KWV se nuwe wynmaker, Wim Truter, het pas die leisels by die bekroonde wynmaker, Johann Fourie, oorgeneem.
Wim is getroud met Lidene, ‘n spraakterapeut by ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes. Hulle het twee hondekinders, die labradors Zoe en Mila. Hulle woon op ‘n landgoed omring deur wingerde en sê dis ongelooflik om vroegoggend met die honde te gaan draf en om te voel jy is myle van die stad af, al is jy feitlik in die dorp.
Waar het jy grootgeword en geswot?
Ek is ‘n boorling van die Strand en het by die Universiteit van Stellenbosch geswot en toe vir twee jaar in Australië, die VSA en Frankryk gewerk.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Ek kom uit ‘n familie wat in die bedryf betrokke is en ná skool was dit ‘n goeie opsie om chemie; biologie en kreatiwiteit saam te smelt. My regte waardering en besef vir watter goeie keuse ek gemaak het, was na my eerste pars as student en van daar groei dit net meer met elke pars, proe of reis na ‘n nuwe kelder of area.
Waar was jou eerste werk en wat het dit behels?
Ek het ‘n matriekvakansie in ‘n kelder gewerk en vloere geskrop en tenke gewas.
Waar het jy gewerk voor jou nuutste pos?
Terug in Suid-Afrika na my studies en rondreis oorsee, het ek by Nederburg in die Paarl as rooiwynmaker gewerk, voor ek gekies is vir ‘n meestersprogram in wingerd- en wynkunde in Europa. Terwyl ek my meestersprogram in Europa gedoen het, het ek in Frankryk, Spanje en Italië baie ondervinding opgedoen. Ek het my tesis oor wingerdboukundige praktyke in Suid-Afrika gedoen en toe teruggekeer na Nederburg waar ek witwyn gemaak het, voor ek by Bergkelder in Stellenbosch eers as rooiwynmaker en toe as keldermeester gewerk het.
Hoe voel jy oor jou nuwe pos by KWV?
Dis ‘n geweldige eer en voorreg en ek is baie dankbaar dat diegene wat voor my hier gewerk het, ‘n ongelooflike platform geskep het waarop ek nou kan bou. Die span is almal toegewy aan uitstekende wyn en ons gaan lekker saamwerk om die uitmuntendheid in die wingerde en kelder nog verder uit te bou.
Waarna sien jy die meeste uit in jou nuwe pos?
Toegang tot van die beste wingerde in die land; rondspeel in die Mentors-kelder, saamwerk met ‘n wonderlike span en die KWV-handelsmerk reg oor die wêreld uitneem.
Wat het jy vinnig geleer, wat jy nie verwag het nie?
Dis ‘n bedryf met baie kompleksitiet waarvan die meeste van die natuur afhanklik is. Die wyn laat hom nie aanjaag nie.
Hoe sien jy jouself as wynmaker?
Dit hang af van die tyd van die jaar! Ek is avontuurlustig in parstyd, lief vir eksperimenteer en versigtig by bottellering. Die wyn het ‘n ander benadering by verskillende tye in sy leeftyd nodig.
Hoe dink jy kan ‘n wynplaas sy beeld onder die publiek verbeter?
Ek glo verskriklik baie aan opleiding van jou personeel. Hulle is jou ambassadeurs en dra jou beeld uit. Dit maak nie saak hoe luuks die ondervinding is nie, uitstekende diens, en aan die ander kant slegte diens, word altyd onthou.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte, ens?
Ek het gelukkig ‘n wonderlike span en basis om op te werk, so vir die onmiddellike toekoms is die fokus om die wingerde te leer ken en voort te bou op wonderlike wyn wat ons hier maak. Daar is altyd ruimte vir groei en verbetering en my rol gaan wees om seker te maak ons wyn is stylisties belyn met dit wat ons verbruikers gelukkig maak.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Die manier hoe die produk ‘n klomp vreemdelinge om ‘n tafel kan saambring.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om eerlik te wees, dink ek die een wat tans voor my deur lê. Dit is ‘n ongelooflike voorreg, maar ook ‘n groot uitdaging.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek voel natuurlik baie bevoorreg oor my aanstelling by KWV. Ek dink ek is baie trots en dankbaar vir die roete wat ek in my loopbaan kon volg – die mense by wie ek kon leer en die plekke wat ek kon besoek.
Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Om seker te maak jy skep ‘n volhoubare produk wat jou verbruiker gelukkig maak. Die boere en plase is onder baie druk uit verskeie oorde; die pryse waarteen ons wyne verkoop word is nie volhoubaar nie, al geniet Suid-Afrika tans baie goeie blootstelling internasionaal. Ek dink ook ons moet ‘n nog groter rol speel in ons plaaslike mark om ‘n wynkultuur gevestig te kry.
Wat is die een ding oor die wynmaakproses wat min mense weet?
Die sap van meeste druiwe is dieselfde wit kleur. Dit is die dopgisting wat rooiwyn sy kleur en smaak gee.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Hulle bly by wat hulle ken en is nie bereid om te eksperimenteer of ‘n kans te vat nie.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Veearts.
Met watter wyn vier jy groot geleenthede in jou lewe?
Suid Afrikaanse Méthode Cap Classic (MCC).
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Daar is maar min waaroor ons regtig beheer het; so moenie stres oor iets wat jy in elk geval nie kan verander nie.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Wine makes every meal an occasion, every table more elegant, every day more civilized. – André Simon
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Peter Sisseck van Dominio de Pingus.