiskundeklas en die vernedering wat soms daarmee gepaardgegaan het. Sien, mense wat skryf, hou meer van woorde maak as somme maak. En juffrouens verstaan dit nie altyd nie. So vertel een van die vriendinne om die tafel van juffrou X in hul wiskundeklas se gebruik om die kinders volgens hul punte te laat sit. Haar hiërargiese plasing het duidelik vir die hele klas uitgespel watter waarde sy op grond van elkeen se punte aan hulle as mense geheg het. Dalk was dit nie haar bedoeling nie, maar dit is egter só deur die agterbankers met die lae punte ervaar.
My vriendin se plek was keer op keer tweede laagste op die ranglys. Asof dit nie genoeg was nie, het die juffrou op ’n dag luid verkondig dat my vriendin niks in die lewe gaan bereik nie. As juffrou X vandag nog leef, wonder ek of sy nie telkens bloos oor haar uitlating as sy die TV of radio aansit en my vriendin se gesig sien of haar stem hoor nie, want sy het toe inderdaad meer bereik as was juffrou X gedink het, of self bereik het.
Die staaltjie het my laat dink aan ’n lesersbrief wat nou die dag op my tafel beland het. Die leser was een van die groep kinders in haar skool wat ook nie volgens die norm presteer of opgetree het nie. Sy’t, soos vyf enersdenkende vriende, van teken, skilder en prente gehou en hulle is almal deur ’n juffrou X as mislukkings beskou. Die leser en haar vriende is vandag almal suksesvol in dit wat hulle doen en almal leef hul passie vir die visuele in hul loopbane uit. Eintlik dink ek sy wou net vir juffrou X laat weet haar indruk van haar was verkeerd en die skade wat dit veroorsaak het, het die goed wat sy dalk af en toe in die klas gedoen het, oorskadu.
Gelukkig is daar egter ook, soos in alle beroepe, goeie onderwysers, want tydens dieselfde gesprek vertel ’n ander vriendin, wat ook onder die tong van ’n paar juffrou X’e deurgeloop het, van ’n juffrou wat haar verstaan en haar potensiaal raakgesien het. Dié juffrou het so ’n indruk op my vriendin gemaak dat sy ’n liedjie vir haar geskryf het – om te sê dit gaan goed met haar. Onthou dié storie as jy volgende keer luister hoe Laurika Rauch Hei mevrou Brown sing. My vriendin het dit geskryf en hoewel somme haar nie opgewonde maak nie, kan sy met woorde toor en mevrou Brown het dit raakgesien. Hierdie week salueer ek al die prof Jansens en juffrou Browns wat die naam onderwyser werd is. Julle is kosbaar.
Nou wonder ek net hoekom maak hulle nie prof Jansen minister van onderwys nie? Dalk sê hy te veel waarvan die regering nie hou nie…
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.