Elke 17 sekondes. Dink jou dit in. Elke 17 sekondes word daar blykÂbaar n vrou in Suid-Afrika verkrag en dit is net volgens statistiek van verkragtings wat aangemeld word.
Elke 17 sekondes. Dink jou dit in. Elke 17 sekondes word daar blykbaar ’n vrou in Suid-Afrika verkrag en dit is net volgens statistiek van verkragtings wat aangemeld word. Dít is ’n simptoom van ’n baie siek gemeenskap.
Verkragting is niks nuuts nie. Dit was van die vroegste tye af algemene praktyk vir oorwinnaars om ná ’n oorlog die vyand se vroue (en mans) te verkrag. ’n Brutale poging om mag te bewys. En in die 20ste en 21ste eeu in Afrika, Afghanistan, die destydse Joego-Slawië, noem maar op, is en word dié praktyk lustig voortgesit. Ek het onlangs na ’n rolprent gekyk wat in die Middeleeue afspeel en net weer besef dat dit selfs binne huwelike en gesinsverband ’n manier was waarop mans vroue “op hul plek” gehou het.
Dis ’n ongelooflike aanklag teen die mensdom. Dis ons spesie, wat sogenaamd evolusionêr gevorderd is, wat ons aan dié vergrype skuldig maak – ons wat bewussyn het en taal ontwikkel het, op die maan kon land, daagliks met rekenaars ons lewens voer, asemrowende geboue ontwerp, hemelse musiek komponeer en kure vir kanker probeer ontwikkel.
By die lees van die artikel oor die 24-jarige Jessica Foord wat op 21-jarige ouderdom deur vier mans verkrag is, woel daar ’n woede en teleurstelling in die mensdom in my op. Sy’t deel van die skokkende statistiek in ons land geword. My dogter is ook 24 jaar oud. Sy woon ook in Suid-Afrika. Ek wil nie hê sy moet deel van die statistiek word nie. Ek wil nie deel daarvan word nie. Jessica se pa, wat hulpeloos aan ’n boom vasgemaak was en dié wrede toneel moes aanskou, wou nie gehad het sy dogter moet deel daarvan word nie. En tog gebeur dit – elke 17 sekondes.
Jessica het besluit om ter wille van ander mense wat dieselfde as sy deurgemaak het, en ek dink ook ter wille van haar eie oorlewing, haar ervaring in iets positiefs te omskep. Haar uiteindelike doel is om ’n spesiale sorgsentrum vir ander slagoffers van aanrandings en verkragtings op die been te bring. Op sigself is dit ’n dapper en edel daad. Tog dink ek dis ’n verdere aanklag teen ons gemeenskap, maar ook veral teen dié wat in magsposisies is, dat ’n slagoffer vir ander slagoffers ’n plek van heling moet bied omdat ’n siek deel van ons gemeenskap ons van die vreugde van menswees beroof.
Het ons werklik enigsins meer beskaafd geraak as wat ons 2 000 jaar gelede was? Wanneer gaan die statistiek verander van 17 na 10 na 5 sekondes toe? Iewers is daar groot fout en moet die kern van die probleem aangespreek word. Ons moet ’n manier vind om mense op te voed sodat dit nie nodig is om slagoffers by te staan nie – daar moet gewoon nie meer slagoffers wees nie. Dis tragies dat in ’n wêreld van slimfone, elektroniese boeke, supersoniese vliegtuie en neurochirurgie ons eintlik nog min vordering toon in die mate waarop ons in harmonie met mekaar saamleef en respek vir mekaar en die wonder van die lewe toon.
Wat doen ons verkeerd? Wat kan ons doen om die euwel van geweld en misdaad uit ons gemeenskap te verwyder om werklik te kan sê ons is evolusionêr gevorderd, meer beskaafd en die “superieure spesie” wat die aarde bewandel? Ons is in staat om ingewikkelde somme te kan maak om statistiek daar te stel, maar ons sukkel om dít wat die oorsaak van die statistiek is, uit te roei.
Ons verwys so maklik na die dade van wrede misdadigers en verkragters as “dierlik”. Miskien moet ons by diere gaan leer. Diere vandaliseer nie, pleeg nie korrupsie nie, word nie deur vraatsug beheer om altyd meer te wil hê nie, is nie magsbeheb nie, maak nie mekaar dood net omdat hulle kan nie. En hulle verkrag nie mekaar nie. Ons het baie om te leer en te doen, want elke sekonde is belangrik en dalk is ons toe nie so superieur as wat ons dink ons is nie.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.