Twee artikels dié week gaan oor ons verhouding met ons kinders.
Twee artikels dié week gaan oor ons verhouding met ons kinders. Ouerskap is g’n maklike takie nie. Vra my jonger kollegas in die kantoor wat babas en klein kindertjies het, vra my, wat volwasse kinders het. Van slapelose nagte, koliek en tande kry tot onbesonne tienerjare, mislukte verhoudings en grootmensstres.
Maar dwarsdeur, van die oomblik wat jy elkeen van jou kinders as pasgeborene vashou tot die dag wat jy jou laaste asem uitblaas, sal jy hulle met alles wat jy het, probeer beskerm. Maak nie saak of hulle vyf of 55 is nie. Vra maar my ma en pa.
Hul vreugde is jou vreugde, jy lag as hulle lag. Hul leed is jou leed, jy huil as hulle huil.
So, wat sê jy vir jou dogter as sy jou op ’n Maandagaand bel en gebroke aan jou die nuus oordra dat ’n baie spesiale vriend van haar daardie oggend dood is? ’n Vriend wat sy van haar eerste jaar af ken; ’n vriend wat op haar 21ste verjaardag voor almal spontaan vir haar gesing het; ’n vriend wat saam met haar gelag, oor die sin van die lewe gewonder en oor die toekoms gedroom het … ’n Talentvolle, sjarmante, komplekse, geliefde vriend wie se bekende, vrolike stem op MFM 92.6 nou stil is.
Jy probeer iets sê wat sal help, jy probeer troos, maar jy huil saam met haar oor haar verlies. En lees jy ’n dag later haar skrywe aan hom op haar blog, huil jy onbedaarlik. Jy huil oor jy lees hoe sy pyn, maar jy huil, want jy weet iewers pyn en ween ’n vrou oor die dood van haar kind, soos net ’n ouer kan doen.
En dan … dan troos jou kind se skrywe jóú as jy lees: “… I will mourn you. But I will rejoice in the phenomenal gift that was you and our friendship. I cannot change the way things are but I can choose how to go forward. And the only way is to remember the beauty and love that I knew. Thank you. Despite death, there was life. One you allowed me to be part of and for that I will always be grateful …”
En jy hoop sy ouers, maar ook al die ander ma’s en pa’s wat oor die verlies van hul kinders huil, vind troos, maar ook vreugde in dié woorde. Al is dit ’n ween wat geen einde het nie, omdat dit ’n liefde is wat geen einde ken nie.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.