‘Billie Zangewa se werk is wêreldwyd in talle toonaangewende versamelings opgeneem en dit is ons voorreg om vanjaar ’n groot werk van haar op die JAF te vertoon’
Deur JOHAN MYBURG
Die Joburg Art Fair (JAF) wat as die grootste en vernaamste kunsmark op die vasteland van Afrika beskou word, word vanjaar vir die 11de keer in die Sandtonse Konvensiesentrum aangebied. Vanjaar neem meer as 34 galerye van 14 lande in Afrika, Europa en die VSA aan die JAF deel. Onder die uitstallers wat vanjaar vir die eerste keer deelneem, is die Namibiese kunstenaarskollektief NJE, die Arte de Gema-galery van Maputo in Mosambiek en This Is Not A Whitecube, die derde Luandagalery wat Angola verteenwoordig.
Die afgelope paar jaar word die werk van ’n enkele kunstenaar op die JAF uitgesonder en staan dié kunstenaar as die featured artist bekend. Vanjaar se kunstenaar in die kollig is die 45-jarige Billie Zangewa, wat in Malawië gebore is. “Nadat JAF die afgelope paar jaar die kollig op kunstenaars buite Suid-Afrika laat val het, is dit nou weer tyd dat ons ’n kunstenaar voorstel wat in Johannesburg woon en werk,” het Mandla Sibeko, die JAF-direkteur, gesê. “Billie Zangewa se werk is wêreldwyd in talle toonaangewende versamelings opgeneem en dit is ons voorreg om vanjaar ’n groot werk van haar op die JAF te vertoon.”
Met ’n Suid-Afrikaanse ma en ’n Malawiese pa het sy in Gaborone, Botswana, grootgeword. Sy het haar graad in visuele kunste aan die Rhodes-Universiteit in Makhanda behaal en dit was grafiese drukwerk wat haar verkenning van tekstiele met ryk teksture, soos sy, aan die gang gesit het. Dit was die gebrek aan toegang tot ’n ateljee vir grafiese drukwerk wat tot haar collage- werke gelei het. “Ek moes ’n medium kry waaraan ek oral kan werk. Dié beperking het my na eenvoudige sy-tapisserieë gelei. Gaandeweg het dit al meer gedetailleerd geraak en nou werk ek met ’n kombinasie,” het Zangewa by geleentheid oor haar werkwyse gesê.
LEES OOK: Kuns: Auguste Rodin
Hoewel sy reeds teen die laat 1990’s haar werk in uitstallings vertoon het, het haar deurbraak in die kunswêreld in 2004 gekom toe sy die Gerard Sekoto-kunsprys verower het. Dié prys het haar onder meer die geleentheid gegee om drie maande lank in Parys, Frankryk, deur te bring en die galerye en museums daar te besoek. Die volgende jaar het sy haar werk in die uitstalling Hot in the City in Johannesburg se Gerard Sekoto-galery vertoon. Daarna het sy gereeld haar werk by meer as een geleentheid in Afronova in Newtown vertoon.
Vir haar handgestikte collages gebruik Zangewa kleurryke rou sy waarmee sy figuratiewe komposisies saamstel. In dié werk verken sy maniere waarop vroue in die alledaagse lewe, hoofsaaklik op grond van ras, klas en gender-identiteit, benadeel word. Dit is ervarings wat sy in haar werk vergestalt – ervarings op ’n persoonlike, maar ook ’n breër en universele vlak. In plaas van breedsprakige politieke stellings, konsentreer Zangewa op intiemer, dikwels huishoudelike intriges. Meer onlangs is haar werk in die museum van kontemporêre kuns in Massachusetts (2017), die Stedelijk Museum in Harlem (2017), die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Museum in Kaapstad (2016) en die Johannesburgse Kunsmuseum (2016) vertoon. Haar werk is in die permanente versamelings van die Tate Modern in Londen, die Stedelijk-museum en die Smithsonian se nasionale museum vir Afrika-kuns opgeneem.