So dikwels blameer mense hul omstandighede en meen hulle dat ander mense se sukses grotendeels te danke is aan die gunstiger omstandighede waarin hulle gebore is en grootgeword het.
So dikwels blameer mense hul omstandighede en meen hulle dat ander mense se sukses grotendeels te danke is aan die gunstiger omstandighede waarin hulle gebore is en grootgeword het. Vir my is daar verskeie voorbeelde van mense wat dié argument sink, maar daar is veral een mooi storie wat 56 jaar gelede begin toe ’n jong, ongetroude universiteitstudent in Amerika onbepland swanger geraak het.
Die seuntjie wat gebore is, is vir aanneming opgegee, maar die paartjie wat dié pasgebore baba sou aanneem, het op die nippertjie besluit hulle wil eerder ’n dogtertjie hê. Die einste baba is toe, sonder enige huiwering, maar weereens nie sonder probleme nie, deur ’n ander egpaar aangeneem. Die biologiese ma het daarop aangedring dat die baba se aanneemouers gegradueerd moet wees. Toe sy dus uitvind dat die ma nie ’n graad het nie en die pa nie eers skool klaargemaak het nie, wou sy die aanneming terugtrek. Dis eers toe die aanneemouers haar verseker het dat hulle sou toesien dat hul seun wel universiteit toe gaan, wat sy tot die aanneming ingestem het.
Op 17-jarige ouderdom is die seun universiteit toe, maar ná ses maande het hy opgeskop. Sy ouers het al hul spaargeld gebruik om hom universiteit toe te stuur en hy wou nie hul geld mors op ’n kursus wat hy nie wou volg nie. Nie dat hy enige idee gehad het wat hy met sy lewe wou doen nie en vir die volgende 18 maande het hy op die universiteitskampus rondgehang. Hy’t koeldrankbottels ingeruil om geld vir kos te kry en op die vloer in vriende se koshuiskamers geslaap. Tog het hy ’n gevoel van vryheid ervaar en gedurende die volgende paar maande op kampus lesings oor onderwerpe wat vir hom interessant gelyk het, bygewoon. Dis in dié tydperk wat hy ook op ’n kursus in kalligrafie afgekom het. In dié skryfkunsvorm het hy verskillende lettertipes en perfekte spasiëring leer ken – iets wat hom later goed te pas sou kom en wat hy terugskouend as kardinaal in sy lewenstorie sou sien.
Ná sy twee jaar op universiteit, het hy, op 20-jarige ouderdom en sonder ’n universiteitsgraad, saam met ’n vriend in sy ouers se motorhuis ’n onderneming begin. Die onderneming het in die volgende tien jaar tot ’n uiters welvarende organisasie gegroei. Toe stel hy ’n persoon in ’n topposisie aan in wie se vermoëns hy geglo het. Hy en die man het gou koppe gestamp. Die saak is op die spits gedryf en die raad moes ’n besluit neem om die dispuut op te los. Een van die twee moes gaan. En só is die jongman op 30 onder groot openbare belangstelling uit sy eie onderneming afgedank.
Volgens die samelewing se norme was min van Steve Jobs, onder meer die medestigter, voorsitter en HUB van Apple Inc, se omstandighede gunstig. Eers is hy “buite die eg” verwek, toe verkies sy aanneemouers ’n ander baba, toe word hy ’n “drop-out” op universiteit en toe word hy afgedank.
Hy’t egter oor begin, twee ander suksesvolle ondernemings gestig, is weer deur Apple Inc in diens geneem en was gelukkig getroud met vier kinders. Die lewe het goed gelyk. En toe, toe kry hy pankreaskanker.
By ’n gradeplegtigheid van Stanford-universiteit in Junie 2005 het Steve Jobs daardie jaar se jong gegradueerdes toegespreek. Voor die jongmense het hy beklemtoon hoe belangrik dit is dat ’n mens nooit moet ophou soek na dit waaroor jy passievol is nie. En dat alles wat jy in die proses doen om uit te vind wat jou passie is die moeite werd is. Hy’t daarna verwys as “connecting the dots”. Die uiteindelike prentjie wat die verbinding tussen die kolletjies uitmaak, kan jy nie sien terwyl jy dit doen nie, jy kan dit slegs terugskouend sien, het hy gesê.
Steve Jobs het op daardie sonskyndag ook reeds geweet sy dood is ’n realiteit en gesê: “Remembering that I’ll be dead soon is the most important tool I’ve ever encountered to help me make the big choices in life. Because almost everything – all external expectations, all pride, all fear of embarrassment or failure – these things just fall away in the face of death, leaving only what is truly important. Remembering that you are going to die is the best way I know to avoid the trap of thinking you have something to lose. You are already naked. There is no reason not to follow your heart.”
Steve Jobs is op 5 Oktober 2011 na ’n agt jaar lange stryd teen kanker oorlede. Hy’t sy laaste kolletjies verbind. Die “drop-out” wat in die 70’s ’n kalligrafieklas bygewoon het, het nooit gedink dat sy kolletjie van destyds dit vir miljoene mense moontlik sou maak om vandag verskillende lettertipes en perfekte spasiëring met die druk van ’n paar knoppies op ’n rekenaar te voorskyn te bring nie. Hy’t bloot sy hart gevolg en in die soeke na sy passie nooit sy omstandighede as struikelblokke in sy pad gesien nie – dit was als net kolletjies wat die prentjie van sy lewe gevorm het.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.