Shawn Thomson is die keldermeester by DuToitskloof Wyne (DTK) op Rawsonville, buite Worcester.
Maryke Roberts
Hy is sedert Oktober 1999 by die kelder en het grootgeword op ‘n wingerd-, perske-, appelkoos- en lusernplaas in Montagu. Sy pa, James, het vir 19 jaar op die plaas Locarno geboer en was voorsitter by Rietrivier Wynkelder saam met bestuurder Piet Frick. Shawn het as’t ware in die kelder grootgeword en dis dus nie ‘n verrassing dat hy ‘n Dux-student in keldertegnologie was toe hy op Elsenburg studeer het nie.
Shawn is getroud met sy “pragtige veldblommetjie” Elrine en hulle het twee kinders, Elle (8 jaar) en Lisa (6 jaar). Hy het ‘n getroue hond wat oral saamry op die plaas, ‘n pragtige miniatuur-worshondtefie, genaamd Pepper.
Wat was jou drome op skool?
Ek wou ‘n elektroniese ingenieur word, maar het ná skool by Montagu Wynkelder ‘n parstyd gedoen (onder leiding van Sonnie Malan). Hier het die gogga gebyt, en ek was nooit spyt nie.
Wat is jou gunsteling-wyn en hoekom is dit spesiaal?
Sauvignon blanc. Ek het bitter baie lewensure spandeer om ‘n sukses te maak van DTK Sauvignon Blanc.
Wil jy wynmaker in Suid-Afrika wees of droom jy van oorsee wees?
Ek is te lief vir Suid-Afrika en sy mense. Ek het wel parstye in Frankryk en Napa, vir ondervinding gedoen.
Hoe voel jy oor die plaas se beeld onder die publiek?
Ek is geweldig trots op wat ons as ‘n groot span bereik het en steeds bereik by DTK. DTK is al vir 16 jaar deel van my lewe. Ek koppel my naam aan die handelsmerk en sal dit ten alle koste beskerm.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Om al die druiwe wat jy ontvang, te omskep in die beste moontlike wyn. Dit verg harde werk, maar dis baie belonend. Omring jouself met ‘n goeie span, dis baie belangrik.
Hoe voel jy oor wynkompetisies?
Wynkompetisies is belangrik, maar soms word te veel waarde daaraan gekoppel. Die geheim is dat mense jou wyn werklik moet geniet, die handelsmerk moet gevestig wees en hy moet opgepas word. Kwaliteit altyd, maar altyd bo die prys – baie belangrik. Luister na die mark en luister na mense wat jou wyn geniet.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Elke wyn is absoluut uniek, die vrug van elke kultivar, en die manier waarop dit berei is. Min dinge in die lewe het unieke eienskappe soos wyn.
Wanneer geniet jy jou wyn die meeste?
Na ‘n lang dag, saans op die stoep saam met my wonderlike vrou, Elrine. Ook lekker as die son sak in die middel van die Skedelkus, ná 600 km se grondpad, terwyl jy uitkyk oor die pragtige see.
Wat is die uitdagings om in 2016 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Ek sien ‘n goeie oes vir 2016, water is egter skaars op die oomblik en ons het dringend reën nodig. As ons nie reën kry nie, kan die maak van 2016-rooiwyne ‘n goeie uitdaging wees.
Watter leemte sien jy in die manier hoe wyn aan verbruikers bemark word?
Ek dink daar moet veel meer moeite gedoen word. Ons span by DTK doen dit al vir baie jare, spandeer tyd met gaste & kliënte, leer en luister na behoeftes. Maak die wynstyl iets wat mense wil drink.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met pasmaats met kos?
Maak kos waarvan jy persoonlik hou, gebruik wyn in die kos en geniet wyn terwyl jy kosmaak, nie net ná die tyd aan tafel nie.
Wat is die een ding wat min mense oor die wynmaakproses weet?
Wyn is ‘n lewendige ding. Hy het aandag nodig; sommer baie aandag.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Stel jouself oop om nuwe dinge te probeer, moenie vashaak by iets nie.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die mense waarmee ek saamwerk, is absoluut puik! Die satisfaksie van ‘n suksesvolle seisoen en die liefde vir die natuur.
Het jy ‘n gunsteling-hoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ek hou van die rivier. Die klank van die water oor die klippe maak ´n mens se kop skoon en oop.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Kwaliteit en waarde vir geld. Daar is ‘n magdom verskillende style en pryspunte.
Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunsteling-bestemming?
Ek reis gereeld, maar is ook baie gebonde aan die kelder self. Ek is effe van ‘n perfeksionis en hou daarvan dat dinge reg moet gebeur in die kelder. Daar is een manier en dit is die regte manier. Ek hou daarvan om die Ooskus te doen saam met my goeie vriend, Bernard Kotzé. Ons is ewe lank werksaam by DTK en het dieselfde liefde vir die handelsmerk. ‘n Proe saam met Bernard maak gewoonlik die aand baie laat. Ek het goeie herinneringe aan die Kokkedoor-stel in Prins Albert, waar ons die wynborg was. Dit was lekker mense en ons het baie gelag en laatnag swem-stories in die Swartbergpas vertel.
Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Moenie bang wees nie, probeer, probeer, probeer. Vestig jou radar op kwaliteit teen ‘n regverdige prys .
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Hanteer die vrug met respek, moenie te veel inmeng nie en jy sal beloon en regverdig behandel word .
Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek het baie respek vir Charles Hopkins (wynmaker) en Leon Dippenaar (wingerboukundige). Moeilike vrae sal hier ‘n antwoord vind.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Luister, luister, luister – praat minder en luister na wat ander te sê het.
SOURCES
verskaf