Kyk, daar is min dinge wat my so die joos in maak as die toestand van ons paaie.
Kyk, daar is min dinge wat my so die joos in maak as die toestand van ons paaie. Genugtig, die Romeine het 2 000 jaar gelede al die waarde van ’n werkende vervoerstelsel besef en die sukses van dié ryk het direk verband gehou met die paaie wat hulle gebou het. Ek sou ’n mond vol hieroor wou kwytraak, maar laat dit aan die kenners in Louise Posthuma se artikel “Padpenarie” oor. Die feite spreek in elk geval vanself.
Daarom wil ek eerder die pas afgelope Vrouedag ’n week verder laat talm en erkenning gee aan die formidabele vroue in ons land.
Dis geen geheim dat die gemiddelde salaristrekker voel dat ons nie genoeg betaal word vir dit wat ons doen nie. Om te sê jy “verdien” ’n sekere salaris is myns insiens ’n weerspreking, want in der waarheid “verdien” die meeste mense wat ek ken heelwat meer as wat aan die einde van die maand in hul bankrekenings inbetaal word.
Tensy jy skatryk geërf het van die een of ander kinderlose tante wat saam met 53 katte gewoon het, die Lotto gewen het, soos JK Rowling op ’n trein ’n storie uitgedink het wat jou een van die vroue in die wêreld met die stewigste bankrekening maak, of ’n korrupte amptenaar is wat ’n salaris kry wat jy beslis nie verdien nie (nog iets wat my die joos in maak), is die kanse goed dat die meeste van ons vir die res van ons lewe sal moet meet en pas en swoeg en sweet om aan die lewe te bly.
Terloops, ek lees nou die dag dat JK Rowling by 13 uitgewersmaatskappye aangeklop het voor haar Harry Potter-manuskrip aanvaar is. Boonop was die eerste drukoplaag aanvanklik glo net 1 000, wat vir my net weereens ’n bewys is dat groot dinge met klein treetjies begin. Dié vrou het beslis ook nie ’n gebrek aan verbeelding of deursettingsvermoë nie en ek is seker daar is 12 uitgewersmaatskappye wat nou nog in hul hande huil!
Dis ook geen openbaring dat daar in elke beroep oomblikke of fasette is waarvan ’n mens meer as ander hou nie. In die mediabedryf moet ’n mens dikwels geleenthede bywoon wat nie almal ewe opwindend is nie. Die een geleentheid wat ek egter vir geen geld ter wêreld mis nie, is die jaarlikse Shoprite Checkers Women of the Year Award.
Laat my toe om in dieselfde asem te sê ek dink dis onverskoonbaar dat daar, soos deesdae al te dikwels in ons land gebeur, hooggeplaastes met stewige bankrekenings (wat hulle nie verdien nie), gewoon nie vir die geleentheid opgedaag het nadat hulle die uitnodigings aangeneem het nie. Hul leë sitplekke is getuienis van ’n ongeërgdheid, arrogansie en disrespek. ’n Mens se posisie in die samelewing dwing nie respek af nie, dis jou optrede wat ’n weerspieëling is van dit wat jy van jouself en ander dink.
Dis jammer dié sogenaamde eregaste het weereens ’n kans deur hul vingers laat glip om te sien hoe ’n mens ’n beter plek van die wêreld kan maak. Hulle sou kon baat om te deel in ’n ervaring wat ’n mens se eie lewe in perspektief plaas en jou nederig maak as jy sien wat vroue, dikwels ondanks terugslae, met min finansiële vermoëns, maar met hope deursettingsvermoë en verbeelding, regkry. En almal het met klein treetjies begin.
Hul werk en diens aan die samelewing is van onskatbare waarde en hulle verdien om vir hul medemenslikheid vereer te word. Nie een van hulle doen dit vir die geld of ’n toekenning nie. Vir hulle gaan dit om ’n nood of behoefte wat hulle by hul medemens raakgesien het, aan te spreek en iets daadwerkliks daaraan te doen. Hul beloning lê daarin om mense wat al ’n hele paar dwarsklappe van die lewe gekry het, se lewens te verbeter en hulle te bemagtig. Respek word verdien en nie afgedwing nie en ek het net respek en waardering vir dié vroue wat die aand erkenning gekry en vereer is.
Dis mense soos hulle wat my laat besef dat ek bevoorreg is om soggens (behalwe miskien Maandagoggende) met ’n huppel in my stap op te staan, in die wete dat ek eerstens ’n werk het, tweedens gesond is en kan werk en derdens een doen waarvan die vergoeding ook nie noodwendig in monetêre terme gemeet hoef te word nie.
Om positiewe telefoonoproepe, briewe, e-posse of Facebook-boodskappe van lesers te kry wat iets geleer het uit of bemagtig is deur ’n artikel wat ons geplaas het, is bemoedigend, maak ons harde werk die moeite werd en ons beroep ’n lonende een. En dit help natuurlik om in gedagte te hou dat JK Rowling ook in ’n stadium in haar lewe daarvan gedroom het om ’n beste verkoper te skryf …
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.