Die alombekende gesegde dat geld jou nie gelukkig kan maak nie, kom by my op, maar terselfdertyd wil ek een van my vriende se menings deel, dat hy bereid is om die teendeel te bewys.
So ’n paar weke gelede het iemand in Suid-Afrika die jackpot gewen. Die persoon het ’n allemintige R102 miljoen met ’n Powerball-kaartjie gewen. Op haar Facebook-muur wonder ’n vriendin ’n paar dae later hoe dit moet voel om soveel geld in jou bankrekening te hê en sy wil van haar vriende weet wat ons met die geld sou doen as ons die gelukkige persoon was. Die alombekende gesegde dat geld jou nie gelukkig kan maak nie, kom by my op, maar terselfdertyd wil ek een van my vriende se menings deel, dat hy bereid is om die teendeel te bewys.
My een broer beweer die kans dat ’n donkie jou doodbyt, is groter as wat dit is om die Lotto te wen, maar laat my toe om vir ’n wyle te droom, want so ’n meevallertjie sal my ’n hele paar kopsere spaar. Sjoe, dit sal darem lekker wees om te weet jy hoef nooit weer oor geld te lê en rondrol nie. Dink net watter vreugde dit kan wees om ’n paar van jou vriende en familielede se bankrekeningnommers te vra om as “beneficiaries” op jou internetbankdiens te voeg. Met die druk van ’n paar knoppies kan jy hul bankbalans ook met ’n paar nulle verhoog.
En met so ’n stywe bankrekening sal my moed nie in my skoene sak soos dié maand gebeur het by die oopmaak van ons water-en-ligterekening nie. Ek het gerugte gehoor en gelees van tariefverhogings, maar om van een maand tot ’n volgende 100% meer vir die gerief van water en ligte te betaal, is genoeg om enigiemand te laat wonder waar dit gaan eindig. En nee, dis nie omdat ons verwarmers meer krag verbruik het nie, want ’n kaggelvuur en ’n gasverwarmer kan nie die rekening opjaag nie. My geliefde sê ons moet dit by die munisipaliteit bevraagteken. My gevoel is: Is dit die moeite werd om in ’n katakombe te verdwaal op soek na die regte toonbank, net om ná ’n dag se toustaan te hoor dat die rekening wel reg is, of dat hulle dit sal regstel en dit nooit gebeur nie?
Ek het nie veel vertroue in die Johannesburgse munisipaliteit nie. Hoe verduidelik jy ons vriende, wat ’n jaar gelede om die draai van ons af huis gekoop het, se situasie? Hulle het nog geen munisipale rekening ontvang nie, ten spyte van etlike oproepe, skrywes en toustaan. Vriende van hulle, in dieselfde situasie, het uiteindelik hul rekening ná maande se gesukkel gekry en moes onmiddellik vir die agterstallige R18 000-rekening opdok, wat hulle graag maande gelede reeds in paaiemente, soos dit veronderstel is om te gebeur, sou wou ontvang het.
Dis geen geheim dat ’n groot persentasie van ons land se munisipaliteite bankrot is nie en ’n mens wonder nog hoekom? Carla van der Spuy se ondersoek na die onaanvaarbare getal sterftes onder babas in ons staatshospitale op bladsy 10 is nog meer kommerwekkend as jy lees dat basiese infeksiebeheer nie toegepas word nie en dat die situasie besig is om te vererger. Die toestand in die Oos-Kaapse onderwysdepartement is eweneens haglik – hulle was verlede jaar ’n paar biljoen rand in die rooi en is vinnig op pad om die situasie te herhaal. Wat gaan in hierdie land aan? Waarheen verdwyn al die geld?
Ek mag verkeerd wees, maar my gevoel is dat daar iewers mense is wat nie daarvan droom om die Lotto te wen nie, want miskien wen hulle dit sommer kort-kort eiehandig uit die staatskas. My vraag is, wat maak ons as die land se geld opraak? Dit is nie ’n bodemlose put nie en kan gebeur. Vra maar die Lottowenners wat nie verantwoordelik met hul geld gewerk het nie. As daardie dag aanbreek, gaan R102 miljoen soos kleingeld klink.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.