Met Vrouedag wat op 9 Augustus gevier word, is dit heel toepaslik om met ’n vroulike wynmaker te gesels.
Maryke Roberts
Debbie Thompson is 16 jaar gelede op ’n skrale 23 jaar aangestel as die eerste vrouewynmaker by Simonsig Landgoed buite Stellenbosch. Behalwe die gros pryse wat haar wyne inpalm, spog sy ook met die titel as Vrouewynmaker vir 2005.
1. Waar was jy voor jy op Simonsig aangestel is?
In 1999 het ek my pars-prakties gedoen by Hazendal Landgoed onder die toesig van Ronel Wiid. Hazendal was my keuse omdat dit ’n klein landgoed is en ek wou met alle apekte van wynmaak betrokke wees en boonop wou ek sien hoe ’n vrou die bedryf ondervind. In November 1999 het Simonsig geadverteer vir ’n rooiwynmaker. Ek het aansoek gedoen as assisistent, aangesien ek nog net een pars agter my naam het. Of dit nou noodlot of geluk was, is ek op ’n jong ouderdom aangestel. Johan Malan, ons keldermeester, het ’n kans gewaag op my.
2. Waar het jy studeer en het jy altyd gedroom van wynmaker word?
My liefde vir diere het my na die Universiteit van Stellenbosch gebring om my keuringsjaar te doen vir Veeartsenykunde. Stellenbosch is ’n bietjie nader aan Springbok (tuisdorp) as Pretoria. Gou het ek die towerdrankie van die wynroetes ontdek en só het my passie vir wyn die oorhand geneem. Ek het my BSc Agric (Wynkunde Spesialisering) in 1999 voltooi.
3. Wat was jou drome toe jy by Simonsig begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Ek moet sê dit was vreeslik oorweldigend toe ek hier begin werk het. Ek was ’n regte ou groentjie in beheer van ’n parskelder met die pos as rooiwynmaker; groot skoene om te vul. Die aanpassing vir my was net so groot as vir my medewerkers. Dit was die eerste keer wat hulle saam met ’n vrou werk en dan boonop so jonk ook. Dit was sink of swem. Ek het onmiddellik alle fisiese werk saam met hulle gedoen. Op daardie stadium was daar net een mikpunt: om alles met oorgawe aan te pak en ’n sukses daarvan te maak. My drome was meer realiteit; Simonsig was en is ’n bekende wynlandgoed en ek het onmiddellik skouer aan die wiel gesit om gehaltewyne te maak. Die afgelope 16 jaar was ek en die span vreeslik geseënd om menige prestasies te bereik. Die bedryf hou ´n mens nederig en jy moet net dankbaar wees vir elke prys wat jy inpalm.
4. Waarheen is die landgoed op pad en waarop is julle trots daar?
Al is Simonsig Landgoed een van die oudste, gevestigde familieplase, streef ons nog steeds na innovasie en kwaliteit. Konsekwentheid in kwaliteit is vreeslik belangrik en ek is trots om te sê dit is ook een van die goed waarvoor ons bekend is. Ons het ’n groot wynportefeulje en dwarsdeur die spektrum is daar een mikpunt: waarde vir geld. Ons is trots op ons omgewing, wingerde, wyne en heel belangrikste, ons mense. Sukses verg spanwerk.
5. Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Daar is ’n gesegde “As jy nie meet nie, sal jy nie weet nie”. Kompetisies sal altyd kontroversieel bly. Die publiek verlang dit, hulle heg waarde daaraan. Dis is onmoontlik om deesdae aan al die kompetisies deel te neem. By Simonsig fokus ons op ’n paar waaraan ons kliënte plaaslik en oorsee waarde heg.
6. Wat was jou grootste hoogtepunt as wynmaker tot dusver?
Die titel as Vrouewynmaker van die Jaar in 2005.
7. Wat pla jou van die wynbedryf en die beeld wat dit uitdra na verbruikers toe?
Ongelukkig is daar SA wyne wat in die oorsese mark deurglip, wat eenvoudig nie op standaard is nie. Die prys van die wyne is dan ook goedkoper, gevolglik kies die verbruiker daardie wyn en dis die indruk wat die oorsese verbruiker van die Suid-Afrikaanse wynbedryf kry.
8. Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Vir my is die grootste leemte in Suid-Afrika dat elke handelsmerk op sy eie staan. Ons moet eenvoudig die handelsmerk “Suid-Afrika” bemark. Saam sal ons meer trefkrag in die buiteland hê. Sodra ons dit kan regkry, sal SA nie meer ver weg geposisioneer word met klein allokasies op winkelrakke nie, maar meer blootstelling kry. Binnelands moet ons fokus op elke ras in SA en wyn nie so gekompliseerd maak nie, sodoende sal elkeen voel dis ook hul leefstyldrankie.
9. Is verbruikers oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Nie elke verbruiker is ’n “wynfundi” nie en is bang om te eksperimenteer met iets wat nie bekend is nie. Die groot ses, naamlik Cabernet Sauvignon, Merlot, Shiraz, Sauvigon blanc, Chenin blanc en Chardonnay, sal altyd oorheers. Gelukkig met wyn is daar oneindige keuses en op die einde is dit slegs die verbruiker wat besluit wat hy/sy wil geniet. Jan en San Alleman speel veilig, maar sal nou en dan haar- of homself oorgee aan ’n versnit, maar weer eens met kultivars waarmee hy/sy hom/haarself kan vereenselwig.
10. Het jy ’n voorkeur tussen wit, rooi of MCC as jy kies wat om te drink?
Vonkel vir elke dag van die week, as ek kon. Ek geniet verskillende witwyne in die somer en rooiwyne in die winter. Ek het nie ’n spesifieke voorkeur nie, maar meer wanneer ek dit die meeste geniet.
11. Wat is jou mooiste/ mees romantiese herinnering aan wyn?
Op 24 Augustus 2005 toe ek en my man, Simon, verloof geraak het. Ons het vakansie gehou op die San Sebastian-skiereiland in Mosambiek. Daardie middag het hy my geneem om na die sonsondergang te gaan kyk reg op die punt van die skiereiland, “World’s View”. Dis prentjiemooi en só idillies. Toe ons die punt bereik, staan daar ’n bottel Simonsig Kaapse Vonkel in ’n ysbak met heerlike garnale daarmee saam. Hoe kon ek “nee” sê? Simon is tans plaasbestuurder vir Thelema Mountain Vineyards.
12. Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak?
Met skink is dit etiket om die glas nie te vol te skink nie. Baie mense is lief om die glas oorvol te gooi. In die geval van witwyne raak die wyn later warm in die glas en met rooiwyn kan die wyn nie asemhaal nie, met ander woorde dit kan nie in die glas ontwikkel nie. Die goue reël is gewoonlik witwyn met witvleis soos hoender en vis en dan rooiwyn by rooivleis. Daar is definitief uitsonderings op die reël, soos byvoorbeeld ’n ligte rooiwyn soos Pinot Noir is definitief ’n wenner by sommige witvleise. Dit is wat wyn en kos só interessant maak, want die kombinasies is oneindig.
13. Wat is vir jou die een enkele faktor wat ’n sekere wyn ‘n wenner maak?
Balans.
14. Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Die diversiteit van die proses. Al die tyd, presisie en energie wat dit verg om enige wyn markgereed te maak.
15. Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Ongelukkig word die verkeerde boodskap uitgestuur dat wyn en alles wat daarmee gepaard gaan, gekompliseerd is. En eintlik is dit eenvoudig ’n produk vir almal om te geniet.
16. Waarvan droom jy vir die toekoms vir die wynmaakbedryf?
Dat almal in die bedryf kan saamstaan en “Handelsmerk SA” bemark.
17. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Definitief op ’n plaas in Namibië gewerk het om verworpe diere te versorg.
18. Het jy en Simon kinders?
Ons is geseën met twee pragtige dogtertjies. Hannah is nou vyf en Jesse twee. As gesin is ons lief vir die natuur. Ons stap vreeslik graag met die honde in die wingerd. Somer of winter vind ons toevlug in die see. Naweke sal ons wegbreek na Paternoster of Yzerfontein. Een van Simon se menigte stokperdjies is houtwerk. Hy het in 2004 begin om man-alleen´n boot te bou. Ons het vir Jennifer Leigh in 2014 by Gordonsbaai in die water gesit. Die kinders geniet dit vreeslik om saam met Pappa ’n vissie te vang. Naweke by die huis is natuurlik braaityd saam met vriende.
19. Woon julle op Simonsig?
Ons is baie gelukkig om op Thelema te bly. Die plaas is asemrowend en die uitsig ongelooflik. Dit is geleë net buite Stellenbosch in die pragtige Banhoekvallei. Een van die grootste voordele is dat my kinders op ’n plaas grootword met al die vryheid wat dit meebring.
20. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Om saam met my werkers in die kelder te werk, veral wanneer ons die versnyding van wyne doen.
21. Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Elkeen van my wyne het sy identiteit en is op die een of ander manier spesiaal. As ek een moet voortrek, is dit die Redhill Pinotage. Pinotage is ’n eg Suid-Afrikaanse druifvariëteit, maar word so misverstaan, al maak dit van die mooiste wyne in die land. Die variëteit vereis respek en dis ’n uitdaging om hom te tem. Sy diversiteit en veelsydigheid vind ek besonders. Die reuk van pruim, moerbeie en rooibessie gemeng met nuwe Franse eikehout as ons dit na vate neem, laat my tone skoon omkrul.
22. Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ek geniet draf vreeslik. Ek ontvlug in my middagete na die wingerde. Ek draf so 5 kilometer net om my gedagtes te laat gaan. Glo my, so ’n draffie is definitief goed vir die siel én liggaam. Anders stap ek ’n draaitjie om die kelder en praat partykeer met myself…
23. Na wie in die wynbedryf gaan jy vir raad en hoekom?
Johan Malan. Hy is nie net my keldermeester nie, maar ook my leermeester. Sy kennis van wyn is ongelooflik, sy praktiese ondervinding oneindig en sy presisie is inspirerend.
24. Na watter wynmakers kyk jy op?
Daar is soveel talentvolle wynmakers in die bedryf na wie ek opkyk, maar ek sonder een uit en dit is Carl Schultz van Hartenberg.
SOURCES
Verskaf
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.