Rolf Zeitvogel is die keldermeester en besturende direkteur van die historiese wynplaas Blaauwklippen buite Stellenbosch.
Maryke Roberts
Nadat die Duits-gebore Rolf sy studies voltooi het, wou hy internasionale wynmaak-ervaring opdoen en het op Suid-Afrika besluit. Hy het onder meer by Bergkelder, KWV en Buitenverwachting gewerk, voor hy teruggekeer het Duitsland toe. Daar het hy vir een van die land se bekendste wynkelders, Capaia, gewerk.
Maar Afrika het hard geroep en hy keer in 2002 terug hierheen. Hy word gereken as Suid-Afrika se voorste kenner van Zinfandel-druiwe. Hy hou van nuwe uitdagings en het onder meer Suid-Afrika se eerste wit Zinfandel gemaak; toe die kontinent se eerste Zinfandel MCC, Diva, die lig laat sien en nou maak Rolf ook jenewer. Die drie geure in die Triple Three-reeks, Citrus Infusion, African Botanicals en 100% Juniper Berry Gin, is pas bekendgestel.
Blaauwklippen is ‘n geliefde kuierplek vir plaaslike inwoners sowel as toeriste en fokus op geleenthede waar families kan gaan kuier, soos die gewilde Sondagmark.
Rolf is getroud met Regina en hulle het twee kinders, Marie-Louise en Robin.
1. Hoekom het jy ná jou studies op Suid-Afrika besluit en wat het jy hier geleer wat jou só beindruk het dat jy teruggekom het?
Suid-Afrika het baie om te bied. Dis ‘n land met baie geleenthede, jy moet dit vir jou en waarnatoe jy op pad is laat werk.
2. Hoe het jy by Blaauwklippen beland?
Blaauwklippen het my genader toe hulle destyds herstrukturering gedoen het. Ek het by Blaauwklippen as ‘n wynmaker begin en het later die posisie as besturende direkteur beklee. Ek is tans nog baie betrokke by die wynmaakproses. Die plaas se geskiedenis, Zinfandel en die ongelooflike ligging, het my na die plaas aangetrek.
3. Hoe het dit gevoel om die pos by Blaauwklippen te kry?
Ek het die kontrak geteken sonder om te sien hoe die kelder lyk. Dit was dus ‘n eenmalige geleentheid wat ek nie wou misloop nie.
4. Waar kom jou belangstelling in wynmaak vandaan?
Ek is die derde generasie wynmakers in ons familie. My pa sowel as my oupas was wynmakers en ek het dus daarmee grootgeword. Dit is sterk in ons familie as ‘n besigheids- en beroepskeuse.
5. Hoe verskil die uitdagings van jenewer maak van dié van wynmaak en waar het jy ondervinding in distillering opgedoen?
Verskillende klimate, kultivars en kulture het dit by tye uitdagend gemaak, maar ek het ‘n groot liefde daarvoor! Distellering is omtrent in elke tweede huishouding in die Swartwoud in Duitsland deel van die alledaagse roetine, dus was die basiese kennis reeds daar. Ek leer egter nog steeds elke dag by my vennoot, wat my meer ervaring in die gebied gee.
6. Hoekom het julle op jenewer besluit?
Dit is die volgende dimensie van wynmaak.
7. Wat was jou drome op skool oor jou loopbaan en hoeveel drome het intussen waar geword?
My heel eerste droom was om die familiebesigheid oor te neem, maar dis nie deurgevoer nie. Om Blaauwklippen te bestuur, voel in baie opsigte of dit my eie besigheid is, alhoewel ek weet dat ek gereeld aan die bestuur in Duitsland moet rapporteer. Blaauwklippen lê my baie ná aan die hart, daarom voel dit soos my eie besigheid. Wat die distillering betref, het ons so vier jaar gelede saam met vennote daarmee begin en dit is vandag tot ‘n mate my eie besigheid, dus is my droom tog uiteindelik bewaarheid.
8. Wat is jou gevoel oor wynkompetisies en neem julle gereeld deel?
Vir my is dit nie die heel belangsrikste nie. Ek glo die wyn fynproewer sal self proe wat vir hom lekker is of nie, dis tog die belangrikste.
9. Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Wyn is daar om gevier te word, om geniet te word, dis amper soos ‘n geskenk wat tussen mense gedeel word. Dis ‘n fantastiese maat saam met goeie kos. Dis sielskos, en dis vir my so lekker om elke dag nuwe wyne te proe en te leer ken.
10. Wat was tot dusver jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die “Zinfandel” wat ek ook die “Diva” noem. Dis temperamenteel, charismaties, uitdagend en wonderlik om te ervaar. Elke oes verskil ook jaarliks. Die omstandighede verander aanhoudend. Die mark verander ook en die verbruikers is baie keer lus vir iets nuuts, dit bied uitdagings van hul eie.
11. Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Terroir is nie die enigste element wat klimaat, verwerking van grond en die reën beïnvloed nie. Dis belangrik om te onthou dat die plaaswerkers se hande en die versigtiheid waarmee hulle te werk gaan, ‘n groot verskil maak.
12. Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Verbruikers kies wyn versigtig gegrond op die handelsnaam, prys, kwaliteit en die “voorkoms”. Blaauwklippen fokus op emosies en innovasie en ons beoog om “’n oomblik van unieke ervaring” te skep.
13. As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
‘n Sjef. Ek is mal oor kos en geure daarby. Ek hou daarvan om skeppend te wees.
14. Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Ek hou van Duitse Riesling. Ek het daarmee grootgeword. In SA noem hulle my Mnr. Z vir Zinfandel – ja ek is mal oor Zinfandel!
15. Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
‘n Stappie af en toe op die plaas self is ‘n amper soos ‘n goeie vriend vir my. Teen sonsondergang is dit heerlik om by die herehuis te gaan sit en my te verkyk aan die Stellenbosse berg en haar prag.
16. Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Dis so eenvoudig soos dit: of jy hou daarvan, of jou hou nie daarvan nie.
17. Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
My pa, mnr O. Zeitvogel, H. Kirschbaum, Tibor Gaul en Wolfgang Schupp.
18. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ek sal graag meer wynbottels met goeie geselskap leegmaak en minder tyd spandeer om wynbottels vol te maak!
SOURCES
verskaf
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.