Jy kan nie in Suid-Afrika praat van Methode Cap Classique sonder om in dieselfde asem Pieter Ferreira én Graham Beck se name te noem nie. Pieter het nie verniet die bynaam “Bubbles” meer as ’n dekade gelede by sy goeie vriend, Melvyn Minnaar, gekry nie. Vandag is hy selfs oorsee bekend as Bubbles Ferreira en hy dra dié naam met trots.
Deur Maryke Roberts
Foto: verskaf
Pieter sê hy hy het nie soseer in die wynbedryf beland nie, maar eerder in ’n wyntenk geland en leer swem. Hy sê dit was blote geluk dat hy in 1984 by Achim von Arnim – SA se eerste MCC-spesialis – aangesluit het en nooit weer teruggekyk het nie.
Graham Beck Landgoed buite Robertson het vanjaar wegbeweeg van stilwyne en maak voortaan net MCC. Pieter is sedert 1990 deel van die Graham Beck-familie en vertel dat die plaas se besluit om vanjaar formeel oor te gaan na net die produksie van MCC eintlik ’n maklike besluit was, omdat dit die oorspronklike visie van oorlede Graham Beck was. Destyds (1990) was die kelder reeds ontwerp om doelgerig te wees vir Cap Classique. Hy sê natuurlik was die oorgangsperiode nie so maklik nie met heelwat emosies en uitdagings, maar die finale besluit is met die familie en die raad van trustees, nogal in Bordeaux, Frankryk, geneem.
Pieter se pa was in die wynbedryf en behalwe dat hy letterlik met wyn grootgeword het, was hy ook bevoorreg om van kleins af sy ‘groot’ mentor Jan Boland Coetzee te leer ken. Dit was nog in die dae toe hy by Kanonkop was en Pieter gedurende sy af naweke by die Offisierskool op Oudtshoorn, by hulle op die plaas gekuier het. Pieter sê hy glo die saadjie is toe al gesaai.
Is die druk groot omdat julle hierdie omwenteling gemaak het?
Ek glo my verantwoordelikhede is heelwat meer en daarmee saam kom druk, omdat ons nou net MCC maak. Daar is al verskeie kere genoem dat ons MCC’s in die komende paar jaar ten minste gaan verdubbel en natuurlik plaas dit baie meer druk op my en my wonderlike span. In dieselfde asem moet ek sê dat ons baie bly is dat ons in Robertson van al die side-shows ontslae geraak het en nou meer ruimte het – letterlik en figuurlik – om op MCC te fokus.
Hoe verskil jou pligte as MCC-wynmaker van stilwynmaker?
Redelik baie en noudat ek gesien word as spesialis-wynmaker, is die pligte en verantwoordelikheid uiteenlopend. ’n Mens moet onthou dat daar soveel fasette en stappe in die produksie van MCC is.
Julle het tans sewe MCC’s in jul reeks. Voel jy daar is ’n gaping in dié reeks en gaan jy dit uitbrei?
Ons het ’n wonderlike reeks MCC’s en op dié stadium is dit baie volhoubaar en volledig. Ek persoonlik voel ons is een van die leiers in die MCC-mark. In terme van eksperimente en nuwe produk-ontwikkeling, is ons gedurig besig om iets te ondersoek of te toets wat borrels in het. As ek so na ons MCC-reeks kyk, is daar verseker gapings wat in die toekoms vir nuwe MCC’s sal sorg…. Hou hierdie ruimte dop…
Hoekom glo jy is SA se MCC beter as Franse sjampanje?
Op die internasionale front is ons is verseker die beter alternatief vir Franse sjampanje! Ons is baie gelukkig en bederf hier in SA as gevolg van ons weersomstandighede. Ons weerpatrone is baie meer stabiel en gee ons die geleentheid om elke jaar ’n oesjaar te verklaar. Ons het ’n geheime wapen: sonskyn. Ons MCC’s voel net sagter en het baie mooi vrug en beter balans na 15 maande teenoor sjampanje wat eers ná drie jaar balans kry!
Watter invloed het die tipe glas waaruit jy jou MCC drink op die borrels in jou glas en hoekom is dit belangrik?
Dis ’n hele storie op sy eie. Die glas het verseker ’n groot invloed oor hoe die MCC (vonkel) vertoon en hoe dit op die tong ontpop. Die visuele impak is een ding, maar die geurprofiel word verseker beïnvloed met die spesifieke glas wat jy gebruik. Die nuutste navorsing toon dat die tulpglas baie beter is as die fluit.
Wat is die algemeenste fout wat mense maak as hulle van MCC praat en hoe verduidelik jy die onderskeid tussen vonkelwyn en MCC?
Die heel eerste en verseker die algemeenste fout wat mense maak is dat hulle verwys na sjampanje as hulle drink. Dit is ’n groot taboe! Champagne kom net van Frankryk af. Ek glo dat ons hier in SA al baie ver gevorder het om die verskil tussen vonkelwyn en MCC te verstaan. Generiese proeë van Cap Classique en die feeste en aanbiedings help beslis om die onderskeid uit te wys. Prys speel ook ’n rol om MCC uit te wys.
Waar dink jy lê SA wynbedryf se toekoms – in ’n spesifieke styl/variëteit?
Ek glo dit lê by spesialisasie. Wynmakers moet fokus op dit wat hulle die beste kan doen en natuurlik moet dit gepaard gaan met die wingerd-potensiaal. Daar is heelwat interessante variëteite wat kop begin uitsteek en ons kan uitsien na ’n baie opwindende periode in die wynbedryf.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van MCC?
Die borrel. Die borrel is waarom alles draai…
Vertel ons van jou gesin
Ek het ’n wonderlike vrou, Ann, wat my al jare bystaan en ondersteun. Sy was vir 19 jaar by Graham Beck en tans geniet sy meer ruimte en konsulteer hier en daar in die wynbedryf en is ook betrokke met die Somelliers Selection-wynkompetisie. Ons het ’n seun, William, wat ná sy graad in bemarking en kommunikasie vryskutwerk in Kaapstad doen. Ons dogter, Kate, is tans besig met ’n fotografiekursus op Stellenbosch. Ons woon in die pragskone Franschhoek.
Wat is die beste raad wat jy al as wynmaker ontvang het?
Daar is verskeie; dis so bietjie soos ewolusie, maar beslis twee wat bly vasteek: Knowledge is power en Act as if there is no tomorrow.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die strewe na die perfekte borrel! Dit bly nog steeds vir my ’n buitegewone en ’n opwindende reis/uitdaging.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Verskeie toekennings en geleenthede wat na my kant toe gekom het, maak my baie trots en die wete dat dit tot die MCC-kategorie bydra.
Wat frustreer jou van SA wyndrinkers?
Hulle drink nie genoeg kwaliteit nie.
Waarheen gaan jy vir raad as jy nuwe idees wil beproef?
Koop die beste Franse sjampanje en gaan sit in ’n hoekie – alleen! Anders gaan ek, as tyd dit toelaat, na Champagne in Frankryk om inspirasie daar te vind – dit is baie goeie sielskos!
As jy nie wynmaker geword het nie, watter ander beroep sou jy graag wou volg?
Ek sou graag meer wou leer oor wat “familie-tyd” is.
Wat is jou gunsteling-MCC en hoekom is dit spesiaal?
Die een in my glas. Vertrou jou smaak, dit is deel van jou eie sukses. Jy weet wanneer dit reg val op jou tong. Maar myne is die Graham Beck Blanc de Blancs – 100% Chardonnay. Ek dink dit is die tekstuur en geurprofiel wat dit spesiaal maak.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Geduld!
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom MCC en die wynmaakproses gehoor het?
Die ‘pop’-geluid as jy jou gunsteling-MCC oopmaak.
Wat is jou lewensleuse?
In search of the perfect bubble.
Waarvan droom jy vir die toekoms?
Die dag wat ek my eie reeks MCC’s vrystel!