My ma het nog altyd ’n hand met ’n plant gehad. As kind was ek dikwels om haar voete waar sy met haar tuinhandskoene gesaai, geplant en gesnoei het.
My ma het nog altyd ’n hand met ’n plant gehad. As kind was ek dikwels om haar voete waar sy met haar tuinhandskoene gesaai, geplant en gesnoei het. Sy hou tot vandag toe daarvan om te sien hoe die rose in die lente begin bot nadat dit in Julie teruggesnoei is. Sy put vreugde uit ’n malvasteggie wat afgebreek is en wortelskiet om mettertyd in eie reg vol in blom te staan. Sy weet watter plante, struike en bome het skadu, son, baie of min water nodig.
Een van my herinneringe uit my kinderjare is juis saam met haar in die tuin waar sy jaarliks afrikanertjies so al om die rand van ’n bedding geplant het. Ek moet eerlik wees, dié blommetjies was nie vir my mooi nie. Die dieprooi rankrose wat tussen ons en die bure gegroei het, was vir my mooier en die statige varkore wat geil in die skadu geblom het, was en is vandag nog my gunsteling. Dié helderoranje en geel blommetjies het boonop nie lekker geruik nie en in my kindergemoed was blomme veronderstel om lekker te ruik en lang stele te hê wat jy diep kan afsny om in ’n blompot staan te maak. Wat my wel van afrikanertjies gefassineer het, was die lang dun saadjies wat ek aan die einde van elke seisoen saam met my ma uit die afgeleefde blomme bymekaargemaak en in ’n plastieksakkie gebêre het om in die nuwe seisoen te saai, net om op ’n dag te sien hoe dit wonderbaarlik in nuwe plantjies verander wat aanhoudend blom.
Ek wou van kleins af dinge verstaan en maak nie saak hoeveel keer my ma vir my as vyfjarige probeer verduidelik het nie, ek kon nie verstaan hoe ’n plant ’n mens kan wees nie. Teen daardie tyd het ek geweet ons praat Afrikaans, dat my voorvader 13 geslagte terug uit Frankryk as die enigste Hugo op ’n boot na die suidpunt van Afrika gekom het en dat ons nou Afrikaners was. Dit het my ongelooflik verwar dat hierdie stink, klein blommetjies afrikanertjies genoem word. Ek wou ’n roos of ’n varkoor wees.
Jare later het ek lank in Europa gewoon, vreemde tale leer praat en ander kulture leer ken. Dit het my horisonne verbreed en my laat groei en ontwikkel. Ten spyte daarvan dat ek my tuis gevoel het in Europa, het ek soms na die bekende reuk van die Afrikason op die aarde, die klank van Afrikaans in die Wes-Kaap op my ore en die gemak van kuier saam met mense wat my taal praat verlang. Ek het geweet ek het groot heimwee na my wortels die dag toe ek in ons tuin in Griekeland, tot groot vermaak van my kinders, luidrugtig saam op die maat van Leon Schuster se liedjie “Hie’ kommie Bokke” gesing het. Dié CD het op die een of ander duistere manier in ons versameling CD’s beland en is nie iets waarna ek gewoonlik sou luister nie. Heimwee, sê ’n vriendin op Facebook, is “een Duitse leenwoord waarmee een verlangen of weemoed wordt uitgedrukt naar de geborgenheid en zekerheid van de bekende“. Ek hou nie eers van rugby nie, maar op die een of ander manier het dié liedjie my daardie dag tussen my mense gesit.
Dis eersdaags Erfenisdag in Suid-Afrika en Carla van der Spuy het gaan ondersoek instel na wie die Afrikaner van vandag is. Ek plaas ’n groot premie op my waarde as individu, wat my dus altyd so effens benoud maak as mense my as deel van ’n groep klassifiseer. Maar kultuur is iets wat in jou gene gaan sit. Net soos jy van jou ouers en jou voorsate gene oorgeërf het wat jou jy maak, is daar sekere eienskappe van ’n kultuur waaroor jy geen beheer het nie, wat deel van jou menswees word.
My ou HAT sê onder meer van ’n steggie: “Die Afrikaners is ’n steggie van die ou Hollandse boom”. Ons het ’n mengelmoes voorsate en ons is soos steggies afgebreek om hier aan die suidpunt van Afrika te kom wortelskiet. En al hou ek vandag steeds meer van ’n varkoor en ’n roos, is daar tog iets van ’n afrikanertjie in my, want ek kan met die Latynse naam, Tagetes erecta, identifiseer en sê ek loop kiertsregop en praat graag my taal. En soos dit in families gaan, mag ek die afrikanertjies kritiseer, maar ek hou nie daarvan as ander dit doen nie. Boonop het ’n tuin baie soorte plante nodig om tot sy reg te kom, anders raak dit eentonig.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.