Gaste is na sjef Santi se nuwe huisrestaurant in die hartjie van Kaapstad genooi waar wyne en gin saam met verskillende disse bedien is
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts en Mira Weiner
Zandvliet Landgoed van die pragtige Robertsonvallei en hul sustersmaatskappy, Clemengold Gin, het onlangs ’n kos-en-wyn pasmaat van ’n heel ander aard aangebied toe hulle die plaas na die stad gebring het. Gaste is genooi na Santiago Louzan Fidalgo, of sjef Santi soos hy bekend is, se nuwe huisrestaurant in die hartjie van Kaapstad, genaamd Chef’s Table Cape Town, waar die wyne en gin saam met verskillende disse bedien is.
Die sjef bring al sy ondervinding van kosmaak – van sy Spaanse herkoms tot sy ondervinding in Michelinster-restaurante regoor die wêreld – na sy nuwe huisrestaurant.
Gaste is met ’n pienk gin en tonic skemerkelkie verwelkom voor die snoepgoed bedien is. Daar is gesmul aan mossels, Spaanse omelet met truffelolie en sampioen velouté met filodeeg.
Die voorgereg was ’n garnaalkelkie soos nog nooit tevore nie: ’n heel tamatie op avokadopuree met die garnale en tuisgemaakte mayonnaise aan die binnekant. Sjef Santi het vertel dat hy nooit gedink het hy sal ’n sjef word nie, maar op 16 het hy borde vir sakgeld gewas. Een aand het die “mal Ier” vir wie hy gewerk het, hom ingeroep om met die prawn cocktails te help. “Vanaand kry julle my moderne weergawe. Die geure is vir ons almal geliefd, dis net die voorkoms wat ’n opkikkering gekry het,” het hy vertel. Dis saam met die Zandvliet Sauvignon Blanc geniet.
Gaste het die Zandvliet Chardonnay met die krapkoekie en kaviaarroom- uiesous en die Chorizo-slaai met vars blommetjies met die Zandvliet Shiraz geniet.
Om die mond skoon te maak voor die hoofgereg, is ’n pynappel Clemengold Gin kaneel-en-neut skemerkelkie bedien.
Hoofgereg van beeshaas met kapokaartappel en groente en die vlagskip Kalkveld Shiraz, is gevolg deur donkersjokolade mousse met die Zandvliet VLW. Nagereg is in regte kunsflair op ongedrukte koerantpapier in sierkrulle bedien.
Wynmaker Jacques Cilliers het gesê hy is mal oor die huisrestaurant-idee, want ’n kos-en-wyn pasmaat is ’n intieme, persoonlike ervaring. Wyn gaan vir hom oor stories en met die kos wat by elke wyn gepasmaat is, bied dit die geleentheid om te kuier en met mekaar stories uit te ruil.
Volg @zandvlietwine op sosiale media as jy wil deel wees van die volgende sjefstafel in die stad.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.