Reinier van Greunen of Rys soos hy bekend is, is die afgelope 12 jaar die rooiwynmaker by Namaqua Wines op Vredendal aan die Weskus.
Maryke Roberts
Die kelder behoort aan die omgewing se produsente en dit het destyds as ’n korporatiewe kelder bestaan. Hy het op Elsenburg gestudeer: Eers ’n tweejaar-sertifikaatkursus en toe ’n derde jaar in keldertegnologie. Hy wou nie altyd ’n wynmaker word nie, en vertel dat hy landbou studeer het, want hy kom meer uit ’n aartappel- en skaap-agtergrond. Op Elsenburg het hy met die wonder van wynmaak te doen gekry en toe hy eers van die wynplase begin besoek, was die koeël deur die kerk.
Hy is getroud met Sanet, en hulle het twee seuns, Reinhard en Corne. Die gesin geniet naweke by die see, waar almal op die strand baljaar, en as die weer guur is, speel hulle graag saam met ouma kaart by die kombuistafel. Die gesin het twee honde, Skye en Spot, wat vir Sanet oppas. Sy is ’n tuisblyma en die gesin woon op die dorp en nie op die plaas nie.
Wat was jou drome toe jy daar by Namaqua begin het en hoe ver het jy gevorder met dit wat jy beplan het?
Die groot droom was basies om wyne te maak wat almal se smaak pas en dat almal jou wyn sal drink en daarvan sal praat. Dit is lekker om so nou en dan ’n wyn te maak wat ’n toekenning kry. Ek glo ek het by die regte maatskappy ingeval, want as jy kyk waar ons vandag is, is ons in die regte mark. Ek glo ek is redelik gevorderd, maar dit is ’n aanhoudende proses.
Wat was sover jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
Om eerlik te wees, ek moet nog by my grootste hoogtepunt kom. Die dag as ek klaar wyngemaak het en die mense kan sê: “dit was ’n goeie wynmaker”, sal dit die hoogtepunt wees. Ek werk nog na dié hoogtepunt toe.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Die diversiteit van die wyne uit die verskillende streke en die feit dat ons nie rigiede maatreëls het oor waar jy watter kultivars mag aanplant soos in Frankryk nie. Hulle sou byvoorbeeld die Olifantsrivier-streek as ’n warm area klassifiseer, dan mag jy net soet wyn daar maak, maar as jy kyk na die ongelooflike rooi- en witwyne wat ons hier maak, sou die klassifikasiestelsel nie werk nie.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Ek geniet altyd my wyn, maar die meeste saans wanneer ek kos maak en so tussendeur aan ’n glasie kan teug.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Dit is definitief nodig vir die bedryf sodat jy jouself nie net kan meet teen ander kelders nie, maar ook teen die wynmakers. Dit is altyd lekker om bietjie onderlinge kompetisie te hê. ‘n Mens het mos ‘n kompeterende geaardheid, so kompetisies is goed, hoewel nie alle kompetisies nie. Party kompetisies voeg waarde tot die bedryf toe en ander is net ’n geldmaakbesigheid.
Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers toe uitdra?
Dat party wynmakers en -kelders ’n beeld uitdra dat jy ’n sekere klas persoon moet wees om wyn te kan geniet. Dit is waarmee ons baie sukkel. En ook dat as jy nie ’n duur bottel wyn koop nie, dit nie ’n goeie wyn is nie. Dit is ons filosofie hier dat wyn vir almal gemaak word – van die laagste tot die hoogste “klas”.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ek is nie sterk aan die bemarkingskant nie, maar glo dat bemarkers al slimmer moet begin dink oor hoe om wyn te bemark dat die publiek jou produk kan sien. Almal doen wynproeë en kos-en-wyn-aande en bitter min kelders het geld vir televisie-advertensies. Dis ’n probleem dat ons nie in die visuele media kan kom dat mense jou produk kan sien nie. As iemand voor ’n rak gaan staan en jou wyn uit 200 bottels voor hom moet kies, weet hulle nie waarvoor om te soek nie, want hulle ken nie die aansig van jou produk nie.
Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Ja, ek kyk hulle baie keer as hulle in ’n winkel voor ’n wynrak staan en nie ’n idee het waar om te begin nie. Dan loer hy maar wat die ou langs hom vat en vat dan maar dieselfde. Ek moet erken, toe ek self begin het, het ek gedink dat cabernet, merlot en pinotage almal een druif is en jy hom net verskillende etikette gee as jy bottel. En ek het studeer.
Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn?
Dit speel nog nie so ’n groot rol nie, ons besigheid is meestal boks wyn. Op ons gebottelde wyne help dit nogal, veral as ons aan bestewaarde-skoue deelneem, omdat ons in daardie tipe prysklas val. Ons kry byvoorbeeld meer waarde as ons Namaqua-reeks “beste waarde” op skoue wen as wanneer hulle ’n Decanter-goue medalje wen. Wynskoue is belangriker vir ons vlagskipbottels.
Wat is jou beste bemarkingsmiddel?
Die wyn self. Mense moet dit proe. Ek hou graag wynproeë en dis maar deel van my geaardheid om humor daaraan te koppel. Dit laat mense ontspan en gemaklik voel en volgende keer as hy ’n drinkding koop, sal dit een van my bottels wyn wees, want hy voel vertroud daarmee. Mense wil nie sommer wyn in die middag drink nie, want hulle glo dis te deftig en net vir aandete by ’n gedekte tafel bedoel. My wynproe-ervaring breek daardie persepsies af.
Het jy ’n drinkvoorkeur tussen wit, rooi of MCC?
Definitief rooi, of dit nou warm of koud is. Wit wyn gee my erge hooikoors en MCC gaan te vinnig na my kop toe!
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Ek het in die Cederberge met ’n Cederberg shiraz aan Sanet verloof geraak en het ook daardie aand een present gekry, wat ons volgende jaar wil drink met ons 10de huweliksherdenking.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Mense besef nie watter delikate werk in die wynmaakproses ingaan nie. Die versigtigheid om te verseker dat alles wat dit inkry, regdeur al die stappe behoue bly. Party mense sien dit as ’n tipe fabrieksding, maar daar is fynere details wat ’n mens in die kelder moet doen.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat goeie wyn duur moet wees en dat goedkoop wyn swak wyn is. Dis glad nie waar nie. Mense koppel ’n prys aan kwaliteit.
Het jy ’n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
By die kelder self is daar nie ’n stil hoekie nie, maar as ek stilte soek, vat ek my fiets en gaan ry. Tydens parstyd vat ek sommer my fiets gedurende middagete en gaan ry om my kop bietjie skoon te kry.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ek dink nie te ver vooruit nie, maar as mense oor 20 jaar steeds kan sê dat ek goeie werk hier doen en goeie wyn maak wat nie net op medaljes fokus nie, maar op lekker drinkwyn, sal dit lekker wees. Ek wil hê mense moet my met die wyne assosiseer en sê: “Dis Rys se wyn dié.” As ek dáár kan uitkom, sal dit goed wees.
SOURCES
Verskaf