In die bykans tien jaar wat ek in Europa gewoon het, het ek nooit so koud gekry as wat ek hierdie winter in die ysige Johannesburg gekry het nie.
In die winter protesteer ek, nee, eintlik kla ek steen en been. Ek kla as ek uit die bed onder die stort inspring, ek kla as ek die moed bymekaargeskraap het om uit die stort te klim, ek kla terwyl ek aantrek, ek kla as ek by my kantoor instap en dit voel soos -3 °C. En dan kla ek weer as die lugversorging in die kantoor my soos ’n bokkom uitdroog en al die duur anti-ageing-rome teëwerk. Net om weer saans as ek ná werk by die huis kom, voort te gaan met my treurmare. Die ergste was toe ek die een oggend maskara aansit, en dit doen soos ’n mens dit mos doen, so met my mond halfoop van konsentrasie en die spieël toewasem!
Dit het my aan my hoërskooljare en ’n skooluniform laat dink. Ek het nie goeie herinnerings aan een van die twee nie. Die persoon wat daai goed ontwerp het, dis nou uniforms, wat kinders sowaar in die 21ste eeu steeds moet dra, het ’n wrede streep in haar (of hom). Dis in die eerste plek lelik, in die tweede plek dun en in die derde plek onprakties. En dra jy die gedoente in die winter, kan dit jou stelselmatig deur die loop van die dag oor die rand van die afgrond dryf. Met “taaits” wat afsak, “bobbiesoks” bo-oor (wat die taaits net nog meer aftrek), ’n simpel das wat jou wurg en ’n trui onder ’n kleurbaadjie, wat geen beweegruimte toelaat nie, is dit gewoon nie moontlik om in ’n klas te konsentreer nie. Veral nie as jy ’n klas het in een van die tydelike klaskamers, met die juffrou se “tweebalkhieterkie” wat tevergeefs doer voor in die klas brand nie. Daai goed werk nie, dit brand jou as jy te naby is, vreet net krag en is óók lelik.
En terwyl die juffrou met haar stewels, serp en jas op die bord skryf, is daar iets wat jou die heeltyd pla. óf jy kry koud, óf jy kan nie jou tone voel nie, óf jy kan nie jou arm buig om te skryf nie, want die trui en baadjie bo-oor mekaar is te dik, óf dalk verpes jy net skool in die winter meer as gewoonlik.
En dan is dit lentedag! Die eerste skooldag in September. As vergunning kan ons “gewone” klere aantrek en die opgewondenheid daaroor was so merkbaar soos die bloeisels aan die bome. Almal wou vir een dag in die jaar spesiaal lyk (of ten minste net nie dieselfde as al die ander kinders nie). En hét ons in die laat sewentigerjare nie op dié dag spesiaal gelyk nie. Ek het nou nog ’n foto van myself van een van dié kere. Hare in ’n middelpaadjie en uitgeflick soos Farrah Fawcett-gone wrong s’n, met houtplatformskoene en ’n wit valletjiesrok. Kon iemand nie vir my gesê het ek lyk vreeslik nie?
Het enigiemand al ’n lentedag op skool beleef, wat dit inderdaad lente was? Dit het nie op een van my lentedae op skool gebeur nie. Ons het almal met strêppiesrokke en sandale die laaste stuiptrekkings van die winter trotseer en gebibber. Maar as jy in Suid-Afrika op skool is, gryp jy enige kans aan om nié ’n skooluniform te dra nie.
En hier is dit weer lentedag. So twee weke gelede sien ek ’n Facebook-boodskap op ’n vriendin se muur: “I swear I saw some buds on the yesterday today and tomorrow.” Met twee ander se kommentaar daarby: “Ons jasmyn het bloeisels en ons Mayflower blom al ’n paar weke, it’s happening” en “By ons bloei die koraalboom”. Maar ek sien niks. Nie omdat daar nie iets is om te sien nie, maar omdat ek die afgelope ses maande pal voor my rekenaar sit en werk het. Dalk is dit nie die koue wat my dié winter ondergekry het nie, dalk is ek een van diegene wat te veel gewerk en te min geleef het dié winter … die jaar … die afgelope paar jaar.
Net daar besluit ek ek moet ’n kopskuif maak, ek wil die bloeisels raaksien, ek wil die jasmyn ruik, ek wil in verwondering staan oor die aanbreek van ’n nuwe seisoen, maar ek wil veral die lewe om my sien gebeur. En as dit weer winter word? Dan gaan ek probeer om minder te kla, want ek het ’n huis en ’n bed en ’n stort en ’n werk.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.