Durbanville Hills het onlangs vir Kobus Gerber as sy nuwe witwynmaker aangestel.
Maryke Roberts
Kobus se groot passie is om ikoniese sauvignon blanc-wyne te maak. Hy het Gunther Kellerman teen die einde van Junie vervang toe Gunther by sy pa in hul familie-onderneming gaan aansluit.
Kobus was die Bergkelder se groep-wynmaker, waar hy ook vir die internasionaal bekroonde Lomond-wynreeks verantwoordelik is. Hy het in 1990 deel van die Bergkelder se span geword, en het die produksie van witwyne en die bestuur van vatveroudering vir die Fleur du Cap-wynreeks in 2002 oorgeneem. In sy dienstyd het Kobus twee seisoene in Frankryk deurgebring, waar hy sy wynmaakkennis en tegniese vermoëns uitgebrei het. Hy was ook ’n lid van die proepaneel vir die Nasionale Jongwynskou asook die Wyn- en Spiritualieëraad, en is ’n lid van die Chenin Blanc-vereniging en die Sauvignon Blanc-belangegroep. In sy jare by die Bergkelder het hy ’n indrukwekkende versameling plaaslike en internasionale trofeë asook goue en dubbelgoue medaljes versamel.
Kobus se gunstelingwyn
1. Hoe voel dit om by Durbanville Hills aan te sluit?
Dit is ’n groot droom wat waar word. In die 90’s voordat Durbanville Hill bestaan het, was ek verantwoordelik vir witwyne by die Bergkelder en baie van die huidige produsente het toe druiwe by ons gelewer. In ’n mate voel dit dus asof die sirkel nou voltooi word.
2. Waar het jy studeer?
Ek het nie wynmaak studeer nie, ek het op Stellenbosch grootgeword en daar het my passie en liefde vir die beroep van ’n jong ouderdom af ontwikkel.
3. Wat was jou drome toe jy as jy wynmaker begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Vir my gaan dit daaroor om jou passie uit te leef en dit is nog steeds so. Ek geniet elke oomblik as wynmaker.
4. Wou jy altyd wynmaker word?
As die wyngogga jou eers gebyt het, los hy jou nooit weer nie, en in my geval was dit al op ’n baie vroeë ouderdom. So ja, ek wou nooit iets anders wees nie.
5. Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Dit is belangrik in die sin dat dit vir die verbruiker bevestiging bied van die kwaliteit van die produk, maar ek voel baie sterk daaroor dat daar hopeloos te veel kompetisies in ons bedryf is.
6. Wat was jou grootste hoogtepunt as wynmaker tot dusver?
Dit is en sal altyd wees om te verseker dat ons kliënte kwaliteit en waarde vir hul geld kry.
7. Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Die wonderlike ding van wyn is, is dat daar so baie verskillende style is dat jy wyn met enige geleentheid kan geniet, dus omskep ek elke moontlike geleentheid sodat ek die produk verantwoordelik kan gebruik.
8. Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers toe uitdra?
Die wanpersepsies wat daar heers oor die algemene toestande van plaaswerkers. Indien daar haglike toestande is, is dit ’n baie klein persentasie van die totale bedryf en dit word soms verkeerdelik aan die groot klok gehang.
9. Wat is jou beste hulpmiddel vir bemarking?
Die gehalte en inhoud van die produk is altyd koning.
10. Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Ja, maar dit is nie uniek aan net ons bedryf nie, dit is ’n algemene verskynsel in die meeste bedrywe waar daar wye keuses is. Ek moet dit egter ook duidelik stel dat daar baie verbruikers is wat baie goed ingelig is.
11. Watter rol speel wynskoue in die bemarking van jou wyn?
Dit is baie belangrik, aangesien dit jou as produsent die geleentheid bied om jou wyne aan ’n wye verskeidenheid van verbruiker bekend te stel en om moontlike vrae eerstehands te kan beantwoord.
12. Het jy ’n voorkeur tussen wit, rooi of MCC?
Nee nie werklik nie. Vir my persoonlik is daar altyd ’n tyd en geleentheid vir al die verskillende wyne en style. Ek het baie gunstelingwyne, maar my gunstelingkultivar is Sauvignon blanc, ek geniet die verskillende style bv. tropies vs. kruidagtig vs. mineraalagtig en gehoute style.
13. Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Baie van ons beste witwyne kom van koel areas, waar die trosse lank hang voor dit optimale rypheid bereik. Dit veroorsaak wyne met natuurlike hoë sure en lae PH’s. Hierdie wyne raak net beter met veroudering. Die leemte vir my is dat baie verbruikers nie bewus daarvan is dat van hierdie wyne tot 10 jaar kan verouder nie.
14. Wat is vir jou die een enkele faktor wat ’n sekere wyn ’n wenner maak?
Konsekwentheid.
15. Wat is die een ding wat die wynmaakproses waarvan min mense weet?
Lang ure en min slaap tydens parstyd.
16. Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat dit net nóg ’n alkoholiese drankie is.
17. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Definitief enige beroep waar jy nie heeldag agter ’n lessenaar hoef te sit nie.
18. Hoe ontspan jy en jou gesin saam?
Ek en my vrou, Talitha, ’n meisie van De Doorns, is geseënd met twee pragtige seuns, Tiaan en Ruan. Ons hou daarvan om wintervakansies weg te breek na die Karoo of wildtuin en somervakansies by die see te ontspan. Deesdae word die naweke meeste van die tyd opgeneem deur die twee seuns se sport.
19. Waarvan droom jy vir die toekoms?
My groot droom is dat een van my twee seuns eendag in my voetspore sal volg en ’n liefde vir wynmaak mag ontwikkel.
20. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Dat daar ’n eindproduk is wat hopelik die verbruiker tevrede stel.
21. Het jy ’n gunstelinghoekie by die kelder waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ja, gewoonlik die verste, mees ontoeganklike hoek in die kelder, waar niemand jou kan pla of vind nie.
22. Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Die diversiteit wat ons wyne bied – daar is min ander wynproduserende lande wat dit bied.
23. Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunstelingbestemming?
Ek het ’n groot liefde vir Afrika en sy mense. Die mense in Afrika smag na kennis en opleiding.
• Vir meer inligting oor Durbanville Hills, loer by www.durbanvillehills.co.za
SOURCES
Verskaf
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.