Te dikwels word bekendes in eenlettergreeponderhoude gevra om triviale vrae te beantwoord en teen die einde van die artikel weet die leser net wat hul gunstelingkleur of -kos is, waarheen hulle graag reis, of met welke (werklik) enigmatiese persoon hulle graag om ’n eettafel sou wou kuier.
Te dikwels word bekendes in eenlettergreeponderhoude gevra om triviale vrae te beantwoord en teen die einde van die artikel weet die leser net wat hul gunstelingkleur of -kos is, waarheen hulle graag reis, of met welke (werklik) enigmatiese persoon hulle graag om ’n eettafel sou wou kuier.
’n Mens sou op sodanige joernalistiek kritiek kon lewer, en glo my, ek doen dit dikwels luid en waarskynlik is dit nie altyd geregverdig nie. Daarom kan ek maar erken dat hoewel ek ambivalente gevoelens oor die sin van sodanige inligting het, het ek al menigmaal diep om ons kombuistafel saam met vriende gekuier en die gesprek by “met watter vyf mense sou jou aandete wou eet?” laat draai. En telkens vind ons dat vyf nie genoeg is nie, want daar is so baie besonderse mense wat geleef het en wat steeds die aarde bewandel na wie ons sou wou luister en by wie ons iets sou wou of kon leer.
Ek het op sulke aande al van dame Judi Dench en Daniel Day-Lewis tot Beethoven, Leonard Cohen en Einstein op my lysie gehad, maar dan sou ek ook bitter graag die voorreg wou hê om darem net een keer ’n gesprek met JM Coetzee en Oscar Wilde te voer. Weliswaar het die lus om met Paris Hilton en haar gelykes te gesels, my nog nooit beetgepak nie en vir die meerderheid politici sien ek ook nie
kans nie.
’n Mens se lysie kan nie tot vyf mense beperk word nie, want daar’s elke dag interessante en formidabele mense wat jy kan byvoeg. Aangesien die kans skraal is dat ons werklik met al (of enige) van die mense op ons lysie kan kuier, is dit verblydend om ’n behoorlike artikel te kan lees wat joernaliste met sulke mense gevoer het, artikels wat jou kompleet laat voel asof jy saam gekuier het.
Met die verskyning van Deon Meyer en sy vrou Anita se resepteboek, Kom eet!, was ek een van die bevoorregte lede van die media wat oor middagete meer van dié twee besonderse mense te wete kon kom. Ek het terstond besluit om vir Maryke Roberts te vra om in die Kaap met hulle te gesels om sodoende ook vir Vrouekeur-lesers te laat voel asof hulle deel van die gesprek was. Daardie kuier het sy vir ons in dié week se artikel, “Kom kuier saam!” op bladsy 10 vasgevang.
Murray La Vita het ’n ruk terug met Deryck Uys ’n gesprek gevoer wat ek in ’n bekende dagblad raakgelees het. Deryck is ’n man van 85 wat al bykans agt jaar prostaatkanker onder lede het en ten spyte daarvan dat sy lewensverwagting met sy diagnose net tien jaar was, het dié man al Shakespeare se sonnette in Afrikaans vertaal en is hy nou met die dramas besig. Die feit dat hy bykans blind is nadat hy 20 jaar gelede weens gloukoom die sig in sy een oog en vier jaar gelede 80% sig in die ander oog verloor het, demp ook nie sy entoesiasme en ywer nie. En boonop
is Afrikaans die formidabele man se tweede taal.
Ek haal graag die laaste deel van ’n sinvolle gesprek tussen ’n goeie joernalis en ’n wyse man, wat nou ook op my lysie van formidabele mense is, aan: “Hulle het gesê ek het tien jaar. Nou, daai tien jaar is amper op. Die verpleegster … het ’n paar maande gelede vir my gesê: ‘Jy weet, vandat ek jou ken, het jy nie een dag ouer geword nie.’ Ek glo nie die behandeling alleen kan dit doen nie; ek dink dit is omdat ek al hierdie goed op hande het wat ek wil voltooi. Iemand het gesê jy móét ’n definitiewe en haalbare doel in die lewe hê. Dít is die geheim van die lewe.”
By dié besonderse man kan ’n mens mos net leer.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.