Jacques is gebore en getoë op Bon Courage en sê hy het letterlik sy verstand daar tussen die plaas se pragtige wingerde gekry.
Maryke Roberts
Die Robertson Wynvallei se volgende lekker fees is Wine on the River wat van 16 tot 18 Oktober op die plaas Goudmyn op die R317 tussen Robertson en Bonnievale gehou word. Wynplase sal hul stalletjies op die rivieroewer oprig en daar is kos en vermaak vir die hele gesin.
Een van die wynmakers wat jy daar kan gaan opsoek, is Jacques Bruwer van Bon Courage. Jacques is gebore en getoë op Bon Courage en sê hy het letterlik sy verstand daar tussen die plaas se pragtige wingerde gekry. Hy het in 1990 amptelik deelgeword van die besigheid. Hy lag as hy vertel dat hy sy diensplig in Heidelberg in die voormalige Transvaal gedoen het, en net daar besluit het daardie wêreld is nie vir hom nie. “My wortels lê stewig geanker in die Kaap op die plaas waar ek kan ry waar ek wil en gaan waar ek wil. Ek is beslis nie ’n kantoormens nie.”
Hy het op Elsenburg Landboukollege studeer en ’n derde jaar in keldertegnologie voltooi.
Jacques is getroud met Trudi en hulle het drie kinders : Inge, Karli en André. Hul gesin se lekkerste ontspan is om die tafel op ’n Vrydagaand by die braaivleisvuurtjie, wynglas in die hand, terwyl hulle oor enige denkbare onderwerp gesels.
Sien jy uit na Wine on the River en is dit jou gunsteling Robertson Wynvallei-gebeurtenis?
Ek sien baie daarna uit, want dis weer ’n geleentheid om die publiek in aanraking te bring met ons wyne en ek is trots daarop om dit met hulle te deel. Van al die feeste is die Wine on the River die beste. Dis rustig en jy het die geleentheid om met die mense te gesels. Die atmosfeer langs die rivier sit almal in ’n rustige, vrolike luim en dan geniet ´n mens ’n glasie wyn op sy beste.
Wat was jou ideale in jou rol as wynmaker toe jy daar begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
My ideale was om die Bon Courage-handelsmerk uit te bou en om te begin om Cap Classique, terroirgedrewe wyne en enkelwingerd-wyne in verskillende kultivars en style te produseer, sodat ons die beste kon bottelleer. Die toekennings wat ons al oor die jare gewen het, weerspieël dat ons daardie doelwitte bereik het.
Wou jy altyd wynmaker word?
Gedurende my diensplig het ek ook besef: alles is reeds hier; my pa het die fondamente gelê en ek het die geleentheid om dit verder uit te bou, groter en beter te maak. Ek sou dom gewees het om my rug daarop te draai.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Ek is ’n groot voorstaander van wynkompetisies, alhoewel dit duur is. Maar die blootstelling is oneindig – om deel te neem en te presteer in kompetisies het baie bygedra tot die bekendstelling van ons handelsmerk aan die publiek.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Op Kaap Agulhas langs die braaivleisvuur!
Wat was sover jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
Om die Top Veritas-presteerder te wees en die Generaal Smuts-trofee te wen vir ’n shiraz by die Nasionale Jongwynskou – albei in 2003.
In 2004 het ons die beste internasionale bottel gegisde vonkelwyn gemaak – dit was beslis ook vir my ’n groot hoogtepunt.
Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit na verbruikers toe uitdra?
Produsente wat swak kwaliteit wyn in ’n bottel sit en dit dan teen goedkoop pryse probeer verkoop. Dit breek die standaard van die mark af en dra ’n slegte beeld na die verbruiker uit.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Mense wat wyne bemark teen prys in plaas van kwaliteit. Daar is beslis ruimte om verbruikers meer bloot te stel aan kwaliteitwyne in plaas van goedkoop wyne.
Wat is jou beste bemarkingsmiddel?
Gaan uit in die handel, bied wynproeë aan en vertel mense van jou produk.
Het jy ’n voorkeur tussen wit, rooi of MCC?
Dit hang af van die seisoen. Ek drink meer MCC en wit, maar in die winter is ’n glasie goeie rooiwyn darem altyd lekker.
Een van Jacques se hoogtepunte as wynmaker.
Wat is jou mooiste of mees romantiese herinnering aan wyn?
Toe ek my vrou gevra het om te trou, het ons ’n bottel 1991 Drapier Franse sjampanje geniet.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die skink, stoor of berging en pasmaats met kos van wyn?
Die grootste fout is om ’n glas tot oorlopens toe vol te maak. Nie almal doen genoeg moeite om wyn reg te stoor nie – om wyn te verouder, is ’n delikate proses.
Ek kan nie fout vind met wie wat drink saam met sy kos nie – as iemand hou van soetwyn saam met sy steak, wie is ek om te stry? Solank hy dit net geniet!
Wat is vir jou die een enkele faktor wat ’n sekere wyn ’n wenner maak?
Jy moet hands-on wees van die wingerd, deur die kelder tot die wyn in die bottel is. ´n Mens kan nie goeie wyn van swak druiwe maak nie.
Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Hulle weet nie van die harde werk, toewyding en passie wat in ’n iedere en elke wyn ingaan nie.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat net gesofistikeerde mense wyn drink – wyn is vir ’n ieder en elk, vir alle geleenthede en as daar nie ’n geleentheid is nie, dan skep jy een.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Dat ek ’n slag in Februarie kan gaan visvang in plaas van pars! Maar omdat die wynmakery my passie is, sal visvang altyd tweede kom.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Nou is die eerste keer wat ek daaraan dink, ek het nog nooit getwyfel oor my beroep nie.
Het jy ’n hond en gaan hy oral saam op die plase?
Ons het vier honde, Hannah (Yorkie) en Ann (Scottie), die dames van die span en dan is daar Rexi (Yorkie) en Jack D (Scottie), my twee assistente. Hulle ken die kelder al beter as ek en kan nie wag vir die Jeep se wiele om te draai sodat hulle saam op die plaas kan ry nie!
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Die MCC – omdat ek die eerstes daarvan op die plaas gemaak het.
Het jy ’n gunstelinghoekie by die kelder waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
In die ondergrondse kelder, waar duisende bottels MCC besig is om te gis – net om daar te sit en na die stilte te luister.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Omdat ons klimaat so goed is vir bereiding van wyn, kry ons baie vruggedrewe wyne met ’n goeie balans wat die wyne makliker laat drink. Die verbruiker hoef dus nie die wyne te verouder nie, dis dadelik drinkbaar. Ons wyne is beslis verbruikersvriendelik.
Ek wil altyd hê dat as iemand ’n bottel wyn leeggemaak het, hy moet kan sê: “Dit was nou lekker, hiervanwil ek nog drink.”
Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunstelingbestemming?
Ja, maar my gunstelingbestemming bly my huis. Hoewel ons al die wêreld oor was om ons wyne bekend te stel, bly dit die lekkerste om ons wyne met ons eie Suid-Afrikaanse mense in ons eie taal te deel.
SOURCES
Verskaf
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.