So ruk terug sit ‘n vriend op ons stoep met ‘n gebroke hart en ‘n glas wyn in sy hand om sy pyn te probeer verdryf.
Eldaleen Hugo
So ruk terug sit ’n vriend op ons stoep met ’n gebroke hart en ’n glas wyn in sy hand om sy pyn te probeer verdryf. Die liefde van sy lewe het hom verlaat “omdat dit nie meer tussen hulle werk nie”. Die trane loop. Hy’s bedroef, bedruk en befoeterd.
Liefde is die gemene deler in ’n paar artikels dié week. Of jy nou daarna hunker, dit verloor het en of dit liefde tussen ’n ouer en ’n kind is – die liefde is deel van ons almal se lewe. Khalil Gibran het gesê: “Life without love is like a tree without blossoms or fruit.”
“Daar was ’n stadium wat ek gedink het ek sal nooit weer ophou huil nie, maar dis waar dat tyd jou wonde genees,” sê Liezel van der Westhuizen, ons voorbladster dié week. Dat dié vrou allerlei fisieke uitdagings aanpak, beïndruk my, maar wat my meer beïndruk, is die feit dat sy ’n emosionele uitdaging onlangs op ’n waardiger manier as baie bekendes hanteer het en dit nie op elke denkbare voorblad as ’n sensasionele skinderstorie te lees was nie. Sy het in die beskermde omgewing van haar vriende- en familiekring daaroor gepraat het en in dié tydperk agtergekom “hoeveel ander mense deur dieselfde pyn en hartseer worstel”.
Ek is die eerste een wat sal erken dat aanhalings dikwels sentimenteel is en buite konteks verstaan word. Tog is daar deur die eeue heen al soveel daaroor geskryf en gedig dat ’n mens maar kan lees wat ’n paar mense kwytgeraak het oor dié begrip wat alle grense oorskry en blind is vir kleur, ouderdom, kultuur, taal, geslag, roem, rykdom, skoonheid, intelligensie, kwalifikasie, posisie, mag, norme en geloof.
SOURCES
Ivan Naudé
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.