Ek kyk nie graag TV nie, maar soms sit ek tog die kassie aan om te kyk of daar nie iets is wat my dalk inteÂresseer en vir ‘n wyle van die realiteit kan laat ontsnap en ontspan nie.
Ek kyk nie graag TV nie, maar soms sit ek tog die kassie aan om te kyk of daar nie iets is wat my dalk interesseer en vir ’n wyle van die realiteit kan laat ontsnap en ontspan nie. Dit wat aan ons opgedis word, laat myns insiens egter veel te wense oor en die woord “realiteit” kry ’n vreemde betekenis.
Ek gaan waarskynlik dié week op tone trap, maar ek moet dit eenvoudig sê: Ek verpes realiteitsreekse op TV en dit wemel daarvan! Die lys is lank: ’n klomp chip-op-die-skouer-sonverbrande vreemdelinge op ’n eiland wat vir ’n miljoen probeer oorleef en in die proses hul teenstanders gewetenloos uitskakel; leëkop-20+-poppe wat skaamteloos om die hand van ’n Amerikaanse miljoenêr meeding net omdat hy geld het (nie noodwendig karakter nie); of vreemdelinge wat bereid is om in ’n huis vasgekeer te word en ten aanskoue van miljoene hul ware karakter bloot te lê. Dis slegs enkele voorbeelde van dergelike programme wat ek al kwartpad gekyk het, want langer, is nie vir my moontlik nie.
My onmiddellike vraag hierop is: Wie gee om? Die antwoord is blykbaar: Die meeste mense. Dit blyk duidelik uit die gewildheid van sogenaamde realiteitsreekse. Wat my bangmaak, is dat dit wat as realiteit aan ons opgedis word, allermins realiteit is, dis ’n show, wat mettertyd gestalte aan realiteit vir ’n samelewing gee. En glo my, dit maak geld. Geen TV-baas gaan enige program lug wat nie miljoene in die sak bring nie – ongeag die effek daarvan. Om lank genoeg aan iets blootgestel te word, kondisioneer ’n mens en later vra jy nie meer vrae nie – jy aanvaar dit as die norm, regverdig dit selfs en word deel daarvan.
My relaas het betrekking op dié week se artikel “Almal doen dit mos”. Beter as wat Maretha Botes dit gestel het, kan ek dit nie doen nie. Realiteitsreekse, sê kenners in dié artikel, “ondersteun die idee dat die uiteindelike doel, enige manier om daar te kom, regverdig”. Dié soort reekse het ’n paar gemene delers en vir my sluit dit nie begrippe soos, eties, eerlik, moreel, regverdig, menslik, goed, harmonie, samewerking, positief, opbouend, gesond, aanwins, rolmodel en integriteit in nie. Dit beklemtoon wel begrippe soos mededinging, oorwinning, prys, mislei, melodrama, primadonna, agterbaks, afbrekend, bedrieg, konkel, wreed, vals, vernedering, venyn, ten alle koste, sukses, en die “ek”.
Ek wil verder gaan as kullery waarmee morele grense stelselmatig verskuif word om finansieel daardeur te baat. Het ons nie ’n samelewing geword waar enigiets toelaatbaar is om ’n doel of sogenaamde sukses te bereik nie? Het ons alledaagse lewe nie een groot realiteitshow geword nie? Soos uit die artikel blyk, weeg ons heeldag besluite teen mekaar op en is ons só gekondisioneer om mee te ding en dinge te rasionaliseer dat ons nie meer nadink oor die regte ding om te doen of oor die gevolge van ons dade op ander mense besin nie. Ons sosiale norme word inderdaad deur die massa geregverdig en die massa sê: Everything goes, jy moet eintlik net nie uitgevang word nie. En sou dit gebeur, kan jy dit in elk geval op die een of ander manier gewetenloos regverdig, want “[s]odra iemand ’n vlak bereik het wat deur die samelewing as suksesvol bestempel word, word dit selde bevraagteken hóé daardie persoon daar gekom het”.
Ek wil nie só wees nie. Dis vir my belangrik om soggens in die spieël te kan kyk en nie so gebreinspoel te wees dat die beeld wat vir my kyk, nie meer omgee of haar dade ’n negatiewe effek op haar medemens het nie. Ek wil veral nie op ’n professionele vlak ophou dink wat die impak van dit wat ek sê of doen om sogenaamde sukses te bereik, my sogenaamde mededingers uitskakel nie.
Ek wil nie deel van ’n realiteitshow wees waar almal soos krewe in ’n mandjie mekaar vertrap om bo uit te kom nie.
Ek wil deel van ’n samelewing wees waar mense met verskille kan saamwerk en hul omgewing, of dit nou op persoonlike of professionele vlak is, ’n beter plek vir almal maak. Ek wil deel van dié mense wees wat oor die gevolge van hul dade besin en nie deel van diegene wat so gekontamineer geraak het dat hulle nie meer kan onderskei tussen dit wat opbouend en dit wat afbrekend vir ’n omgewing is nie. Ek wil deel van ’n samelewing wees waar integriteit, selfs in mededinging op professionele vlak, die norm is.
Daarom wil ek nie deel wees van mense wat in ’n restaurant ’n wynglas in hul handsak sit omdat “die restaurant mos versekering vir sulke dinge [het nie]”, want ek weet dat die kelner die trekpas kan kry oor die verdwene glas in my handsak. Die realiteit is dat regverdiging van ’n mens se dade jou so blind maak en opslurp dat jy later nie meer omgee of die kelner die trekpas kry of nie. Solank jy net wen. Dan is jy koning op jou eie mishoop.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.