Rianco van Rooyen is die senior wynmaker van Orange River Cellars se Keimoes Kelder in die Noord-Kaap.
Maryke Roberts
Hy sou aanvanklik Veekunde aan die Stellenbosch Universiteit studeer het, maar vertel dat sy kamermaat gelukkig Wingerd- en Wynkunde geswot het en toe verander Rianco sy keuse. Hy glo hy het per ongeluk in die beroep beland. Hy het in 2007 ‘n advertensie vir junior wynmaker raakgelees en is aangestel. Hy vier volgende jaar sy tiende jaar daar.
Hy het voor sy aanstelling ook by Delheim, Dry Creek Vineyards in Sonoma en twee parstye by Boschendal gewerk. Vir ‘n seun van Natal was wynmaak ‘n interessante bedryf. Hy vertel dat hoe meer hy begin leer het, hoe meer het hy besef dat ongelooflike klein variasies in tegnieke wesenlike verskille in die wyn kan veroorsaak. Dis vir hom interessant hoe verskillende wynmakers met dieselfde toerusting en druiwe heeltemal uiteenlopende wyne kan maak.
1. Kom jy uit ‘n wynmaak-familie?
Nee. Ons is melkboere uit KwaZulu-Natal
2. Van watter beroep het jy as tiener gedroom?
Ek wou eintlik ‘n driekamp-atleet wees. As ek klaar daarmee was, wou ek gaan boer. Wel, nou sit ek by ‘n wynkelder in die Noord-Kaap. Ek dink dis veilig om te sê ek het nie geëindig waar ek gedink het ek gaan nie!
3. Wat dink jy is die publiek se gevoel jeens jul kelder?
Dit het beslis verbeter, maar almal herken ons steeds as produseerders van uitstekende gefortifiseerde wyne. Die publiek moet gerus ons Colombar, Straw Wine en Lyra-reeks rooiwyne probeer.
4. Wynkompetisies – noodsaaklik of onnodig en hoe baat julle daarby?
Ek dink dit is ‘n goeie ding om jouself aan ander in die bedryf te meet. Daar is verskillende kompetisies vir verskillende style. Orange River Cellars neem gereeld deel en ek dink dit is die rede hoekom ons kwaliteit toegeneem het. Daar moet egter gewaak word teen sekere kompetisies wat slegs wil geld maak uit plakkerverkope: diegene wie se plakker-pryslys die inskrywingsvorm vergesel.
5. Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Hoe dit met tyd verander. Of dit tyd in ‘n vat of tenk is of selfs met bottel-veroudering. Die interessantste wyne verander selfs in jou glas terwyl jy drink.
6. Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
As jy nie in jou wyn glo nie, hoe moet ander mense? Wees doelgerig en gefokus.
7. Het jy ‘n gunstelinghoekie op die plaas waarheen jy gaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ons is ‘n koöperasie, so ons besit nie ons eie wingerde nie, maar ek bly op ‘n plaas tussen wingerde. So ek stof gereeld die tekkies af en draf terwyl ek dink.
8. Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die weer hier in noorde van die land kan ‘n groot rol speel. Die vloede van ‘n paar jaar terug kom na vore as een van my moeilikste oesjare. Ook: dit gaan lankal nie net oor wynmaak nie. Daar is nou soveel ander fasette soos gesondheid en veiligheid, die voldoening aan internasionale standaarde, skakel met kliënte en ander, wat ‘n mens lang tye buite die kelder kan hou.
9. Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Om deel te wees van ‘n span wat gehelp het om die beeld van Orange River Cellars onder die publiek te verander. En ons is nog lank nie klaar nie!
10. Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die a. gooi; b. stoor of berging; c. pasmaats met kos van wyn?
Die meeste mense stoor nie hul wyn korrek nie. Dit word gewoonlik te warm gestoor of sommer in die kattebak van ‘n motor gehou. En dan verstaan niemand waarom dit nie dieselfde proe as by die kelder nie. Wynkelders en bemarkers moet dit egter as ‘n geleentheid sien om die publiek ‘n bietjie touwys te maak. Wyn moet bemark word op ‘n manier waarmee die verbruiker kan assosieer. Daar word te veel gebruik gemaak van hoogdrawende taal as dit by wyn kom. En ‘n wyn mag as “lekker” beskryf word!
11. Deel een geheim van die wynmaakproses?
Daar is ook maar geluk betrokke. As ‘n wynmaker kan jy elke jaar alles dieselfde doen, maar as jou verkoeling as gevolg van ‘n onderbreking vir ‘n paar uur nie werk nie, gaan dit jou kwaliteit beïnvloed.
12. Wat kan SA wyndrinkers doen wat wynmakers minder sal frustreer?
Ophou om wyn net vir spesiale geleenthede te hou. ‘n Koue glasie Colombar ná werk is baie bevredigender as ‘n bier.
13. Wat geniet jy die meeste van jou werk as wynmaker?
Die geleenthede om te reis en met mense te skakel. En in die bedryf hou ´n mens nooit op met leer nie.
14. Watter wyn laat jou hart vinniger klop?
Ek was verlede jaar in Portugal en daar was dit nie die duurste wyn wat my beïndruk het nie, maar eerder die verfrissende Vinho Verde-wyne. Die aromas, varsheid…. Ek kan vir ‘n lang tyd oor hulle praat. ´n Mens kan letterlik bottels opdrink en steeds nie die vleis verbrand nie!
15. Watter wenke het jy vir mense wat bang is om met nuwe wyne te eksperimenteer?
Moenie bang wees nie! As jy dit nie gaan doen nie, wie gaan?
16. Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Die natuur besluit watter tipe wyn gemaak gaan word. Moenie ‘n wyn probeer maak wat die druiwe nie kan maak nie.
17. Wie is jou wynmaak-helde en na wie gaan jy vir raad?
Ek het nie enige helde nie, maar ‘n paar van my vriende maak ongelooflike wyn in die Swartland. Schalk Opperman by Lammershoek is besig met ongelooflike dinge. Gelukkig was hy my ‘kammie’ op universiteit, só ons proe gereeld mekaar se wyn.
18. Waarvan droom jy vir die toekoms?
Ons gaan nog vir die wynwêreld wys hoe kompleks ‘n Colombar kan wees.
SOURCES
verskaf