Wie van ons moes nie al iets verloor het om te besef wat ons gehad het nie.
Wie van ons moes nie al iets verloor het om te besef wat ons gehad het nie. Ek dink dis omdat ons so maklik dinge in die lewe as vanselfsprekend aanvaar. Om gesond te wees, is een daarvan.
So bel ek ’n paar weke gelede twee dierbare vriendinne om hulle vir aandete oor te nooi. Aan die manier waarop die een die foon antwoord en “hallo” sê, kom ek agter sy sukkel om haar sprankelende self te wees. Sy is bedroef omdat sy pas by ’n dierbare vriendin gaan inloer het wat baie siek is en veg om te bly leef. My vriendin se hart is seer, want dis nie die eerste keer wat iemand vir wie sy omgee só siek is dat die dag van môre ’n bonus is nie.
Een van ons geliefde kollegas op die Vrouekeur-span het ook so paar maande gelede die nuus gekry dat sy kanker het. Die een dag was sy net nog een van ons wat haar oor alledaagse kleinighede bekommer het en die volgende dag het sy ’n heel ander perspektief op die lewe gehad. Dit wat haar voorheen kon laat wakker lê of kwaad gemaak het, het eensklaps nie meer saak gemaak nie. Om gesond te word, om te bly leef, het haar fokus geword.
Die gebeurtenis in ons vriendin se lewe het ons almal in die kantoor gedwing om ons eie lewens in oënskou te neem en te besef dat niemand van ons weet wat om die draai vir ons wag nie en dat ons inderdaad elke dag moet aangryp. Om ná ’n lang dag se werk poegaai te voel, ná die soveelste slapelose nag met ’n rustelose baba leepoog by die kantoor in te kom, of planne te maak om uitgawes en inkomste te balanseer, durf nie meer ons lewenslus opslurp nie.
Chemoterapie is geen speletjie nie. Dit maak jou moeg, dit mergel jou uit. Ons eens fikse, jong vriendin is maerder as ooit, haar krullebol het verdwyn en om in die oggend op te kan staan, in die stort te klim en die dag aan te pak, is nie meer iets wat bloot gebeur nie. Ná die soveelste chemoterapiesessie sê sy vir my: “Weet jy hoe graag wil ek net vir agt uur aanmekaar kan werk? Weet jy hoe graag wil ek net meer as vyf tree kan loop sonder om te voel asof ek 90 jaar oud is?”
Ons moedige vriendin is die afgelope paar maande deur baie en hoewel sy net 31 jaar oud is, het sy in die tydperk geleer wat menige ouer mens vir ons, wat nog eintlik nat agter die ore is, wil sê: Leef elke dag met verwondering, want voor jy jou oë uitvee, is jy 90.
In die artikel “10 groot geskenke” skryf Shanda Luyt dat ons vir ons kinders geskenke moet gee wat hulle lewenslank saam met hulle kan dra. Ek kan nie meer met haar saamstem nie – dis dinge wat geen geld kan koop nie, maar ek dink ons moet nog een by die lysie voeg: Ons moet ons kinders leer om nie enigiets in die lewe as vanselfsprekend te aanvaar nie. Veral nie ons gesondheid nie.
Maar dalk moet ons hulle ook leer wat Richard Carlson is sy bekende boek Don’t sweat the small stuff … and it’s all small stuff sê: “So many people spend so much of their life energy ‘sweating small stuff’ that they completely lose touch with the magic and beauty of life”.
Ons moenie toelaat dat die klein dingetjies in die lewe ons lewenslus dreineer nie. Ons kan net leer van diegene wat uit ervaring weet dat elke dag ’n bonus is, of hulle gesond of siek is en of hulle nou 31 of 90 is.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.