Wynliefhebbers kon verlede week by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum (KIKS) van nader kennis maak met van Suid-Afrika se bobaas-wynmakers
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Skaars wyne met hope diversiteit kon by die Kaapse Wynmakersgilde Veiling Showcase geproe word. ’n Totaal van 46 wynmakers het hul wyne te proe aangebied. As voorsmaak van die jaarlikse Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Veiling, bied die Showcase van die 2017 veilingwyne aan wynliefhebbers die perfekte interaktiewe geleentheid om hierdie buitengewone wyne te proe en met topklas wynmakers te gesels.
Hierdie wyne met hul kreatiewe aanslag word in klein hoeveelhede, eksklusief vir die Veiling deur lede van die Gilde gemaak en sal op Saterdag 30 September in Stellenbosch opgeveil word.
Behalwe die gesogde 2017 veilingwyne, sal Gilde-lede ook van hul keldertrots-wyne onder hulle eie etikette aanbied. Duncan Savage van Savage Wines en Adi Badenhorst van AA Badenhorst Family Wines, het vanjaar die Gilde se eerste versnit van hul Gilde-wyne gemaak. Die CWG 2017 Adi Badenhorst en Duncan Savage Love Boat White 2016 en Red 2016 kon albei geproe word.
Voor die publiek die wyne kon proe, is ’n spesiale BBP proe gehou, waar ’n totaal van 44 wyne geproe is en elke wyn deur die betrokke wynmaker voorgestel en bietjie meer agtergrond oor die oesjaar en terroir gegee is.
Showcase-besoekers kon ’n bydrae lewer tot die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Ontwikkelingstrust, deur op skaars bottels van vorige Gildeveilings tydens ’n stil-veiling te bie. Die Ontwikkelingstrust is in 1999 gestig en poog om jong talent in die wynbedryf op te lei en te bemagtig. Dit sluit onder meer die Gilde se Protégé-program, ’n mentorskapskema vir opkomende wynmakers en wingerdboukundiges, in.
Die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Veiling vind op Saterdag 30 September 2017 vanaf 09h00 by die Spier-konferensiesentrum in die Stellenbosch wynlande plaas. Die veiling is oop vir die publiek. Telefoniese en gevolmagtigde bie-fasiliteite is beskikbaar vir diegene wat nie die veiling kan bywoon nie. Registrasie vir die Veiling en VIP-ervaring sluit op Woensdag 20 September 2017. Vir meer inligting en om kaartjies vir die VIP-ervaring by die veiling te koop, besoek www.capewinemakersguild.com, stuur ’n e-pos aan [email protected] of bel 021 852 0408.