Dis nie aldag wat jy twee wynmakers in een huis kry nie, maar Rianie en Louis Strydom doen dit baie suksesvol. Rianie vier vanjaar haar tiende jaar as die wynmaker by Haskell Vineyards en Louis is wynmaker by Ernie Els Wyne.
Maryke Roberts
Rianie vertel dat sy al op 14 geweet het sy gaan eendag wyn maak. Sy het aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en geniet die lewe op hul plaas, Strydom Vineyards net buite Stellenbosch saam met haar en Louis se kinders, Jean-Louis, Jacq en Danièle. Soggens ry Rianie Haskell toe en Louis Ernie Els toe. Vakansietye gaan hou die gesin graag vakansie in Namibië en Arniston. George is ook hoog op hul ranglys. Die Strydoms het vyf hondekinders, Milo, Whitey, Zinnie, Vienna en Simi.
Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die genot en satisfaksie om te proe hoe jou insette ’n wyn kon ontwikkel tot iets wat baie mense kan geniet.
Wat was jou drome toe jy daar op Haskell begin het en hoe ver het jy gevorder met alles wat jy beplan het?
Toe ek begin het, was ek seker maar soos elke eerstejaar: jonk, naïef, opgewonde en onseker wat dit alles sou behels. Ek wou beslis my graad voltooi, maak nie saak hoe moeilik dit soms was nie. As ek terugdink, moet ek erken wynmaakstudies is alles wat ek gedroom het en nog baie meer. Oor die afgelope 22 jaar het ek baie plekke besoek, baie mense ontmoet en daardeur is baie geleenthede geskep. Alles was uiteindelik baie opwindender as wat ek in my wildste drome kon droom en ek is dankbaar dat ek die regte keuse gemaak het.
Wat is jou gevoel oor wynkompetisies – tydmors of noodsaaklik?
Daar is definitief ’n plek vir hulle.
Wat was sover jou grootste hoogtepunt as wynmaker?
Om gekies te word as lid van die Kaapse Wynmakersgilde en ook toe ons in 2009 die drienasie-trofee in Australië met Shiraz teen Australië en Nieu-Seeland gewen het
Watter leemte sien jy in die manier waarop wyn aan verbruikers bemark word?
Uit ’n boetiekkelder-oogpunt is dit moeilik om wyne te maak wat in die smaak van die grootste gros verbruikers val. Die wynkenners wil droë wyne hê, maar die grootste gedeelte mense wat wyn drink, wil effens soeter wyne drink. Beskrywings op die rug-etikette moet dalk meer leefstyl-georiënteerd wees in plaas van beskrywings van die plaas. Bemarking van wyn moet minder intimiderend wees. Partykeer kry ek die idee mense dink hulle is nie goed genoeg om wyn te drink nie.
Dink jy verbruikers is oningelig oor die verskillende variëteite, style en so meer?
Daar is baie verbruikers wat oningelig is, maar net soveel wat wel ingelig is. Dis hoekom dit ‘n konstante noodsaaklikheid bly dat ons proeë aanbied en feeste bywoon om inligting oor te dra.
Het jy ’n voorkeur wanneer jy wyn drink – verkies jy wit, rooi of MCC?
Elkeen het sy plek. Dit hang af waar ons in die jaar is, maar ek drink oor die algemeen rooiwyn.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
So drie jaar terug het ons ’n lieflike bottel rooiwyn in Etosha gedrink, met die son wat in die agtergrond sak en die olifante wat in die voorgrond baljaar. Dit was absoluut fantasties. Stil, rustig en ongelooflik spesiaal.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
A. Met vonkelwyn moet glase heeltemal stofvry wees en glase moet skuins gehou word as jy skink; wyn moet teen die regte temperatuur bedien word;
B. In ’n donker kas of onder die trap is nie die regte plek nie;
C. Op die ou end is die kos waarmee jy jou wyn geniet baie persoonlik. ’n Goeie voorbeeld van foute is egter dat droë vonkelwyn nie regtig by soet nagereg pas nie.
Wat is vir jou die een enkele faktor wat ’n sekere wyn ’n wenner maak?
Balans tussen tanniene, suur en “soetheid”. As dit reg is, behoort die wyn ’n lang nasmaak te hê, wat dit perfek maak.
Wat is die een ding van die wynmaakproses wat min mense weet?
Om wyn deur appelmelksuurgisting te kry, is nie altyd kinderspeletjies nie.
Wat is die een groot wanpersepsie oor wyn wat algemeen as feit voorgehou word?
Dat jy witwyn saam met witvleis moet drink en rooiwyn saam met rooivleis.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Om suksesvol my eie etiket in die mark te kry.
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Seker maar iets kreatiefs. Ek hou daarvan om ou goed reg te maak.
Wat is jou gunstelingwyn en hoekom is dit spesiaal?
Chardonnay van Puligny Montrachet in Frankryk. Ek kan natuurlik nie bekostig om dit gereeld te drink nie, maar my eerste parsseisoen oorsee was in hierdie area en ek dink dit het maar net vasgesteek.
Hoekom is SA wyne volgens jou die beste in die wêreld?
Elke land het sy eie seleksie van beste wyne en ek dink ons moet dit gebruik om van mekaar te leer en nie noodwendig presies dieselfde probeer maak nie. SA het op die oomblik die beste gehalte in die wêreld vir die prys waarteen hulle dit aankoop, wat verkeerd is. As ons nie die pryse van die wyne op die vlak wat betaal word vir die bestes uit Australië, Frankryk en Amerika kan kry nie, gaan ons dalk nooit regtig ernstig opgeneem word nie, wat regtig jammer sal wees.
Reis jy baie om jou wyn bekend te stel en indien wel, waar is jou gunstelingbestemming?
Vir klein kelders soos ons is dit belangrik om die persoonlike aspek baie te gebruik. Ek het al ’n paar lande besoek, en Stockholm is een van my gunstelingstede.
SOURCES
Verskaf