Cavalli Landgoed het ’n wynproe met ʼn effense ander benadering aangebied
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Cavalli Landgoed op die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes het onlangs ’n wynproe met ’n effense ander benadering aangebied: die plaas se vlagskip wit-versnit, Cremello, se onderskeie komponente is geproe om aan gaste ’n idee te gee van elkeen komponent se bydrae tot die finale produk.
Cavalli – wat “perd” in Italiaans beteken – is in 2008 deur Jerome Smith gekoop en hy en sy dogter, Lauren, ’n gekwalifiseerde argitek, het die plaas se uitleg en die geboue se ontwerp behartig. Die fokus is op volhoubaarheid en die waterwys-tuine het die afgelope 11 jaar in ’n ware lushof verander.
Die plaas is “volbloed Afrikaans” aldus Mark Lester, bemarkingsbestuurder en gaste kan na die Amerikaanse stalperde in die luukse stalle gaan kyk voor hulle die wynproe of ete by die restaurant geniet. Sjef Michael Deg het in 2017 by die wynplaas se Cavalli Restaurant aangesluit. Hy gebruik daagliks vars groente en kruie uit die plaas se uitgebreide groentetuin.
Die 110 hektaar plaas het 27 hektaar onder wingerd en nege kultivars is aangeplant. Vonkelwyn is een van die plaas se gewildste produkte en daarom is meer Chardonnay aangeplant en Tempranillo uitgetrek. Die meeste van die plaas se bestaande wingerde is uitgetrek en met jong plantmateriaal herplant. Die enigste ou wingerde wat nie uitgetrek is nie, is Verdelho, wat deel vorm van die Cremello.
Die plaas se wynmaker, Craig Barnard, het gaste gelei deur die wynproe waarvan drie oesjare van die Cremello (“blonde perd” in Italiaans) geproe is: die 2015, 2016 en 2017. Die eerste twee oesjare is versnitte uit Chenin blanc, Chardonnay en Verdelho, terwyl die laaste oesjaar ook Viognier by het. Die komponente van die Cremello is geproe in die Filly 2017 (Chenin blanc), die Foal Verdelho 2017 (Verdelho) en die Foal Chardonnay 2017 (Chardonnay).
Tydens die proe is koffieklip op die tafel neergesit, sodat gaste kon sien en voel in watter grond die wingerde oorleef.
Daar word sedert 2012 wyngemaak op Cavalli, maar Craig het eers in November 2014 by die plaas aangesluit. Die plaas het nog nie hul eie kelder nie en die wyne word deur Dornier Wyne gemaak, maar ’n eie produksiefasiliteit en verouderingskelder word vir aanstaande jaar beplan. Die plaas sal dan ook aansoek doen om landgoed-status. Die landgoed maak ook rooiwyne. Al die wyne het perd-verwante name.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.