Willie Burger is die keldermeester by Badsberg Wynkelder in die pragtige Rawsonville-vallei naby Worcester.
Maryke Roberts
Die kelder is in 1951 gestig en sy lede bring almal hul unieke kultivars en kundigheid om die wen-wyne te maak. Willie is die afgelope 17 jaar al wynmaker daar en het by Elsenburg studeer.
Hy vertel dat hy daarvan gedroom het om ’n goeie wynmaker te word, tot die beste van sy vermoë. Hy is trots en dankbaar as hy vertel dat baie van sy drome waar geword het. Hy het gevorder tot keldermeester en is geseënd met hul jaarlikse suksesse.
1. Wou jy van kleins af wynmaker word?
Ja, ek wou nog altyd ’n wynmaker word. Dis iets waarmee jy kan eksperimenteer, elke dag is nie dieselfde nie, en dis definitief ’n lekker bedryf om in te werk.
2. Wynkompetisies: euwel of nie?
Ek voel dat daar definitief te veel van hulle is. Dit verwar die publiek. Dis positief dat daar wel wynkompetisies is wat vir jou kan wys of jou kelder se wyn op standaard is, soos die Jongwynskou. Dis ’n goeie barometer in ons plaaslike omgewing. Jy kan eksperimenteer met nuwe kultivars en versnitte. Ons as kelder neem nie deel aan meer as twee wynkompetisies nie. As ons ’n goeie medalje wen, dan verkoop die wyn ook beter. Kompetisies kan partykeer ’n slegte, moeilike ding wees, aangesien die beoordelaars ook net menslik is. Hulle mag dit dalk moeilik vind om die verskille tussen wyne te identifiseer en dan die ene te kies met die bekendste geure in plaas van die beste. Die wyne met meer struktuur of voller geure is geneig om meer goue medaljes te wen as die subtiele, hoë-kwaliteit-mededinger. Nietemin het Suid-Afrika wynkompetisies nodig om produsente gedurig aan te moedig om uitsondelike wyne te produseer. Die geleenthede verhoog die standaard van die wynmaakbedryf, dryf dit tot nuwe waardes en verseker dat Suid-Afrikaanse wyne net beter word.
3. Wat sal jy as loopbaan-hoogtepunt uitsonder?
Toe Badsberg in 2009 die Generaal Smuts- en die Nasionale Pietman Hugo-trofees in dieselfde jaar by die Suid-Afrikaanse Nasionale Jongwynskou gewen het. Dit was die eerste keer in Suid-Afrika se geskiedenis dat ’n kelder altwee wen.
4. Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers uitdra?
Daar is te veel handelsmerke op die mark; dit verwar verbruikers. Die gebottelde wyne word te goedkoop verkoop. Supermarkte en restaurante voeg ’n enorme wins by hul verkoopprys,terwyl ons dit teen ’n spesiale prys aan hulle verkoop. Op die ou einde kry die produsente ’n minimum-bedrag terug. Wat my ook van die wynbedryf pla, is dat daar by ´n restaurant verwag word dat daar ’n kelner is en ´n kurkfooi vir die bottel wyn betaal moet word.
5. Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Die wêreld van wyn hoef nie intimiderend, onverstaanbaar en snobisties te wees nie. Wyn is bedoel om geniet te word; of jy dit drink uit ’n Bohemia-kristalglas of uit jou vlekvryestaalbeker op die jagveld.
6. Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Ja, ja en ja. Daar is sekere kultivars en style wat voorkeur geniet en die verbruiker word oortuig dat dit die ‘regte’ wyn is. Daar is nog baie ongeligte mense, maar die verbruikers weet deesdae meer as vroeër jare. Die wynbedryf het die afgelope paar jaar deur wynfeeste, kompetisies, wynpromosies en bekendstelling baie verbeter. Mense is nuuskierig oor wyn, en sal moeite doen om die verskeidenheid te proe. Die blootstelling is beter!
7. Wat is jou beste bemarkingsmiddel?
Wynskoue, mense se aanbevelings, sosiale media en natuurlik ons eie produk om altyd goeie kwaliteit te produseer.
8. Wat drink jy die graagste, wit, rooi of MCC?
Wit. Badsberg Chardonnay Sur Lie is ook my algehele gunsteling. Die vrug en kompleksiteit is heerlik. Dit komplimenteer enige dis.
9. Wat is jou romantiese herinnering aan wyn?
In 2014 was ek en my pragtige vrou, Mariet, Italië toe. Ons het by ’n restaurant langs die see in Vernassa geëet en gekuier.
10. Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. skink; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
a) Ruk die kapsule af en maak dan die bottel oop met ’n kurktrekker, of draai kurktrekker deur die kapsule om die kurk te verwyder.
b) Hulle berg dit nie altyd in ’n koel plek nie, en laat dit ook nie lê nie. Dit is belangrik om dit konstant in ’n koel temperatuur te berg.
c) Om rooiwyn saam met vis te eet, want dan kan jy enige wyn saam met enige kos drink. Maar dit is maar altyd beter om die witwyne saam met witvleis te eet en die rooiwyne saam met rooivleis.
11. Wat is vir jou die een enkele faktor wat ’n sekere wyn ’n wenner maak?
Die balans tussen smaak en geur – nie te vol nie; nie te swaar nie. En konsekwentheid.
12. Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Daar is nie ’n spesifieke tyd aan gebonde nie.
13. Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat kusstreke beter wyn oplewer as die Breedekloof, en dit is nie waar nie. Dit is al oor en oor bewys deur wynkompetisies en wynskoue. Ook dat nie alle wyne met tyd verbeter nie. ’n Groot gedeelte van ons wyn wat nou beskikbaar is, is ook nou reg om te drink en het nie meer so baie verouderingspotentiaal nie. Daar is regtig slegs ’n paar wyne wat vir langer as ’n dekade kan verouder.
14. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om weer die Generaal Smuts-trofee te wen.
15. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Meganiese ingenieur
16. Hoe ontspan julle as gesin saam?
Ek en my vrou en dogter, Annemie, geniet dit om te gaan kamp en see toe te gaan.
17. Het jy ’n hond wat oral op die plaas saam met jou ry?
My hond is ’n huishond, maar ons kelderhond, Pepper, gaan oral saam op die plaas, maar dis eintlik ons senior wynmaker, Henri Swiegers, se hond.
18. Woon jy op die plaas? En indien wel, wat is die voordele daarvan?
Ja, dis ’n rustige omgewing en stil. As daar ’n krisis is, is jy lekker naby aan die kelder en dis ongelooflik voordelig om in parstyd só naby te bly.
19. Wat geniet jy die meeste van jou werk as keldermeester?
Die beplanning van die nuwe oes, afset en styl van nuwe wyne, asook dat jy elke dag met nuwe mense te doene kry.
20. Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Die vrug, en rypheid van ons wyne; die kompleksiteit en balans. Suid-Afrika het ’n groot hoeveelheid kultivars en diverse style waaruit die finale produk gemaak kan word. Elke streek is só uniek met sy eie grondtipe, klimaat, gradiënt en sonblootstelling.
• Besoek www.badsberg.co.za vir meer inligting oor die kelder se lede, doen en late en wyne.
SOURCES
Verskaf