Werner Muller het vanjaar sy vyfde pars by Iona Wyne in die Elginvallei afgehandel. Hy vertel dat hy as student in ’n wynwinkel gewerk het. Daardeur het hy baie wynmakers ontmoet en ook die geleentheid gekry om van die land se topwyne te proe.
Deur: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Hy het by Elsenburg keldertegnologie gaan studeer en toe as assistant-wynmaker by Warwick Landgoed buite Stellenbosch, ’n oes by Domaine des Anges in die Côtes du Ventoux, Frankryk, ’n oes by La Crema Wyne by Russian-rivier, Kalifornië, toe by Vergelegen Wyne op Somerset-Wes en ook by Chamonix Wyne buite Franschhoek gewerk.
Werner is getroud met Jaanre, ’n portefeuljebestuurder by PSG in Hermanus en hul vierbeen-kinders, Humphrey, Winston en Gizi, volg hom oral op die plaas – tensy hulle saam met die bobbejane in die berge dwaal.
Die Mullers woon op die plaas en hy sê die grootste voordeel is dat die huis so lekker naby is. Geen verkeer werk toe nie en selfs somtyds ’n middagslapie oor ete…
Wat wou jy na skool doen?
Ek was al op skool redelik seker ’n kantoorwerk en stilsit is nie vir my bestem nie. Wynmaak bied elke dag nuwe uitdagings en nie een dag is ooit dieselfde nie. Dit hou ’n mens op jou tone en ek dink dit is juis daarom dat dit my so goed pas.
Wou jy altyd wynmaker in Suid-Afrika word of het jy gedroom van oorsee wees?
Ek is bevoorreg dat ek al in verskeie wynstreke gewerk het en ook besoek het. Elke streek het sy eie bekoring, maar my hart lê by Suid-Afrika se uniekheid en beeldskone landskap. Veral hier in Elgin.
Hoe voel jy oor toekennings en verering in jou beroep – doen dit jou en die plaas se beeld goed of dink jy die publiek steur hulle nie daaraan nie?
Toekennings en vererings is goed vir jou handelsmerk en bevestig darem dat jy op die regte pad is.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies?
Goeie resultate in wynkompetisies lei tot goeie blootstelling. Ons is egter nogal kieskeurig oor aan watter wynkompetisies ons wil deelneem, om sodoende die regte mark te teiken.
Hoe voel jy oor Suid-Afrika se beeld in die buiteland?
Ek dink daar is nog baie werk om te doen in die buiteland. Suid-Afrikaanse wyne is dikwels nog baie goedkoop in die buiteland. Die kwaliteit van ons top-produsente se wyne kan maklik meeding met van die res van die wêreld se bestes. Op die oomblik is Suid-Afrikaanse wyne nogal baie in die kollig in die buiteland en ons moet hierdie momentum probeer behou deur as “handelsmerk Suid-Afrika” saam te staan.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Individualiteit. Elkeen is uniek.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Administrasie; dis nie een van my sterk punte nie.
Watter kultivar is jou gunsteling en hoekom?
Chardonnay. Dit is ’n variëteit wat goeie uitdrukking aan terroir gee.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
Ek en Jaanre het op ons wittebrood met ’n lugballon oor die Masai Mara gevlieg. Die hele ervaring is afgerond met Franse sjampanje en ontbyt. Ek het ek die kurk gevang wat die loods geskiet het (en het dit nog steeds). Volgens hom bring dit baie geluk.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Suid-Afrikaners is lief om oor die prys van plaaslike wyne te kla. ’n Mens sal ver in die wêreld moet gaan soek vir dieselfde waarde vir geld as wat ons hier kry.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Nie een dag is ooit dieselfde nie. Die paar weke in parstyd gee jou die geleentheid om uitdrukking te gee aan ‘n hele seisoen.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek is trots op ons span hier by Iona. Ek glo werklik ons werkers in die wingerd en kelder is een van ons grootste bates.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Ons het die voorreg gehad om ’n paar jaar terug Domaine de la Romanée Conti se Batard Montrachet in hul kelder te proe. Die respek en nederigheid waarmee die wynmaker die terroir in die wyn uitgedruk het, was ’n baie spesiale ervaring.
Het jy ’n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ons oudste wingerd op die plaas is rondom Klipkop. Van hier af kan ek amper die hele plaas sien, met die plaasdam aan die een kant en die see in die verte aan die ander kant. Dit is ’n baie spesiale plek.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Daar is nie ’n reg of ’n verkeerd nie. Moenie dat wyn jou intimideer nie.
Wat is die mooiste woorde wat jy al oor wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Aan die einde van ’n lang en moeilike pars: “Die laaste druiwe kom môre in.”
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek was bevoorreg om al saam met ’n paar fantastiese wynmakers (en mense) te werk. Hulle deur staan altyd oop vir ’n bietjie raad. Onder hulle tel Gottfried Mocke, Louis Nel en André van Rensburg. My grootste held is Francois Millet van Comte Georges de Vogüé in Boergondië.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Vertrou jou instink en bestee tyd om jou wingerd te leer ken.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ons eerste oes van die nebbiolo-druiwe wat ons onlangs op Langrug aangeplant het.