Daar is min dinge in die lewe wat my so moedeloos maak soos as jy in gesprek met iemand is wat probleme ondervind en hulle op elke positiewe ding wat jy sê of elke voorstel wat jy maak om uit die omstandighede te kom hul teenargument telkens met “Ja, maar …” begin.
Daar is min dinge in die lewe wat my so moedeloos maak soos as jy in gesprek met iemand is wat probleme ondervind en hulle op elke positiewe ding wat jy sê of elke voorstel wat jy maak om uit die omstandighede te kom hul teenargument telkens met “Ja, maar …” begin. Eweneens is daar diegene wat my van energie stroop as ek hulle bel en met die “Hallo” kan ek hoor die lewe is soos gewoonlik vir hulle net ’n uitmergelende ervaring. Ek sluit mense uit wat deur ’n tragiese gebeurtenis platgeslaan is. Ek praat van mense wat so in die lewe se terugslae en frustrasie vasgevang word dat hulle dink die lewe skuld hulle iets.
Net so, is dit vir my lekker om ’n vriend of ’n vriendin te bel en met ’n vriendelike stem begroet te word. Sommige mense het mos net die vermoë om positiewe energie uit te straal, ten spyte van die wêreld waarin hulle hulle bevind. Ek praat hier nie van ’n stroperigheid wat jou aan die egtheid van die stemtoon laat twyfel nie, en ek dink ook nie dit kan net goed gaan met ’n mens of dat jy blind vir die werklikheid moet wees nie.
Dit sou naïef van my wees om te dink dat alle mense dieselfde op die lewe se op- en afdraandes moet reageer. Ons verskil, as gevolg van persoonlikhede, ervarings en ons unieke omstandighede, maar ons reaksie op dinge wat met ons gebeur, verskil ook. ’n Baie goeie vriend van ons is vir my ’n sprekende voorbeeld van iemand wat kies om die lewe sonder ’n “Ja, maar”-houding tegemoet te gaan. Ek dink nie ek het hom al ooit kwaad gesien nie. Natuurlik stem hy nie met alles saam nie en hy is beslis nie sonder ruggraat nie, maar hy is uitgesproke dat om kwaad te word ’n keuse is. Hy meen dat jy in enige moeilike situasie besluit of jou reaksie een van woede of begrip teenoor die ander gaan wees. Hy kies begrip, want hy stel nie belang om sy eie gemoedstoestand met ’n aggressiewe of negatiewe ingesteldheid te infekteer nie.
Carien Grobler skryf in haar artikel op bladsy 44 dat ’n mens jou dikwels wysmaak dat jy nie die vermoë het om anders te kies nie, maar sielkundiges is dit eens: Of dit nou gaan oor klein of groot keuses in die lewe, jou besluit en reaksie bepaal jou lewensgehalte.
Ek was ’n student toe ek by my pa ’n storie van tweelingbroers gehoor het. Of die storie waar is, weet ek nie, en ek ken mense wat die feitlikheid daarvan sal betwyfel en dit minagtend sal vergelyk met ’n lewenslessie wat agter op ’n suikerpakkie geskryf is. Vir my maak dit nie saak of dit waar is nie, die boodskap het my bygebly.
Dié tweelingbroers was as volwassenes deel van ’n sielkundige se ondersoek na die invloed van kinderjare op ’n mens se bestaan. Albei het, uiteraard, in dieselfde huis grootgeword. Die een was ’n tevrede, gelukkige en suksesvolle sakeman. Die ander een was ’n alkoholis, werkloos en dit het miserabel met hom gegaan. Die sielkundige wou van die ongelukkige man weet wat tot sy verdrietige situasie aanleiding gegee het. “My huislike omstandighede was haglik,” het hy begin vertel. “Daar was gedurig twis in ons huis, my pa kon nie ’n werk behou nie en het hom gereeld in ’n koma in gedrink. Ek het baie drome gehad wat ek wou verwesentlik, maar daar was nie ondersteuning of geld om te gaan studeer nie. Met so ’n voorbeeld en gegewe my omstandighede het ek nie eintlik veel van ’n keuse gehad om te word wie ek vandag is nie.”
Die sielkundige wou eweneens in die sessie met die gelukkige broer weet wat dit was wat ’n rol in die verloop van sy lewe gespeel het. “My huislike omstandighede was haglik. Daar was gedurig twis in ons huis, my pa kon nie ’n werk behou nie en het hom gereeld in ’n koma in gedrink. Ek het baie drome gehad wat ek wou verwesentlik, maar daar was nie ondersteuning of geld om te gaan studeer nie. Met so ’n voorbeeld en gegewe my omstandighede was ek vasberade om my ideale na te streef en ’n sukses van my lewe te maak. Ek het gekies om my lewe anders te lei.”
Soos hulle in Engels sou sê: “I rest my case.”
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.